God kan enige bak gebruik

0
750

Al het ek die Bybel al ‘n paar keer deurgelees, kom ek steeds dikwels op ‘n teksvers af wat ek amper nie kan onthou dat ek dit al ooit gelees het nie.

Vandag het ek byvoorbeeld in 2 Timoteus 2:20-22 die volgende pragtige verse gelees:

In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.

Hierdie verse sê dat dit nie saak maak of ‘n bak van goud of silwer of hout of klei gemaak is nie. Die heel belangrikste is dat dit skoon moet wees – dan kan dit deur die eienaar gebruik word. Die materiaal is onbelangrik. God kan enigeen van ons gebruik, hoe “duursaam” of hoe “goedkoop” ons ook al is. Al wat God van ons vra, is dat ons ons lewe rein sal hou – dan is ons vir Hom bruikbaar!