Wayde van Niekerk leef God se droom vir hom

590

Jare en jare se bitter harde werk. Eindelose opoffering van naweke en vakansies. Nooit was dit ’n opsie om tou op te gooi nie. Of te bly lê as jy geval het nie. Uiteindelik was dit alles die moeite werd. Toe God se droom vir hom waar word. En WAYDE VAN NIEKERK die onmoontlike vermag.

Die see van jong, oop gesigte is meer intimiderend as die skare wat in ’n Olimpiese stadion gil en skree. Daar het ek al geleer om diep asem te haal en die spanning deur my lyf te laat gaan, om die vrees te absorbeer en te doen wat ek op die baan moet doen.

Maar hier, tussen vier mure, met tieners wat wag vir ’n boodskap van hoop, is my mond droog en die woorde waaraan ek so lank geoefen het, meteens weg.

“Moenie van vrees weghardloop nie” is, ironies genoeg, die hoofboodskap van my getuienis, maar om vrylik voor ander oor my geloof te praat is vir my moeilik.

As ’n introvert sukkel ek soms om oor my geloof te kommunikeer. Dit is vir my moeilik om te vertel en na ander te luister.

Tog is ek oortuig dat dit belangrik is om met medegelowiges te sosialiseer en oor die Woord te gesels. Mense het verskillende interpretasies en die Here werk in almal se lewens. Elke verhaal verheerlik die Here se grootheid. Dit maak nie my angstigheid om te praat minder nie, maar elke keer word vir my beter.

Vrees ken ek goed. Spanning, onsekerheid, twyfel – alles gevoelens wat my dikwels wou laat moed opgee. Beserings het my lank verhinder om internasionaal deel te neem.

Depressie het amper die oorhand gekry. Ek het nie geweet of ek ooit sal reg wees om wel teen die wêreld se bestes te hardloop nie.

Die dag van die Olimpiese Spele was ook nie veel anders nie. Met maar net die vyfde vinnigste tyd in die uitdunne, het ek eintlik reeds verloor toe ek in die wegspringblokke sak.

In my gedagtes was daar nie eens ’n kans op ’n medalje nie, wat nog te sê van ’n goue een. Dít is fataal vir enige atleet. Ek kon netsowel van die baan afgestap het.

Toe word baan agt, die heel buitekantste baan, aan my gegee. Dié baan waar jy niemand kan sien tot die laaste honderd meter nie. Jy hardloop blind, teen atlete wat jy glad nie kan sien nie.

Dis die aardigste gevoel – asof iemand jou jaag, maar jy sien niemand nie. Nie links nie, nie regs nie, selfs nie uit die hoek van jou oog nie.

Daar was nie ’n plan of strategie nie. Net my hartklop, my gedagtes, my wedloop. Ná die tyd het ek selfs die krag gehad om nog een keer om die baan te hardloop.

Vir my was dit die teken van ’n ongelooflike wonderwerk – deel van God se droom en plan vir my.

Jare se oefening, spanwerk, toewyding, trane, vreugde en oorwinnings het in daardie oomblik saamgekom toe ek oor die wenstreep gaan.

Dit was die eerste keer ooit dat ’n atleet in die buitebaan die 400 meter wen. Die wêreldrekord vir die 300 meter is myne. Tot dusver is ek die enigste atleet wat die 100 meter onder 10 sekondes, die 200 meter onder 20 sekondes en die 400 meter onder 44 sekondes gehardloop het.

Ek was half verdwaas toe ek eerste oor die wenstreep gaan – so gefokus was ek op my eie wedloop. Al wat oorgebly het, was om op my knieë te gaan en dankie te sê – ’n kinderdroom het waar geword.

“Jesus, I’m all yours. Use me,” staan op my spykerskoene, en dit is presies wat Hy gedoen het.

I have a dream. Ek het ’n droom. I had a dream…

Die woorde klink vaagweg bekend. Êrens het ek dit al gehoor. O ja, Martin Luther King jr. Die krakerige opname wat vandag wêreldbekend is, kom terug na my.

Dit laat my weer dink aan twee ander Bybelverse: Met my hele hart sal ek U prys, Here my God, u Naam altyd eer, uit Psalm 86:12 en julle kan almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, uit Romeine 15:6.

“Die hoofdoel van mense is om God te verheerlik,” is wat die Westminster-kategismus sê. Al hierdie is mos my woorde ook. My storie, maar baie meer as ’n storie. Dit is ’n leefstyl.

Noem my sommer Wayde, die dromer, of @WaydeDreamer, soos my Instagram-naam. My droom is om God te eer in absoluut alles wat ek doen. Hy het my hierdie talent gegee en tans is atletiek die manier waarop ek Hom eer.

“I had a dream: To honour God” sal dan my leuse wees. Die woorde wat mense begroet wanneer hulle my webwerf besoek. Mý boodskap aan die wêreld omdat my lewe, my toekoms, my besluite en loopbaan om Hom sentreer en Sy drome vir my waar kan word.

