God is nie kwaad vir jou nie

Ek het al hoeveel keer vir my middelste kleintjie gewaarsku dat sy nie naby my lessenaar moet kom nie.

Behalwe dat sy permanent my kantoor deurmekaar krap, wil ek nie hê sy moet iets breek nie.

En so stap ek die een middag vir ‘n oomblik uit my kantoor net om terug te kom en haar by my skootrekenaar te betrap!  Toe ek kyk toe is van my letters op die “keyboard” heeltemal verwyder en daar is geen manier hoe ek dit kan terug sit nie.

Ek was so kwaad en teleurgesteld, want ek het nie geld gehad om dit reg te maak of ‘n nuwe een te koop nie en ek het mos nou al hoeveel keer gesê sy mag nie naby my lessenaar kom nie!

Alhoewel die rekenaar baie duur was, het  my woede net vir ‘n oomblik opgevlam.  Ek weet my kind is vir my baie meer werd as iets wat ek enige tyd kan vervang.  Dit was vir my belangrik om haar hart te beskerm en haar na die tyd ‘n drukkie te gee en haar te verseker van my liefde, alhoewel ek haar moes straf vir haar ongehoorsaamheid.

So baie keer wil God ons verseker van Sy liefde, maar ons hardloop weg van hom, want ons dink Hy is kwaad vir ons. Ons is bang om stil te word voor Hom, want netnou sê Hy iets wat ons nie wil hoor nie.

God werk nie so nie. Hy is oneindig lief vir ons en begeer ‘n intieme verhouding met elkeen van ons.   Hy het Sy Seun opgeoffer sodat ek en jy vandag met vrymoedigheid na Sy troon kan gaan.

Heb 4:16  Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God.  Hy sal aan ons Sy ontferming en genade bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word.

Vorige artikelGebede vir jou toekomstige lewensmaat (Deel 5)
Volgende artikelVinnig en maklik op jou mooiste
Blogger - Lizelle de Kock
Lizelle de Kock is ‘n vrou vir Mark de Kock en ma van 3 dogters, Kaylin (11), Jessica (9) en Madison (4). Sy is meer bekend as die stigter van die partytjie maatskappy, Organizit Party Styling wat op verskeie programme soos Pasella, Die Groot Ontbyt op Kyknet en VIA TV verskyn het. Haar werk is ook in talle nasionale tydskrifte soos Living & Loving, Baba & Kleuter, Vrouekeur, Huisgenoot & Idees-tydskrif te sien. Met 'n suksesvolle boek (PARTY TIME) wat in 2015 vrygestel is, het sy haar merk as 'n betroubare partytjie stilis in Suid-Afrika gemaak. Haar diep passie lê egter daarin om ‘n verskil in vrouens se lewens te maak deur hulle te help om hulle doel te ontdek en dit met vryheid uit te leef. Dis ook om hierdie rede dat sy ingeskryf het vir Mev SA 2017 en gekies is as een van die land se Top 100 semi-finaliste. Deur haar agtergrond in kreatiewe partytjies en geleenthede te gebruik, bring sy 'n nuwe openbaring aan elke vrou se doel deur middel van 'n kreatiewe werkswinkel wat sy landwyd aanbied.