Goedhartigheid wen

goedhartigheid

Natuurlik, want dis hoe dit gewoonlik werk…

Net daardie dag toe ek ’n sitdown het met God en die vraag so swaar op my hart lê van “Hoekom gaan dit soms so goed met die goddelose en die persoon wat met integriteit wandel, hy trek gedurig aan die kortste end.” Wel, daardie einste dag gee ’n vriendin ’n boek aan my as geskenk, ’n boek oor Aushwitz, ’n boek oor die tweede wêreld oorlog en duisende wat in konsentrasie kampe gesterf het. Depressing, die kersie op my depressing dag koek. My natuurlike reaksie was om die boek dadelik weg te bêre.

So pak ek vir ’n vlug, ek krap alles van die moet-pak lysie af. ’n Boek, pak iets om te lees dink ek. Ek het na my boeke gekyk en besef dat daardie boek die enigste ene was wat klein genoeg en lig genoeg vir my handbagasie was. Ten minste is daar honderde flieks op die vliegtuig om na te kyk as die boek te teneergedruk vir my raak, het ek gedink.

Wel, daar kon ek nie die boek neersit nie en het dit gedurende my vlug van voorblad tot agterblad deurgelees. Die boek, ’n biografie oor ’n Joodse man, wat die dag wat hy in Auschwitz aangekom het besluit het dat hy nie daar sou sterf nie. En hy het nie. Hy is in 2006 oorlede, 64 jaar nadat hy by die hekke van Auschwitz ingeloop het. Hoe op deesaarde het hy oorleef?

Hy het vanaf dag een ou stukkies brood, soms sy enigste ete vir die dag, in sy moue weggesteek en dit vir die gegee wat meer honger was as hy, planne beraam om meer kos vir die vroue bymekaar te maak, hy het ander beskerm waar hy kon, ander gedra al het hy self nie energie of emosionele krag oorgehad nie.

Hy was bekend as die man met nege lewens. Elke keer wanneer hy moes execute word,  siek was, honger was, het iemand, ’n persoon, wie hy voorheen gehelp het, sy lewe gered. Die goedhartigheid wat hy teenoor mense bewys het, het elke keer om hulp gesnel om sy lewe te red. Goedhartigheid het lewens gered. Hy kon nie ’n hele konsentrasie kamp vol mense red nie, maar hy kon deur goedhartig te wees, een persoon op ’n slag se lewe verander.

Daar is ’n spreekwoord wat sê: “If you can be anything, be kind.”

Moet nooit die krag van ’n vriendelike gebaar, ’n telefoon oproep, ’n “ek dink aan jou” WhatsApp boodskap onderskat nie. Moet nooit die liefde van ’n bord kos of warm kombers onderskat nie.

Moet nooit die krag van vergifnis onderskat nie.

Goedheidhartigheid red lewens…

Mag net goedheid en guns jou volg, altyd.
Desiree