“God het my blindheid genees”

0
34
Wickes_Nortje.jpg

Wickes Nortje (30), tegnikus en redigeerder by Kruiskyk, was vir 12 jaar blind ... tot God hom genees het.

Dis tjoepstil in die motor terwyl ek (6), Ma en Pa die lang pad Pretoria toe aandurf. Dis die langste, ergste rit van my lewe. Honderde gedagtes maal deur my kop. “Hoekom is ek blind? Hoekom is my ma en pa nie meer lief vir my nie? Hoekom het die Here my weggegooi? Wat het ek verkeerd gedoen?” Ek sou veel eerder by my ouers in Rustenburg wou bly (waarheen my pa kort tevore as pastoor beroep is), maar ek moet met graad 1 begin – en die enigste skool wat my aansoek aanvaar het, is ’n skool vir gesiggestremdes in Pretoria. Nou moet ek álles waarvoor ek lief is, agterlaat en koshuis toe gaan!

By die skool se hek klim ek voel-voel uit die motor en neem al die geluide en reuke om my in. Ek laat my hand al langs die skurwe muur afgly terwyl ons stap. Honderd treë reguit af in die paadjie. Dan regs vir twintig treë tot by die deur. Nog tien treë tot by ontvangs. Dit is al tweede natuur om in ’n vreemde omgewing my treë te tel.
Terwyl ons stap, hoor ek nog Pa se woorde van gisteraand in my kop. “Here, dis nog nie te laat nie,” het hy hoopvol gebid. Ek het ook my ogies styf toegeknyp en in my hart saamgebid. Eintlik gesmeek. “Liewe Jesus, asseblief! Maak my oë gesond. Help my om te kan sien.”
Toe my pa klaar gebid het, vra hy met groot afwagting: “Lyk iets vir jou anders? Kan jy sien?”
Ek moes hom weereens teleurstel. “Nee, ek kan nie eers vir Pappa sien nie.”

Ons het met swaar harte in die bed geklim. Ek weet nie vir wie dit die ergste was nie. Vir my ouers, wat moes aanvaar dat hulle jongste kind, ondanks talle gebede, steeds blind was en nou na ’n spesiale skool toe moes gaan. Of vir my, wat gevoel het asof niemand my meer wil hê nie. Nie my ma nie. Nie my pa nie. Ook nie die Here nie. Hy wil my dan nie gesond maak nie! Hoekom nie?

Ek is blind gebore, maar niemand het dit destyds agtergekom nie. Dalk was dit omdat my ma-hulle dit nie wóú weet nie. Of dalk het ek te maklik daarby aangepas. Ek het gedink almal sien in ’n waas. Dis seker maar hoe die wêreld lyk.

[pagebreak] Ek het my ma en pa aan hulle reuk en stemme herken. As my ma die dag ander parfuum gedra het, moes ek eers haar stem hoor om te weet dis sy.
As die TV aan was, het ek omtrent bo-op die stel gesit. Kuiergaste sou gewoonlik iets kwytraak soos: “Hy’s ’n regterbreinkind. Hy wil déél wees van die prentjies.”
Ek onthou ook die een spesifieke dag in die kleuterskool, toe niemand nog van my gebrek geweet het nie. Ons moes die skepping teken, en my prentjie was een groot gekrabbel. Hoe moes ek nou weet hoe die “skepping” lyk? Alles in my wêreld was vaag en donker, en as die lig wel van agter af op iets geskyn het, was dit net ’n silhoeët.

Op vyf het ek ’n karkatjie aan my oog ontwikkel en dit moes geopereer word. Dis tóé eers dat die dokters agterkom ek is al die tyd blind! Die nuus was ’n enorme slag vir my ouers en hulle het onverpoos begin bid. My pa-hulle het gebid. Ander pastore het kom bid. Ek is aangery na predikers in ander dorpe sodat húlle vir my kon bid.
Ek het self ook oor en oor vir Jesus gevra om my oë reg te maak. Hy het dan die hele aarde gemaak. Hy het mý gemaak. Wat is oë nou om reg te maak? Dis mos niks!
Maar nie een van die gebede het skynbaar “gewerk” nie. Jaarin en jaaruit het daar net mooi niks gebeur nie. My pa kon dit nie verstaan nie. Hy is dan in die bediening. Hy glo in die bloed van Jesus. Hy weet die “prys” is klaar betaal. Hoekom kan ek dan nog steeds nie sien nie? Dis ’n vraag wat my ook klaar gemaak het. Ek het naderhand begin glo genesing is net vir ander mense bedoel. Daar word gebid en dan kan die ou langs my sy krukke weggooi. ’n Ander een juig dat hy kan hoor. Net ek bly presies dieselfde.

