Goeie seks vir ’n gesonde brein

0
34
beter_seks.jpg

Trues! Njammies! Cross our hearts and hope to die! Of eerder: Cross our brains and hope to die. En dis nie ons wat so sê nie ...

Deur seks word die negatiewe kante van ’n vroulike brein onderdruk. Genoeg en goeie seks is dus sinoniem met ’n op en wakker brein.

Daniel Amen verduidelik hoe daar tydens orgasme heelwat hormone en neuro-oordragstowwe afgeskei word. Endorfiene, die liggaam se natuurlike kalmeermiddel, is een van dié stowwe. Die kalmerende effek hiervan is die rede waarom jy soms so goed slaap na seks. Hoe meer seks, hoe meer endorfiene en hoe meer ontspanne is jy.

“Nog ’n hormoon wat tydens en na ’n orgasme afgeskei word,” verduidelik Elmari, “is oksitosien. Dit help daarmee met nader aan mekaar voel (bonding) en vertroue. Op die ou end werk al hierdie goed saam – soos ’n siklus. Vervullende seks lei tot ’n beter verhouding tussen ’n man en vrou. Hoe meer vertroue daar is, hoe meer liefde en hoe meer vervullend die seks. As daar goed is wat jou oor jou man pla, gaan dit ook tussen julle kom wanneer julle liefde maak.” Wat buite die slaapkamer gebeur, bepaal dikwels die kwaliteit van wat binne die slaapkamer gebeur. Gesonde seks laat jou nie net beter voel as gevolg van die goedvoelhormone wat afgeskei word nie, dit verlig pyn (ook hoofpyn), gee jou ’n mooier vel en hare, is ’n natuurlike antihistamien en kalmeermiddel, en laat jou beter slaap.

“As jy ’n neiging tot depressie het,” gee Daniel raad, “ onthou dat ’n orgasme ’n kragtige antidepressant is. Navorsing het bewys dat semen stowwe bevat wat deur die vagina opgeneem word en ’n vrou se hormone en gemoedstoestand beheer.”

En hier is seker een van die beste redes: Navorsing aan die universiteit van Princeton in Amerika het bewys dat breinselle as gevolg van ’n verhoogde suurstofvloei na die brein baie aktief is tydens orgasme. Meer suurstof na die brein beteken ’n gesonde brein met groeiende breinselle. Watwou vergeetagtig word as jy ouer word. Goeie en vervullende seks maak jou eintlik slimmer en meer gefokus namate jy ouer word. In plaas van om ’n verskoning te soek om nie seks te hê nie, soek eerder ’n rede om wel seks te hê!

Voorspel: kry jou lyf gereed vir die liefdespel

Nee, ons praat nie hier net van fisieke voorspel nie, maar hoe om jou brein vir die dans van die liefde voor te berei.

Lees meer: Hoe kan jou brein seks verbeter?

[Pagebreak]

WEES LIEF VIR JOU MAN

Soos huwelikskenner Gretha Wiid verduidelik: “Vroue het nou maar net makliker seks as hulle lywe, koppe en harte op die regte plek is.

“As ’n vrou ’n probleem met vertroue en respek in haar huwelik het of voel dat sy nie emosioneel gewaardeerd is nie, kan die geringste dingetjie haar fisiek afsit – of dit nou ’n slegte asem, ’n sweetreuk of ’n harde baard is.”

Daniel stem volkome saam. “Om aan ’n verhouding te werk kom natuurlik van twee kante, maar ’n mens kan begin deur te konsentreer op goed wat jy in jou man waardeer in plaas van dit wat jou irriteer. Identifiseer sewe goed, soos ‘hy is ’n goeie pa vir jou kinders’ of ‘hy het ’n sagte hart vir mense wat swaarkry’. Dink elke dag aan een van hierdie eienskappe en binne ’n week sal jy meer positief en liefdevol teenoor hom voel.”

WEES LIEF VIR JOUSELF

“Ja, dit is miskien ’n cliché,” meen Elmari, “maar jy kan vir niemand iets beteken as jou glas halfvol is nie. Jy moet tyd maak vir jouself en met jouself kontak maak.

