God se afspraak met my

Dit is nie elke dag wat God ‘n duidelike afspraak met jou het nie, nie soos ek ervaar het een Saterdag middag verlede maand nie.

Ek was genooi na ‘n werkswinkel waar, soos ek verstaan het, ons die middag gaan spandeer om kreatief te wees en ietsie te verf wat ons in ons harte voel volgens ‘n Bybel vers wat ons gekies het. Ek moet bieg ek was nie juis lus vir die werkswinkel nie omdat ek gedurende die tyd deur allerhande emosies moes worstel. Dankie tog vir ‘n vriendin wat my aangehou por het om te gaan want dit was duidelik dat God ‘n afspraak met my gehad het daardie middag.

Toe ek by die vriendin se huis instap was dit duidelik dat die Heilige Gees reeds tuis was daar en die vriendelike gesigte wat my verwelkom het, het my sommer tuis laat voel. Die werkswinkel word aangebied deur twee susters (Nadine en Dorette) wat geroepe voel om God se glorie te deel deur die middel van kreatiwiteit in die vorm van profetiese kuns. Die manier waarmee die susters met ons almal gepraat het, was dit duidelik dat God besit geneem het van hulle harte en dat hulle net die instrumente is om God se Liefde en Woord verder te versprei. Soos Nadine gesels oor dit wat God op haar hart gelê het vir ons en oor die spesifieke werkswinkel, het dit gevoel of God direk met my gesels.

Soos ek reeds genoem het, was ek reg in die middel van ‘n groot emosionele dilemma en besef toe dat God ‘n afspraak met my gehad het op hierdie spesifieke dag. Die twee sussies het my van geen kant af geken nie, maar het gepraat asof hulle presies weet wie ek is en waardeur ek gaan. Dorette het soos wat ek ‘n canvas verf van my gekose versie langs my kom sit en vertel hoe God vir haar dinge uitwys van my, dinge wat ek nie sommer met ander mense deel nie, dinge wat ander mense nie van my verstaan nie, dinge wat ek soms voel verkeerd is met my, maar soos sy praat oor dit wat God vir haar wys van my is dit asof God self vir my sê “Ek het jou vir ‘n rede gemaak en wie jy is, is perfek”.

Ons raak soms so besig met ons lewens en probeer om soos die mense wie ons volg op Instagram te wees dat ons vergeet dat God ons uniek gemaak het vir ‘n spesifieke doel. Dit is soms nodig om ‘n afspraak met God te maak, ‘n lekker koppie koffie te kry en vir Hom ‘n stoel oop te los langs jou sodat Hy met jou gesels oor wie jy is en hoekom Hy jou gemaak het. Soms praat Hy ook deur middel van ander mense of wanneer jy in die verkeer sit en jy die mooiste sonsondergang of wolke met helder sonstrale sien. Ons moet net ontvanklik wees vir Hom en dit wat Hy oor ons wil spreek. En ja, soms moet ons net opdaag vir die afspraak wat Hy met ons het.

Doen jouself ‘n guns en gaan volg gerus Bespoken Creative op Instagram of Facebook. Jy sal nie spyt wees nie. Dis nie nodig om te noem dat ek intussen weer by een van hulle werkswinkels was nie en dat ek weer God se Gees so duidelik kon voel.

Vorige artikelWat doen jy vir ‘n lewe?
Volgende artikelGód roep ons – nie mense nie
Blogger - Izelle Joubert
Ek is ‘n mamma van 'n vrye gees en lawwe dogtertjie van drie jaar oud en het 'n passie vir skryf en ma wees. Nadat die Here my hart aangeraak het om die korporatiewe wêreld en gejaag te veruil vir ‘n deeltydse werk, het ek my passie vir skryf herontdek. Ek het 'n honeurs graad in Bedryfsielkunde en is 'n geregistreede Psigometris by die HPCSA, maar die mees vervullende werk vir my is dié van vrou en ma wees. Ek is al 9 jaar getroud met Donavan en ons het wortels geskiet in Kempton Park. Ek het 'n hart vir ander mammas omdat dit ‘n lekker, maar moeilike taak is. Ek is baie lief vir die Here en is mal oor die talent van skryf wat Hy vir my gegee het. Sodoende wil ek graag eerlik met mamma’s kan praat oor die moeilike en lekker dele van mamma wees, niemand is die perfekte ma nie en ons almal kan by mekaar leer.