Toe ek twaalf was, het ek en my groot vriend, Piet Oosthuizen, weer een Sondag in die kerk gesit. My pa het gepreek en dié dag almal vorentoe geroep wat gebed nodig gehad het. Dit was kort voor die eindeksamen, en ek het gedink hy bedoel almal wat leerprobleme gehad het, moes vorentoe kom. Nie ek nie. Ek het saggies in my binneste gebid: “Here, hierdie gaan die heel laaste keer wees dat ek gaan vra dat U my blindheid wegvat. As dit nie vándag werk nie, dan’s dit verby. Dan sal ek U nooit weer hieroor pla nie.”

[pagebreak] Ek het Piet langs my in die ribbes gepomp. “Kom saam met my vorentoe. Ek moet nog een laaste keer probeer.” Ek het my oë toegemaak en in my hart gesmeek dat dit hierdie keer anders moes wees.Toe maak ek my oë oop…en ek was steeds blind! Ek was geskok. “Goed, Here, that’s it! Dis nou maar so. Ek gaan nóóit weer vra nie.”

Ek is met ’n loodswaar hart terug skool toe. Platgeslaan. Sonder hoop of ’n toekomsvisie. Twee dae later, op die Woensdag, was dit weer “oogtoets-dag” by die skool. Op dié dag druk ek, soos altyd, my kop teen die skerm van die groot, wit toetsmasjien. “Lyk enigiets vir jou anders?” vra die dokter, sommer uit gewoonte. “Kan jy enigiets op die skerm sien?”

“JA…ek dink…ek KAN!” wil ek dit uitskree, maar ek antwoord verskrik-verward: “Jaaa? Ek kan iets sien, maar ek weet nie wat dit is nie.” Ek kon nog nooit enigiets op dié skermpie sien nie, maar vandag sien ek hoe ’n klein rooi huisie van posisie verander. Dan is dit bo in die hoek. Dan links onder. Dan regs bo. En dan weer in die middel. Ek vertel vir die dokter wat ek sien, en skielik lyk hy net so stomverbaas. Die res van die dag is ’n warboel van reëlings en emosies. Die skool bel my ouers en sê hulle het ’n fout gemaak. “Wickes kan sien! Julle kan hom kom haal.”

Voor by ontvangs sien ek hoe ’n man en vrou in die paadjie afgestap kom. Eers toe ek hulle hoor praat, besef ek dis Pa en Ma! “Mamma het dan kolletjies op Mamma se gesig,” blaker ek dit uit toe ek vir die eerste keer haar sproete sien. Ek is vas oortuig sy is die mooiste vrou in die hele wêreld.

Wickes.jpgMy pa roep uit: “Wickes kan sien!” terwyl die kinders nuuskierig by die koshuisvensters uithang. Ons drie omhels mekaar asof dit ons heel eerste ontmoeting is. In baie opsigte is dit. Daardie dag gaan ’n splinternuwe wêreld vir my oop, een waarvoor ek steeds élke dag dankie sê. Dankie vir die wolke, die son, die bome, diere, blomme, reën, mense. Om te kan sien is nog na al hierdie jare steeds ’n ongelooflike wow vir my. Ek is so bevoorreg!

My ma wou eendag weet: “Hoekom dra Wickes steeds ’n bril, Here? U doen mos nie halwe werk nie?” Sy antwoord: “Die Israeliete moes ’n monument oprig as herinnering toe hulle deur die Jordaanrivier getrek het. Wickes se bril is sý monument.” Inderdaad. Dis my daaglikse herinnering dat God my blindheid genees het.
My groot boodskap is dít: Alles gaan oor God se tyd, want dís die enigste régte tyd. Dit gaan nie oor die “regte” mense, die “regte” atmosfeer, of selfs hoe hard jy kan bid of glo op daardie tydstip nie. Wanneer dit “God se tyd” is, kan níks Hom keer nie.

Ek besef ook ons kry nie altyd waarvoor ons vra nie, maar ons kan God in sy besluitneming vertrou. Hy kén die groter prentjie. Ons moet ook nooit moed opgee of ophou bid nie, want daar is altyd hoop. Wag geduldig. Wag op God. Hy werk volgens ’n onverklaarbare maar wonderlike plan!

Wickes lewer sy getuienis in kerke, waartydens hy ook sing. Kontak hom vir meer inligting by wickesnortje@gmail.com.