Om geestelik vir ’n wedloop voor te berei is nie iets wat ek spesifiek doen nie. God moet so ’n integrale deel van my lewe wees dat dit ’n leefstyl is. Dis vir my verkeerd om net voor of selfs ná ’n kompetisie te bid. Die Here berei my daarop voor nog voor ek by ’n wedloop gekom het.

Amper aan die slaap, hoor ek die grootmense se stemme voor ek wegdommel in die nagmerrielose slaap wat net ’n gelukkige kind kan hê. ’n Gerusstellende agtergrondgeruis van mense wat my liefhet.

Dis hoe ek Sondae onthou. ’n Dag waarop die familie ná kerk saam geëet het. My ouma, oupa, ma… Almal lag en gesels tegelyk. Geluide wat ’n klein kind gekoester en geliefd laat voel.

Daar was nie ’n dramatiese wedergeboorte-oomblik nie. Net die genade van ouers en grootouers wat my van my geboorte af aan die Here opgedra het. Veral my ma – die rots van ons gesin.

Al my familielede is voorbeelde van hoe Sy kinders leef. Ek kon in hulle voetspore groei in my geloof. Dit was letterlik van dag een in my lewe voordelig om die Here lief te hê.

My ma was ook altyd lief vir my. Sy doen dit dikwels: om fotoalbums uit die kas te gaan haal. Dis seker maar wat ma’s doen, maar vir ’n man is dit nie altyd die grootste kompliment as jou ma oor babafoto’s van jou koer en woorde soos cute en oulik gebruik as sy van jou praat nie.

Maar ek vergewe haar hierdie spoggery. Dit kon nie maklik gewees het nie. Sy was self nog ’n kind toe sy, op agtien jaar oud, ’n ma geword het.

’n Goeie atleet wat in die destydse apartheidsjare met provinsiale en nasionale rekords in die 100 meter en 200 meter gespog het. Met haar eie drome en toekomsplanne.

Toe word ek te vroeg gebore. ’n Volle twee maande voor my tyd. Skaars een kilogram.

“Hy was net vel en been,” vertel my ma altyd. “Jou kind het vier-en-twintig uur om te leef,” was die dokters se verdoemende voorspelling.

Na ’n bloedoortapping, genade en die nodige behandeling is ek deurgetrek. As kind het ek net een keer dokter toe gegaan.

My ma is vas oortuig dat ek geleer het om te baklei vanaf die oomblik wat ek in hierdie wêreld gekom het. Sy is waarskynlik reg, want my lewe deur het God elke baken van my reis sorgvuldig beplan selfs nog voor ek geweet het daardie uitdaging lê voor.

Ons het onlangs geld geskenk aan die neonatale eenheid in Groote Schuur wat gebruik gaan word om blindheid by babas te diagnoseer.

Die skenking het vir my ’n simboliese betekenis. Ek sou graag wou hê dat mense, en veral kinders en tieners, nie blind moet wees vir die geleenthede wat hulle kry nie.

As ons ons drome met God deel, sal Hy ons lei en die drome wat deel is van die reis wat Hy vir ons beplan het, laat waar word.

Dis vir my wonderlik om by mense wat legendes op hierdie oomblik is, te leer. Voor die Spele het ek saam met Usain Bolt, dié ster van wêreldatletiek en my held vir jare, en sy afrigter in Jamaika geoefen. Dieselfde ster, wat sy eie televisie onderhoud onderbreek het om my te kom gelukwens met my oorwinning.

“Dis nou jou tyd,” sê die man wat se naam reeds jare terug ’n voorspelling was van wat eendag vir hom wag. “Bolt,” soos blits, ’n weerligstraal met geen gelyke voor hom nie.

Ek kyk om my rond: Jamaika, Usain, dié Usain Bolt, wat vir my wysheid soos pêrels uitdeel.

Hy praat verder: “Gryp soveel geleenthede moontlik aan terwyl jy nou op jou top vorm is. ’n Talent soos joune val net een of twee mense in ’n generasie toe. Gebruik dit nou, want niemand kan voorspel hoeveel wêreldrekords daar nog in jou opgesluit lê nie.”

Nog ’n legende na wie ek opkyk, is Michael Johnson, wat die wêreldrekord vir sewentien jaar agter sy naam kon skryf. Ek, skaars vier jaar oud in 1996, het eers later geweet wie hy is.

Die legendariese atleet met sy goue tekkies wat destyds ’n wêreldrekord opgestel het wat niemand gedink het menslik moontlik is nie. Hy het daardie 400 meter ’n “massacre” genoem, die “volgende Usain Bolt”.

