Goodness, onthou jy?

Deur te onthou, maak jy God se Goedheid ’n kragtig steunpilaar in jou lewe.

Het jy al ooit gevoel dat alle hoop verlore is vir jou? Naar geword van stres en vrees vir jou toekoms?

Jou verhoudings, gesondheid, jou werk, veiligheid… bedreig deur mense, geld, siekte…deur die gebrokenheid van hierdie wêreld.
Kan jy so ’n situasie onthou wat jy wel oorleef het? Waar God, groot in genade en getrouheid, liefdevol ingetree het tot jou redding?

Ek kan.

Meer as net een keer.

Net soos God vir die Jode ingetree het, in die boek Esther, het Hy al vele kere my seer in geluk laat verander en het my verlies en rou al in mooi tye uitgeloop.

Dit is vir my moeilik om regtig my hart, my persoonlike dinge te deel. Ek weet wel, deur dit nié te doen nie, keer ek iets moois wat moet gebeur. Ek keer die onthou van God se goedheid. Mens moet praat oor jou dinge al is dit vir jou hoe moeilik.

Ek het altyd gevrees vir die dag wat ek my ouers sou verloor, hoe ek daai seer sou hanteer, hoe ek sou ophou verlang, hoe ek myself sou verwyt vir dinge wat ek anders kon doen of sê, hoe ek nie alleen wou voel nie. Toe dit wel gebeur, toe my Pa oorlede is, was dit moeilik, seer, leeg, bitter, yskoud. Maar, ek was nie alleen soos ek altyd gevrees het nie. Ek was geseën met ’n gesin se liefde en ondersteuning. My man en pragtige kinders. Alhoewel hy al meer as drie jaar weg is, is daai leeg en koue gevoel van daai tyd weg. Dit voel vir my of hy wel elke dag nog hier reg by my is as ek aan hom dink. Ek onthou hom deur soveel wat ek in my susters, hul kinders en my eie kinders sien, wat my aan hom herinner. God het vir my gesëen met die onthou van Sy goedheid in my lewe.

Watter mooi het hieruit ontstaan?

Ek het besef dat verskillende seisoene van my lewe verskillende mooi kan inhou. Ek het ook besef, dat die tyd vir aksie nóu is.

Ten spyte van my massiewe vrees vir rejection en vir mense se judgement, het ek besluit om te wees wie ek is. Ek het my pen opgetel. Begin blog. Ek wou iets van myself deel al het ek nie geweet hoe of hoekom nie. Hier is ons nou. Dalk maak dit wat ek deel ‘n verskil vir jou, dalk doen dit glad nie. Dalk reject jy my, dalk nie. Dis die ding, ek weet nie. En dis okay, al weet ek nie… ek gaan nie meer vrees vir rejection en vir judgement nie. Ek deel wat ek voel op my hart gelê word. Miskien eendag het iemand dit wat ek deel nodig. Miskien nie. Dis okay.

God het in my lewe al berge versit.

Kan ek dit wetenskaplik bewys?
Nee. Ek kan nie.

Weet ek dit in my hart?
Ja. Ek doen.

Vir my en jou is dit belangrik om daardie spesifieke oomblikke van goedheid te onthou. Dit is daardie spesifieke stories, klein of groot, wat my en jou getuienis is. Getuienis? Ja, getuienis is in my oë ons “onthou van God se goedheid”… ons kragtige baken van hoop as gelowiges. Ons kragtige wapen om hoop te deel met elke liewe persoon, wat dit so nodig het.

Hoe gaan ek en jy vandag tyd maak om God se goedheid, Sy geregtigheid, te onthou? Te deel? Te celebrate?

“And all my life You have been faithful
And all my life You have been so, so good
With every breath that I am able
Oh, I’m gonna sing of the goodness of God
I’m gonna sing of the goodness of God
I’m gonna sing, I’m gonna sing”
~ Bethal Music

Deel gerus hierdie artikel as dit op jou hart gelê is om so te doen vandag. Mag jy ’n mooi dag hê vol van God se goedheid, Sy liefde en Sy genade.

TG.

Vorige artikelVan eerstes, laastes en alles tussenin
Volgende artikelGrote pampoenspook!
Blogger - Tersia Gouws
Tersia Gouws is ’n getroude ma van twee wat voltyds werk as klientediens konsultant. Haar liefde vir kommunikasie het verseker dat sy haar vlerke kon sprei as fotograaf, skrywer, dromer en waaghals! Haar passie vir mense het daartoe gelei dat sy by verskillende welsynsorganisasies werksaam was in kommunikasie, openbare betrekkinge, bemarking en fondsinsameling. Sy gebruik steeds haar vrye tyd om betrokke te wees as ñ vrywilliger. Sy beskryf haar grootste uitdaging nóg as vrou-wees en ma-wees. Haar liefde vir lees en skryf het sy by haar pa, Joos Bothma, geëerf wat in 2016 oorlede is. Sy skielike afsterwe het haar geroep om te begin skryf met die doel om ander te inspireer en te herinner dat die lewe kort is. Volg gerus haar persoonlike blog by www.elkesekondetel.blogspot.com