God Se Wil Teenoor My Wil

Ninevé was ‘n baie goddelose stad vol mense wat bekend was vir hulle wreedheid tydens oorloë (Nahum 2:12-13), bose planne teen God (Nahum 1:9) en die uitbuiting van die swakkes (Nahum 2:12) … en Jona het hulle gehaat.

Het jy al ooit iemand of ‘n groep mense so gehaat dat jy hulle nie eens van God wou vertel nie, uit vrees dat hulle hulle sou bekeer en dat God hulle sou vergewe vir al hulle bose dade? Jona het.

Sy haat vir die Nineviete was so sterk dat hy bereidwillig ongehoorsaam was aan God. Toe God vir Jona gesê het om na Ninevé te gaan, het Jona omgedraai en in die teenoorgestelde rigting gevlug. Hy was opsetlik en doelbewus ongehoorsaam aan God.

Ek het dit ook al gedoen … baie keer.

In plaas daarvan om God toe te laat om te oordeel, het ek myself in daardie posisie gestel, genade uitgedeel en mense skuldig bevind in my gedagtes en hart, sonder om wat God mag dink in ag te neem.

Ek het my wil valslik as sy wil afgemaak en daarmee verklaar dat my wil belangriker is as syne.

So het ek my eie pad gegaan … baie keer in presies die teenoorgestelde rigting as wat God my wou stuur, net soos Jona.

En tog selfs in my verset streef God na my.

Waarheen kan ek gaan waar God nie reeds is nie?

Vriendin, een belangrike les wat ons hierdie week uit ons teksverse kan leer, is dat ons nooit van God kan wegkruip nie. Adam en Eva het dit probeer in die Tuin van Eden en Jona het dit probeer deur op ‘n boot te vlug na Tarsis. God het presies geweet waar elkeen van hulle weggekruip het en ook wat in hulle harte weggesteek was.

Wat roep God jou vandag om te doen wat maak dat jy in die teenoorgestelde rigting weghardloop? Is jy in ‘n stryd oor wie se wil die sterkste is, joune of God s’n? Het Hy dit op jou hart gedruk om in liefde uit te reik na ‘n sekere groep mense en jy vind jouself onwillig om dit te doen?

Soos Jona kan jy nie van God vlug nie. Al vlug jy na die hoogste berge, is Hy daar. As jy skubaduik na die diepste dele van ons oseane, is God ook daar. Daar is geen plek waarheen jy kan gaan waar God nie reeds by jou is nie.

So kom ons hou op om te hardloop, te vaar of in die teenoorgestelde rigting van sy opdragte te beweeg.

Kom ons hou op om ons eie wil teenoor sy wil te kies, want die feit van die saak bly dat sy wil altyd ons s’n sal troef.

Kom ons streef daarna om vroue te wees wat na God vlug eerder as om van Hom af weg te vlug.

Wanneer God sê “gaan” kom ons gaan! Kom ons stel nie ons gehoorsaamheid uit nie, bepeins die feit of mense werklik die moeite werd is om te help en laat nie toe dat die samelewing se vooroordele verhoed dat ons die mense bereik wat God ons oor ons pad stuur nie.

God het meer vir hulle en vir ons op hierdie wonderlike reis waarop Hy ons geroep het!