“Soek daardie ding wat jou jý maak. Of dit nou is om kaalvoet op die gras te loop, ’n uur onder ’n boom te sit of selfs oefening te doen. Vind uit wie jy is en wat jou besonders maak.”

Gretha beaam dit: “’n Groot deel van genotvolle seks begin by onsself en ons eiewaarde. Die oomblik as jy nie vir jouself mooi of begeerlik is nie, krap dit dinge in die slaapkamer om. Jou man kan hóé liefdevol, vaardig of super hot wees, as jy nie lekker is oor jouself nie, gaan jy wegkruip of seks vermy.”

FEIT: JA, DIE GROOT O IS MOONTLIK

Fantastiese orgasmes is nie ’n mite nie. Jy kan dit ook ervaar deur die sterk punte van jou brein in te span en ander weer te onderdruk.

1. KEN JOUSELF
Elmari stel voor: “Word lief vir jou lyf. Raak gemaklik met haar. Spandeer tyd met haar en vind uit wat is vir jou lekker. Kry daardie dele van jou lyf wat vir jou ekstra sensitief is.”

2. FANTASEER
“Jou brein is die belangrikste seksorgaan. Fantasieë is ’n baie kragtige manier om ’n vrou met haar sensuele kant te verbind,” vertel Elmari.

Daniel gee raad: “Gebruik jou meer superieure verbale vermoë en moderne tegnologie om jou en jou man met hartstogtelike verlange te vul. Dink aan ’n scenario en beskryf vir jou man in detail wat jy met hom gaan aanvang sodra hy by die huis kom.”

[Pagebreak] 3. SOEN, SOEN, SOEN
Soen, hande vashou en om diep in mekaar se oë te kyk, is iets wat paartjies baie aan die begin van ’n verhouding doen. Moedig jou man aan om dit steeds te doen. Hierdie aksies help om oksitosien af te skei, wat belangrik is vir vertroue. So voel jy veilig en word jou brein voorberei vir die totale oorgawe wat nodig is om ’n klimaks te kry.

4. HOU JOU VOETE WARM
As ’n vrou al haar gedagtes moet kan fokus, moet sy gemaklik wees. Daniel vertel dat warm voete veral nodig is. “Dit kan wees omdat die gedeelte in jou brein wat sensasie in jou voete waarneem, reg langs die gedeelte geleë is wat sensasie in jou geslagsorgane ervaar.”

5. WEES IN DIE OOMBLIK
“Skakel die bekommernis-gedeelte van jou brein af en konsentreer op wat op hierdie oomblik om jou aangaan; konsentreer om in jou lyf te wees. As jy gaan dink aan die goed wat jy môre nog moet doen, sal jy nie ’n orgasme kry nie,” sê Elmari.

Gretha stel voor dat jy jou oë toemaak, diep asemhaal en elke sintuig inspan om jou man se aanraking te voel. “Sit musiek aan, voer mekaar sjokolade, speel met verskillende teksture soos fluweel of satyn.”

6. PRAAT MET JOU MAN
Baie mans beskik nie oor die intuïsie om uit gesiguitdrukkings en geluide afleidings te maak nie.

“Hy is nie the mentalist nie,” verduidelik Elmari. “Vertel vir hom waarvan jy hou, lei sy hand, laat hy jou reaksie hoor wanneer hy sekere goed doen. Jy gaan nie net ’n orgasme kry nie, maar hy gaan julle intimiteit ook meer geniet.”

Die uitdrukking “ek het jou lief met my hele hart” is nie heeltemal korrek nie, want jou brein is eintlik die orgaan wat alles beheer. Alles, soos in álles. Ook jou seksuele vervulling. Die groot kuns lê daarin om die sterk punte van jou brein, dit wat jou grotendeels vrou maak, in te span vir ’n meer vervullende lewe en ook sekslewe. Die groot O is daar, ook vir jou om te ervaar.

Vul hierdie vraelys in om jou Seksbrein-profiel te bepaal