Daarvan is ek nou nie seker nie, maar dat Sonny Bill en Serena Williams saam met my selfies wil neem, is iets waaraan ek nog gewoond moet raak. Die aandag is vir my vreemd, maar ek waardeer dit.

Plaaslik het ek toekennings soos die Suid-Afrikaanse Sportster van die Jaar en die Sportman van die Jaar gekry en dit terwyl daar ander sterre is wat dit net soveel verdien.

Dis vir my lekker om saam met hulle oorsee te gaan. Met my neef Cheslin Kolbe, wat as lid van die Sewesspan daardie jaar brons verower het, voel dit kompleet soos ’n klein familietjie.

Soms is dit jou tyd om te wen, soms om te verloor. Dis maar hoe die lewe werk. Soos die seisoene waarvan daar in Prediker geskryf word.

Verloor is nie net ’n negatiewe ding nie. Net omdat jy verloor het, beteken dit nie daar is nie meer ’n God nie.

Dit is deel van jou reis, net soos oorwinning deel is van my opponente se reis daardie dag. Die Here werk immers nie net in my lewe nie.

Die atlete teen wie ek deelneem, is my vriende en dis vir my lekker om teen hulle te kompeteer. Hulle is eerder ’n motivering om myself verder te druk.

As ek bekommerd is oor teen wie ek gaan wen of verloor, is my fokus nie meer op mý doel in die lewe nie.

Dit is vir my belangrik om die talent wat ek gekry het, te ontwikkel en my volle potensiaal te bereik.

My geestelike groei is nie iets wat ek beplan het nie. Dis iets wat natuurlik gegroei het. Eers later het ek besef hoe belangrik die Bybel is. Dat ’n mens eintlik nie daarsonder kan klaarkom nie. Die Woord laat my nooit sleg of negatief voel nie.

Die hele idee dat hierdie Boek steeds antwoorde kan gee en mense duisende jare later steeds rigting kan bied, is vir my ’n bewys dat God werklik is. Êrens tussen die veerligte blaaie sal die antwoord lê. Of dit nou in Eksodus, Johannes of die soms onverstaanbare Openbaring is.

Hy kyk na ons en wil net hê wat goed is vir ons. Hy gee ons leiding deur woorde op papier waar jy fisies kan sien dat Hy wysheid en raad het.

Nog later het gebed belangrik begin word. Trouens, ek moes versigtig wees om nie só in Bybelstudie en gebed verdiep te raak dat my lewe, die beeld wat na buite straal, my aksies of denke, Hom nie ook eer nie. Aanbidding deur musiek is ’n wonderlike manier om nader aan Hom te kom.

Ek en my vrou probeer om gereeld kerk toe te gaan. Ons deel juis ons spirituele belewenisse met mekaar, want is dit nie baie meer effektief as ons die reis saam kan aanpak in plaas van alleen nie?

Dit is vir my fantasties dat Chesney so ’n pragtige kind van die Here is. Hoe anders? Sy is die mens wat ek sien net voor ek aan die slaap raak en saam met wie ek soggens wakker word.

Ons moet uit dieselfde hart en siel praat, want jou vrou het ’n regstreekse invloed op elke besluit wat jy neem. Ook my familie se gebede het my beskerm om my hele lewe deur die regte keuses uit te oefen en in die nodige areas te investeer.

Dit voel nie vir my reg om vir God kwaad te wees en in onderhandelinge met Hom te gaan omdat ek nie iets gekry het waarop ek gehoop het nie. Van my tjokkertjiedae af weet ek Hy is getrou aan Sy beloftes.

Dit is nutteloos om Hom of ander te blameer vir iets wat gebeur het. Staan eerder ’n stappie terug en kyk wat jy moet doen verder die toekoms in.

Wie ek sonder God sou wees, is vir my ondenkbaar. Met my hele hart wil ek Hom prys, Sy Naam eer, want Sy liefde vir my was so groot dat ek ’n rekord verbeter het wat niemand gedink het menslik moontlik is nie.

Die droom om eendag ’n barbierwinkel in ’n paar dorpe oop te maak het begin wortelskiet nadat ek die Barbershop-flieks gekyk het. Ek is mal oor die idee, want selfs mans het soms ’n bietjie eietyd nodig waar hulle vir ’n rukkie kan wegkom van die wêreld.

Daar sal ’n skaakbord wees vir pa’s om hulle seuns te leer speel. ’n Veilige ruimte waar jy snaakse stories, wyse raad, preke of sommer net nonsens kan kom praat.

Dit, en ’n Bentley, is wat ek graag eendag wil hê, maar die tyd sal leer of dit ook die Here se droom vir my is. Op die oomblik is atletiek en sport my talent. Dit is wat ek doen, waarop my aandag en fokus vir eers is.

Dis vir my nodig om te verstaan wat om te doen sodat God se wil deur my kan gaan. Tot Hy spesifiek en in woorde vir my ’n ander droom gee, is dit wat ek doen.