God wil hê jy moet voluit leef

0
222
doxa_deo.jpg

Dis uit ’n lewe-en-dood-krisis wat Jurie en Karin Kriel, leiers van Doxa Deo Oos, ontdek het wie God regtig is.

“Hoekom het U my wakker gemaak, Here?” Dit was Karin se eerste gedagte toe sy in die hospitaal wakker word na ’n reeks floutes waarin sy haar bewussyn verloor het.

’n Paar dae tevore het sy en Jurie saam met hulle kerkspan op ’n jaareind-wegbreek gegaan. Almal het skielik siek geword, vermoedelik weens iets wat hulle geëet het. Net Karin het niks makeer nie, en daarom het sy almal versorg totdat hulle weer op die been was, maar twee dae later het sy onverwags inmekaargesak. Sy het gedink dis lae bloedsuiker, maar toe sy die tweede keer flou word en boonop begin ruk, het Jurie haar dadelik hospitaal toe geneem.

Jurie vertel: In die hospitaal het Karin vinnig agteruitgegaan. Dit was skrikwekkend om haar so te sien. Sy het gereeld haar bewussyn verloor en stuipe-aanvalle gekry, maar niemand het geweet wat fout was nie.

Uiteindelik was die dokters se enigste raad om haar in ’n mediese koma te plaas, maar hulle was nie seker of sy ooit weer sou wakker word nie. Ek onthou hoe ek met die Here hieroor geworstel het. Moes hulle voortgaan of nie? Maar Hy het níks gesê nie; nie ’n enkele woord nie.

Karin het later só verswak dat die span dokters my wou sien sodat ons die opsies kon bespreek. Hulle het nie gedink sy gaan dit maak nie. Ek het my probeer sterk hou, vir ons seuns se onthalwe, en sonder enige antwoorde van my eie hospitaal toe gery. Op pad soontoe het ek skielik die Here duidelik in my gees hoor praat: “Dit sal oukei wees.” Net dit.

Ek het instinktief geweet Hy bedoel nie noodwendig Karin gaan oukei wees nie. Eerder: Dit maak nie saak wat gebeur nie, alles gaan ten goede uitwerk.

Dit was toe ook so. Binne die volgende 24 uur het Karin begin beter word, en twee weke later was sy gesond en terug by die huis. Die les wat ons geleer het, is dat mens dikwels in moeilike tye vrae vra en antwoorde soek, maar die oplossing lê nie in die antwoorde nie. Dit lê in God se teenwoordigheid en in ons verhouding met Hom.

goeie_nuus.jpgKarin vertel: Toe ek uit my beswyming wakker word en die Here vra hoekom Hy my wakker gemaak het, het ek verwag dat Hy spesifieke opdragte vir my sou gee. Dalk wou Hy my sendingveld toe stuur? Of dalk moes ek ’n boek skryf? Maar Sy antwoord het my uitkyk op die lewe vir altyd verander. Hy het bloot gesê: “Dis My plesier.”

Eers later, by die huis, het ek besef wat Hy daarmee bedoel het. Hy het bedoel dis Sy plesier om ons ten volle te sien leef. God’s glory is man fully alive. God het nie ’n lysie goed vir ons om te doen nie. Hy wil net hê ons moet voluit leef.

Besoek www.doxadeo.co.za