God verwag nie perfeksionisme nie

0
45
perfeksionisme.jpg

Voel jy soos ’n mislukking wanneer alles nie perfek is nie? Dan mis jy die kosbare oomblikke van jou lewe!

“Lyk ek vet?” vra jy toe jy uit die aantrekhokkie kom. Jou vriendin glimlag. “Glad nie, jy lyk pragtig! Groen is jou kleur.” Sy jok natuurlik, want sy wil nie jou gevoelens seermaak nie, besluit jy. Jy kan sommer voel hoe span die broek om jou heupe. Nou ja, dan sal jy maar net weer met ’n nuwe dieet moet begin...

Jy kan miskien net so twee kilogram afskud, dan sal jy perfek wees. Dis immers wat jy tot elke prys wíl wees. Perfek. Volmaak. Een honderd persent. 100% die regte gewig, 100% goeie ma, 100% vrou vir jou man, 100% vriendin.

Dit is nie verkeerd om op jou beste te wil lyk of om ’n goeie vrou of ma te wil wees nie, maar jy moenie glo jy is ’n mislukking as jy nie altyd alles perfek kan doen nie. Dis onmoontlik om nooit foute te maak nie.

Glo meer in jouself – soos ’n man!

Twee joernaliste, Katty Kay en Claire Shipman, het ’n artikel getiteld The Confidence Gap gepubliseer. Hulle het die personeelrekords van die maatskappy Hewlett-Packard ontleed en ’n paar interessante dinge ontdek.

Vroue het byvoorbeeld slegs vir ’n verhoging aansoek gedoen as hulle gevoel het hulle voldoen aan al die vereistes vir die pos. Mans, aan die ander kant, het aansoek gedoen al kon hulle net aan ongeveer 60% van die vereistes voldoen.

Ons weet dit mos lankal: Mans glo makliker in hulleself as vroue. Het jy al van ’n man gehoor wat dae aaneen tob omdat hy so ongeduldig met iemand was? Ken jy manne wat nie kans sien vir iets omdat hulle nie “goed genoeg” is nie?

’n Vrou trek dit ook deur na al die fasette van haar lewe. Jy glo jou vriendskappe moet perfek wees. Jou kinders moet in alles presteer, anders het jý misluk. By die werk mag jy nooit ’n fout maak nie. En as jy die slag vir iemand kook, móét dit ’n uithaler-ete wees.

Perfeksionisme is goed, maar dit kan ook gevaarlik wees

Jy is miskien trots daarop dat jy jouself so druk om te presteer. Dis goed en wel, maar wat as jy nie die paal haal nie? As jy die dwarslat al hoe hoër stel, kan jy later soos ’n mislukking voel as jy nie meer kan oorspring nie.

Dis waar dat perfeksionisme goed kan wees. Dit verskaf die energie wat jou laat vasbyt as die ander lankal tou opgegooi het. Suksesvolle kunstenaars en wetenskaplikes het almal ’n fyn oog vir detail en hou nie op voor hulle absoluut tevrede is nie. En dis goed so, solank dit nie ’n allesoorheersende obsessie word nie.

Die teendeel is egter ook waar. Daar is bevind dat perfeksionistiese mense angstiger is en meer gereeld aan ’n swak selfbeeld ly. Perfeksioniste ervaar ook baie stres, wat weer siektes soos hartsiekte en depressie kan veroorsaak.

Probeer dus liewer om jou kop reg te kry sodat jy nie ’n alles-of-niks-houding het nie. Iets wat nie perfek is nie, is nie noodwendig minderwaardig nie.

Jou strewe na volmaaktheid kan jou vreugde steel

Dis jou verjaarsdag. Jou man verras jou met ontbyt in die bed, maar toe jy in die kombuis kom, sien jy die gemors. Jy is dadelik op jou perdjie, want tienuur kom jou vriendinne tee drink en jy het tot laataand gewerk om die huis te laat skitter en blink. En dadelik is die lekker romantiese ontbyt en jou man se moeite vergete...

God gee vir jou die mooiste oomblikke op die mees onverwagte tye: ’n Natgelekte toffie wat ’n taai kinderhandjie na jou toe uithou. Jou hondjie wat met modderpootjies op jou skoot kom klim. Maar dit gaan verlore as jy alles gedurig net reg wil hê.

Dis tyd om te besef dat jy nooit volmaak sál wees nie omdat die lewe nie volmaak is nie. Die mense wat vir jou lief is, het egter lankal vrede daarmee gemaak. Aanvaar die stof op jou kas of die foutjie in jou verslag.

God gee jou die genade om elke dag aan te pak, sodat jy ’n beter jy kan word. Maar Hy vra jou nooit om die perfekte jy te wees nie. Hoekom verwag jy dit dan van jouself? Fokus eerder meer op Hom – Hy is reeds goed genoeg. En dít behoort goed genoeg te wees vir jou.

Vertaal en verwerk uit The Perfectionism Complex van Ashley Moore.