Goed begin, half gewin

0
64
Hettie Brittz

Ons gooi gereeld hande in die lug as dit kom by goeie gewoontes kweek by kinders en sê: “Het ek jou dan niks geleer nie!” Gaan die inoefen van tafelmaniere, en higiëne ooit vrugte afwerp?

Ouerskapkenner: Hettie Brittz

lyn_3.png

GRATIS

 Baba, kleuter, tiener – hier is raad! 45 uitsendings van RSG se gewilde oggendprogram, Groeipyne, is nou in ’n boek saamgevat sodat jy dag en nag antwoorde en wenke kan kry.

Kliek HIER om jou GRATIS e-boek af te laai.

lyn_3.png

Ons gooi gereeld hande in die lug as dit kom by goeie gewoontes kweek by kinders en sê: “Het ek jou dan niks geleer nie!” Gaan die inoefen van tafelmaniere, en higiëne ooit vrugte afwerp?

Om goeie gewoontes by jou kind te kweek is amper soos om ’n aflosstokkie aan te gee. Dit is jou verantwoordelikheid om vir jou kind te sê: “Borsel jou tande, dek jou bord af, ruim op waar jy gemors het.” Die stokkie moet so aangegee word dat die kind later self verantwoordelikheid aanvaar om die take uit te voer. As die stokkie op die grond val, moet jy as ouer hom maar weer optel en die wedloop voortsit.

As die gewoontes karakter bou, skerp dit dan in!

Geen ouer gaan dit regkry om al die goeie gewoontes soos betyds wees, huiswerk getrou doen, kamer aan die kant maak en jouself verskoon aan tafel, honderd persent vir jou kinders te leer nie. Jy moet kies in watter gewoontes jy jou energie gaan belê.

Daar is twee essensiële vrae om te bepaal of iets die moeite en energie werd is: Gaan hierdie goeie gewoonte my kind se karakter bou? Om toemond te kou sê byvoorbeeld nie veel oor iemand se hart nie, maar om jou kant te bring by die huis en te help skottelgoed was en klere opvou, sê iets oor jou karakter.

Die ander vraag wat ek my afvra, is in watter tipe volwassene gaan die aanleer van hierdie gewoonte my kind verander. Jy begin jou kind sien as iemand se toekomstige man of vrou, pa of ma, werknemer of werkgewer. Hoe belangrik byvoorbeeld is die gewoonte om self op te staan in die oggend en betyds klaar te maak vir skool? Dit is uiters belangrik. So kan jy maklik onderskei tussen gewoontes wat meer gewig behoort te dra, en dié wat nie die geneul werd is nie.

[VIDEO] Hettie Brittz leer jou hoe om jou kind se gawes te ontwikkel

Werkies in en om die huis leer jou kind goeie lewensvaardighede

Hulpvaardigheid in en om die huis is ’n uitsonderlike gewoonte, want dit vorm ’n kind se werksetiek. Sinvolle tydsbestuur is nog iets waarop jy kan hamer, want dit sluit ’n klomp goeie gewoontes in, soos beplanning, besteding van vrye tyd en respek vir ’n ander se tyd. Elke ouer gaan natuurlik op grond van hulle eie waardestelsel, ouerskapstyl en persoonlikheid sterker voel oor sekere gewoontes as oor ander.

As ’n mens na die goeie gewoontes kyk wat Jesus beoefen het, sien jy Hy het byvoorbeeld altyd tyd gemaak om te rus, stil te word en te hoor wat regtig belangrik is. Hy het ook die gewoonte gehad om by die uitgeworpenes te wees. Sy gesonde gewoontes was dus baie sterk gefokus op verhoudings met Sy Vader en mense. Gewoontes wat die moeite werd is om aan te leer, is dus dié wat jou ’n gebalanseerde en lewegewende mens maak.

Wanneer kinders help met skottelgoed was, diere versorg en kruideniersware wegpak, kry hulle die geleentheid om hulle deel te doen, en leer vaardighede aan wat hulle vir die res van hulle lewe kan gebruik.

Wys jou kind hoe, monitor die vordering en gee erkenning

In my boek Kweek dissipline met deernis bespreek ek die vyf stappe vir die kweek van goeie gewoontes in besonderhede. Die fases is afloer, saamboer, poer-poer, inloer en terugvoer. In die afloerfase wys jy jou kind wat jy graag wil hê hy moet doen, sodat hy dit later self kan baasraak. Saamboer beteken ons doen alles saam, en ons wys hulle hoe.

Die poer-poer-fase is waar jy bystaan en help, maar jou kind probeer self die taak verrig. Inloer is wanneer jou kind die hond alleen bad of sy kas regpak, en jy loer net kort-kort in om te kyk hoe dinge vorder. Uiteindelik kan jou kind heeltemal alleen ’n sekere taak verrig: Jy los die kattebak oop, klim uit en jou kinders weet die kruideniersakke moet afgelaai word. Jou laaste taak in die proses is om terugvoer te gee. Bedank en prys hulle vir ’n taak wat goed gedoen is.

Gewoontes kom nie vanself nie. Dit word gevestig deur herhaling, en sal uiteindelik blywend word. Aan die begin gaan daar teenkanting wees, maar as jy voet by stuk hou en verduidelik dat elke gesinslid sy deel moet doen, kom kinders gou genoeg agter hoe die vurk in julle huis in die hef steek.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Koop vandag Hettie se “Kweek kinders met karakter” vir slegs R140.

 

lyn_3.png