God kom altyd deur

ouers

Ek onthou, so dikwels vertel mens jou jong kinders, hulle sal die moeilikste, die grootste besluite van hulle lewe maak, met die minste inligting!

In die volgende paar jaar sal hulle loopbane kies, dalk ’n huweliksmaat kies en voor jy weet begin hul, hul eie huis bou as gesin en familie.

As ouers doen ek en jy ons bes om hulle reg groot te maak, dan kom daar ’n punt waar ons hulle moet teruggee vir die Here. Ek sien keer op keer wanneer ek met mammas en pappas kuier, die gebrokenheid rondom ’n kind wat ’n verkeerde besluit geneem het! Dit is net so dat wanneer jou kind ’n verkeerde besluit maak, dan voel jy dadelik asof jý gefaal het, jý iets verkeerd gedoen het!

Skuldgevoel kom beklee jou in volle swart gewaad! Dis in so ’n tyd wanneer Prediker 3:11 (“God het elke ding gemaak dat pas in ’n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ’n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.”) vir my, vir jou, ’n kosbare vertroosting is. Ja, vir jou wat vandag op hierdie oomblik lees en jy sukkel só, want daardie kind vir wie jy baie lief is, kies om met die wêreld se stroom te vloei, eerder as om in en deur Jesus Weg te handel en wandel.

Jesus doen alles net reg, op net die regte tyd. Hy is nooit te laat nie. Nooit ooit nie. Weet dit! Dit is ’n belofte. Glo my en weet dit vandag: Ek en jy verstaan nie altyd God se tyd en manier van doen en werk nie. Natuurlik is dit vir ons sleg om hierdie kinders wat ons so baie liefhet te sien ly, sukkel, seerkry en swaarkry as gevolg van verkeerde besluite. Maar weet dit vandag, God het nie jou of hulle versaak of vergeet nie.

Dalk lees jy nou hier en het jy ’n verlore seun of dogter. Vir jou wil ek vandag deel: Glo dit asb, God is besig om te werk in hulle lewens al sien jy dit nie nou raak nie. Hy het hulle nog liewer as wat jy hulle ooit kan liefhet! Hy weet presies hoe om hulle te bereik.

Ek wil jou vandag bemoedig deur te deel, ek sien dit keer op keer op keer: Soms wag jy lank, MAAR GOD. God kom áltyd deur! Nie op jóú tyd of soos jý sou wou nie, maar op Sý tyd en Sý manier, ver bo wat jy kon dink of droom. Al is dit op 99.99! Soms is die horlosie op 11.59.59 wanneer Hy deurkom, maar Hy kom áltyd deur!

Kom ons bid saam:

Ons Vader, dankie dat U altyd vir ons deurkom. Ons kom nou na U toe, deur U Seun ,Jesus Christus, wat vir ons deurgekom het vir eens en vir altyd. Ons kom vra: Jesus Christus, vergewe ons dat ons soms twyfel dat U wel sal deurkom vir ons kinders wie ons so liefhet, maar wie U nog liewer het! Hulle wat afgedwaal het. Hulle wat verkeerde keuses gemaak het. Hulle wat ons sien ly, seerkry en swaarkry. Dankie dat U presies weet hoe om hulle te bereik en dat ons dit nie hoef te doen in eie mag, krag of gesag nie, maar deur U Gees sál U dit doen. Ons kies om U te glo en te wag op U tyd. Dankie Jesus in U naam bid ons dit Amen!

Vorige artikelVergewe. Vergeet. Laat gaan.
Volgende artikelHoekom werk ’n hoë-vet dieetbenadering nie vir my nie?
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is terselfdertyd onkonvensioneel, passievol, vreesloos, kreatief, teen die grond neergegooi maar nie vernietig nie, vol blydskap en humor, Woord deurdrenk en geesvervuld, ‘n onvergeetlike persoonlikheid. Tania Delport se skryftalent is ‘n passie en natuurlike gawe van God maar ook stil-stil geïnspireer deur die welbekende skrywer Hennie Aucamp wat 20 Maart 2014 oorlede is. Sy het in die Stormberg hoogland in die Oos-Kaap grootgeword op die buurplaas vanwaar hy grootgeword het. Haar oom aan haar pa se kant was getroud met die suster van Hennie Aucamp, dus was hy deel van haar familie binnekring. Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag het L-I-G in die dag geword want God is Liefde. Haar lewe het vlerke gekry. Dis tyd vir joune! Besoek gerus haar web tuiste https://eet8eet.co.za