God praat deur my kinders

0
104
Annatjie van Jaarsveld

Annatjie van Jaarsveld is ’n happy go lucky mamma met ’n gemaklike eerlikheid oor geloof. Alhoewel hulle nog klein is, antwoord God haar gereeld deur haar kinders.

Annatjie van Jaarsveld is ’n happy go lucky mamma met ’n gemaklike eerlikheid oor geloof. Alhoewel hulle nog klein is, antwoord God haar gereeld deur haar kinders.

Voordat ek Sion (3) se dieper vrae antwoord, stel ek eers vas wat hy dink. Ek wil hê my kinders moet self God ervaar. Tans is hulle gunsteling Bybelstorie die een oor Daniël in die leeukuil. Hulle is in verwondering oor die leeus en hoe God so groot kon wees om die leeus se bekke te sluit.

As hulle wil weet waar God is, antwoord ek dat Hy soos die wind is; jy kan Hom nie sien nie, maar jy kan Hom hoor en voel deur die natuur. Sion het selfs al gevra of ons asseblief by Jesus kan gaan braai! Ek wil hê my kinders moet in vryheid met grense grootword.

Sion en Leben (2) is lief vir instrumente bespeel. Hulle sê hulle hou ’n band practice. Ek speel gereeld voetstampmusiek en dan sing, speel en raas hulle uitbundig saam. Dit is ’n spesiale tyd wanneer Bobby saam speel en sing. Dit verbaas my hoe vinnig hulle die woorde leer en stip kyk hoe hy die kitaar tokkel.

Die tye wat ons huiskerk hou, speel hulle rondom ons. Dis ons verantwoordelikheid om deur dit wie ons is, waaroor ons praat en hoe ons leef, ons kinders te wys watter rol God in hulle lewens kan speel. Ons stel ons kinders voor aan God. Dis vir my belangrik dat hulle Hom in ons as ouers sien.

Ons bid elke aand en deur die loop van die dag saam. Ons vra dat God Pappa sal beskerm op die pad en as hy terug is, sê ons weer dankie. Sion bid vir die bome en die voëls en ek besef hy sien dit reeds raak. Leben herhaal wat ons sê en dwaal nog maklik af.

Ek en Bobby dien God in vryheid. Ek wil hê die kinders moet Hom self leer ken. Ons kan hulle nie voorsê wat om te sien nie, maar slegs vir hulle wys waar om te kyk. Net hulle self kan hulle roeping op aarde vervul; ons as ouers – onder leiding van die Heilige Gees – is slegs die vertrekpunt.

Ek dissiplineer volgens wat ek dink die grootste impak op elke kind sal hê. Ons glo kinders moet nog pak kry. Maar ek glo ook ’n kind moet verstaan hoekom hy pak kry, en dat as hulle verkeerd doen, daar gevolge gaan wees. Wanneer kinders in liefde grootgemaak word, is daar ruimte vir foute en weer probeer.

Soms as ek self geestelik wroeg, antwoord God my telkemale deur my kinders. Wanneer hulle iets vra en ek weet nie, skroom ek nie om so te sê nie. Hulle sal soms vreemde goed sê van iemand aan wie ek lanklaas gedink het en dan voel ek God wil hê ek moet vir daardie persoon bid.