God is in die fynste detail

0
18
wonderwerk.jpg

Oral in haar koffiewinkel sit groepies vroue en gesels. Lynn du Preez glimlag – hierdie is maar net een van ’n rits wonderwerke.

Aanvanklik het Lynn nie geweet wat om met die inspirerende kaartjies te maak wat iemand eenkeer in haar hand gestop het nie. Dit sou dalk oulik wees saam met ’n koppie tee, het die vrou verduidelik. Maar in die dolle gejaag het die kaartjies êrens onder ’n toonbank beland. Presies waar dit moes wees – waar dit gebêre moes word vir iemand wat dit op ’n dag sou nodig kry.

“So met die draai van die eeu het my hele lewe uitmekaar geval,” onthou Lynn. “Ek het finansieel swaargekry en was nie in ’n vaste verhouding nie, wat opsigself nie ’n probleem was nie, maar toe kry ek die skok van my lewe!” Lynn het al vir ’n rukkie nie lekker gevoel nie. Op ’n dag het sy op haar rusbank gelê, en kon nie weer opstaan nie. Wat op aarde gaan aan? Sy het ’n vriendin gebel om haar dokter toe te vat.

“In die dokter se spreekkamer het daar ’n honderd dinge deur my kop gemaal. Wat kan dit wees? ’n Dodelike siekte? Of dalk net ’n lastige kiem?” Nooit, ooit sou sy die dokter se diagnose kon voorspel nie. “Hy’t op my maag gedruk. Sy gesigsuitdrukking was vreemd. Daarna het hy ’n sonar gedoen. ‘Lynn,’ het hy gesê, ‘jy is swanger. Daardie handjies beweeg nes joune.’ Dit kan nie wees nie! Dit was asof iemand ’n beker yswater in my gesig gegooi het. Hoe op aarde gaan ek met ’n kind cope?” Lynn het onbedaarlik begin huil, daardie huil wat eintlik bedoel is om jou dood te maak. Om jou so hard te laat snik dat jou hart gaan staan. Dat jy ophou asemhaal. Asseblief tog...

Maar Lynn het nie doodgegaan nie. Toe die snikke begin bedaar, het die dokter verdere ondenkbare nuus meegedeel. Oor minder as drie maande sou Lynn geboorte skenk aan ’n babadogtertjie. Binne ’n oogwink moes sy gereed wees vir ’n totale omwenteling in haar lewe – iets wat ander vroue meestal beplan en waarvoor hulle maande lank het om voor te berei. “Ek gaan ’n ma wees, het dit tot my deurgedring. Is ek reg hiervoor? Ek het hard oor die saak gebid, met God baklei en geworstel, want ek wou nooit kinders gehad het nie.”

Lynn het in haar motor geklim en Table View toe gery, na haar ouers toe. Dat sy daar uitgekom het, is bloot genade. Sy het so gehuil dat sy skaars kon sien. Toe kry sy ook nie die ondersteuning waarop sy gehoop het nie. “Hulle was diep geskok. Bitter. Hulle het my maande lank geïgnoreer. Eers ’n paar dae voor ek hospitaal toe is vir ’n keisersnee, het my ouers dit aanvaar.”

Lynn se dogtertjie is in Maart 2000 gebore. Vir die eerste keer het sy onvoorwaardelike liefde ervaar. Daardie gevoel wat baie vroue al vir haar probeer beskryf het wanneer jy die eerste keer die lyfie vashou. Jou kind. “Nou kon ek uiteindelik saampraat. Al die skok, seer en worsteling met God was vergete. Ek kon nie anders as om Hom te loof vir die wonderwerk wat Hy vir my gegee het nie.”

In die voorafgaande warboel van emosies en gebeure het Lynn skoon vergeet dat haar kind ’n naam moes hê. “Ek het nie ’n idee gehad wat om haar te noem nie.” Sy was egter nog altyd gaande oor Odette Schoombie, ’n voormalige Mej. Suid-Afrika, en het besluit haar dogtertjie se naam sal Odette wees. “Die lewe het soms ’n vreemde manier om te gebeur. Eers nadat ek dit besluit het, het my ma gesê sy wou so graag my jongste sussie Odette genoem het, maar my pa het nie van die naam gehou nie. Nou het my ma tog haar Odette in die familie gekry!” Sy was almal se lieflingkind, en Lynn se eerste en enigste mensbaba – van haar hemelse Pa af gestuur. Die ander baba sou later kom – van haar aardse geliefde af.

