God maak dinge mooi op Sy tyd

Die diere het een vir een na die watergat geloop. Geen haas. Aan die begin het ons angstig gewag. Wou hul eintlik aanjaag.

Geleidelik het ons eie gejaagdheid plek gemaak vir die natuur se rustigheid. Terwyl jy by die dammetjie sit en beleef hoe verskillende spesies kom en gaan, word my eie asemhaling ook rustig. Later kon ek net sit. Nie met die intense verwagting nie, maar met ’n stille tevredenheid om die natuur sy gang te laat gaan. Die orde het my opgeval. Die son kom op en gaan weer slaap. Die voeltjies wat kwetter soos dit lig raak en die naggeluide wat oorneem as die son sak. Groot olifant families met kleintjies wat saam die pad oorsteek, die ou buffel wat elke dag stadig sy verskyning maak. Elke zebra se strepe so uniek. Ongelooflik. ’n Plekkie en ’n rol vir elkeen.

’n Lied van jare gelede kry nuwe betekenis. “In His time, in His time. He made all things beautiful in His time. Lord please show me everyday as you teaching me your way that you do just what you say in your time. “

Die natuur is so nodig vir ons om ons en ons kinders se ritme te herstel. Ons is immers elkeen soos zebras met unieke strepe. Tussen ons is daar alleenloperbulle, olifante in troppe, haastige vlakvarkies, noodsaaklike miskruiers, statige koedoes. In His time…all things beautiful.

’n Zebra sal nooit ’n olifant kan word nie. Daar is kinders wat hard werk en presteer en ander kinders wat selfs harder werk en steeds sukkel. Baie mense kom altyd tweede, derde of selfs laaste. Sommige sukkel om net die wedloop te voltooi. Dit beteken nie jy moet opgee nie. In afhanklikheid kan jy weer probeer. Nie as ’n mislukking nie maar as ’n koningskind. Die oog op Jesus. In sy oe is jy kosbaar. Hy kyk nie hoeveelste jy kom nie. Daar is eienskappe langs die pad wat baie belangriker is as punte of posisies.

Orde in die natuur laat elkeen sy plekkie ontdek.

Ons laat toe dat ons geluk gesteel word wanneer ons ons eie uniekheid opweeg teenoor iemand anders se prestasies. Dis soos om bly te raak oor die roomys wat jy gaan kry tot jy hoor dat iemand anders 2 roomyse gekry het… Jou geluk word gesteel. In plaas daarvan dat jy jou roomys geniet, is dit skielik te min. Dis jammer wanneer jy toelaat dat ander jou beroof.

Eet jou roomys met vreugde, leef in die oomblik. Ontdek jou uniekheid in God se oë. Raak rustig. Haal asem. “Wat ek ontvang het, is vir my mooi…” Ps 16.” Koningskind.

In His time…all things beautiful.