God, jy en geld

Eendag was daar twee vissermanne wat rustig langs die rivier gesit en visvang het. Sodra hulle genoeg gehad het vir hulle familie vir die dag is hulle huis toe.

So het dit elke dag gegaan. Eendag kom daar ’n slim student van ’n groot universiteit aan en begin met die twee vissermanne gesels. Hy stel toe later vir hulle voor om bietjie meer visse te vang, want dan kan hulle vir hulle ’n boot koop en meer visse vang. “En dan?” vra die vissermanne.

“Dan kan julle nog meer visse vang en nog ’n boot koop en later nog ’n boot,” sê die student. “En dan?” vra die vissermanne.

“Dan kan julle later ’n groot visfabriek opsit en ’n baie groot visverwerkingsfabriek hê met honderde duisende mense wat vir julle werk,” gaan die student voort met sy blink droom vir die twee vissermanne.

“En dan?” vra die vissermanne.

“Dan kan julle eendag ryk aftree en elke dag die heeldag hier sit en visvang,” maak die student die hoogtepunt van sy droom bekend.

Die vissermanne het die studentjie lank aangekyk en sy rykwordplan bedink. Hulle het hom met ’n vraag geantwoord: “En wat dink jy doen ons dan nou?”

Daar is niks fout met rykdom en geld nie. Ons moet dit net in oorleg met God bymekaarmaak. Ons moet vir God deel maak van ons plan. Dan sal goed nie skeefloop nie. Dan sal geld nie tussen vriende, familie, man en vrou of vennote kom staan nie. Dan sal God jou leer van sensitief wees, van wanneer jy eers moet terugstaan en wanneer jy moet gee. Dan hoef jy nooit somme te maak van 10% nie. Jy sal nooit hoef op te tel hoeveel jy agter is om God se geld uit te deel nie. Dalk moet jy vir God innooi om saam met jou jou geldsake te bestuur.