As gevolg van finansiële druk moes Lynn so gou moontlik weer begin werk. Odette is op twee maande na ’n dagmoeder toe. “My werkgewer en kollegas was oneindig goed vir my, so ook Odette se dagmoeder. Ons het tot vandag toe nog kontak met haar. Maar ten spyte van al die goedheid, het die lewe se eise net meer geword. Die uitgawes het elke maand gestyg. Een Sondag in ons tweeslaapkamerwoonstel het ek geknak. Heeltemal. Ek het buite op die balkon gesit en hard met God gepraat. Kon Hy nie sien hoe swaar ek kry nie? Hoe moet ek aangaan? Ek sien eenvoudig nie kans nie. Met dikgehuilde oë is ek daardie aand bed toe.”

Die volgende oggend het Lynn se telefoon by die werk gelui. Dit was haar vorige baas. “Hy het my ’n betrekking aangebied, met genoeg vergoeding om ordentlik vir my en my kind te sorg. Ek het hom gaan sien en onmiddellik die pos aanvaar. Vir die res van my lewe sal ek dankbaar wees daarvoor. Ek het die geleentheid aangegryp en baie, baie hard gewerk. Uiteindelik is ek tot kliëntediensbestuurder bevorder. Ek het elke dag my heel beste gegee. En elke nou en dan het ek opgekyk en gedink: Dankie, Vader, dat U na U kinders kyk...”

Alhoewel Lynn se lewe nie vreeslik baie verander het nie, kon sy goed vir haar en haar kind sorg, en dit was die belangrikste. “Ons het na ’n huis toe getrek waar Odette lekker buite kon speel. Deur die jare het ek en sy groot maats geword. ’n Band het tussen ons gevorm wat niemand ooit sal kan verbreek nie.” Lynn het egter agtergekom dat gebede nie net halfpad beantwoord word nie. Soms neem dit net langer. Maar gebeur, sal dit gebeur.

“’n Paar jaar gelede het ek my trouman ontmoet. Hy was beslis nog ’n wonderwerk wat na my gestuur is. Omdat ek en Odette eintlik net mekaar gehad het, was sy glad nie gelukkig met enige man in my lewe nie, maar Jaco het ’n regmerkie gekry. Sy is baie lief vir haar nuwe pa. Op 23 Desember 2011 het ons in die Baviaanskloof verloof geraak. Ek het weereens die hele dag omgehuil – maar hierdie keer van geluk!”

Een vir een het al Lynn se drome waar geword: ’n huis, ’n man, vrede, geluk... Op ’n dag vra haar man vir haar wat haar droom is. “Sonder aarseling het ek geantwoord dit is om my eie koffiewinkel te hê!” En so is Lynn se tweede baba gebore – Café de la Monte. Die naam beteken “berg”, omrede daar so ’n mooi uitsig op die berg is. En omdat Lynn weet waarheen om haar oë op te slaan wanneer sy hulp nodig het. Ek slaan my oë op na die berge, ek wéét waar my hulp vandaan sal kom.

“Ek en Jaco het baie hard gewerk om Café de la Monte te maak wat dit vandag is – presies soos ek dit wou hê. Ons het alles self gedoen, Jaco se hande staan beslis vir niks verkeerd nie! Ek gaan hierdie koffiewinkel nog na baie hoër hoogtes neem. Dit is iets wat met ’n doel gebeur het, en ek wil mense se harte raak. God het ’n plan met my lewe, net soos Hy ’n plan gehad het met Odette en Jaco. En nou met Café de la Monte.”

Lynn het al heeltemal van die inspirasiekaartjies vergeet toe Odette een skoolvakansie in die koffiekroeg kom werk het. Odette het die kaartjies ontdek en vir haar ma gevra of sy dit maar vir die vroue by die tafels saam met hulle koffie en koek kon gee. Natuurlik kon sy! Op een spesifieke dag was daar ’n vrou en haar dogter onder die klante van die immergewilde Café de la Monte. Odette het vir hulle ook van die kaartjies gegee.

“Ek en die vrou het deur die loop van hulle besoek aan die gesels geraak en sy het vertel dat sy met ’n pastoor getroud is. Verder het sy genoem dat sy elke kwartaal ’n groepie vroue wegneem vir ’n naweek. Sy wou weet of sy nie dalk 15 van die kaartjies kon koop vir hierdie naweekwegbreek nie – sy wou vir elke vrou ’n kaartjie gee. Ek wou dit glad nie verkoop nie en het gesê sy is welkom om die kaartjies te vat wat oor is. Odette het dit gaan haal en getel. Daar was presies 15 oor! Was ek verbaas? Ja. Moes ek wees? Nee. Want dis hoe ek my Vader ken. Hy is ’n God van detail. Wanneer Hy iets aanpak, is dit tot in die fynste besonderheid perfek!”

Van nou af huil Lynn net trane van vreugde en verwondering. En sien uit na al die wonderwerke wat nog in haar liewe Café de la Monte gaan gebeur.