Greg Kinnear beleef die oorlog in Libanon

0
98
Greg_Kinnear.jpg

As kind het Greg Kinnear, van Heaven is for Real, beleef wat dit beteken om in ’n oorloggeteisterde land te bly.

“Ek het by die sitkamer ingestap gekom,” onthou Greg van daardie tyd. “My pa-hulle het by die radio gesit en luister na ’n spesiale nuusuitsending oor die oorlog wat buite gewoed het. Waar ek gestaan het, kon ek die masjiengeweerskote hoor.”

Dis ervarings soos hierdie wat Greg Kinnear geleer het om die vrede wat hy as vanselfsprekend aanvaar het, te waardeer. Daardie dag het die realiteit en verskriklike wreedheid van oorlog miskien vir die eerste keer werklik tot hom deurgedring.

As kind het Greg ’n rustige kleindorpse bestaan gevoer waar sy pa by die departement van buitelandse sake gewerk het. Toe kry sy pa bevordering en word aangestel as die Amerikaanse ambassadeur in Libanon. Daar was groot opgewondenheid in die gesin.

Greg het die land glad nie geken nie en ook nie geweet wat vir hulle voorlê nie. Sy grootworddae in Indiana sou hom ook nooit hiervoor kon voorberei nie. “My pa-hulle was geesdriftig oor die nuwe lewe wat op ons gewag het en het uitgesien na die verhuising na Libanon. Hulle reaksie het my en my broer aangesteek.”

Ja, hulle sou hulle vriende en alles wat bekend was, moes agterlaat, maar tog was dit ’n avontuur wat gewink het. “Ons was onder die indruk dat daar heelwat pret en plesier op ons wag.”

Toe hulle daar aanland, was dit reeds vir hom vreemd om soveel mense biddend op hulle knieë te sien, gesigte na Mekka gedraai. Die avontuur het begin, het hy toe gedink. Beiroet was vir hom ’n pragtige stad, teen die kus, maar ook omring deur berge. Hulle kon soggens strand toe gaan en sommer dieselfde dag nog gaan kyk hoe mense in die berge ski. Dit het goed gegaan met die gesin. Maar nie vir lank nie …

Dieselfde jaar nog het die oorlog uitgebreek en het Greg ’n ander sy van die lewe leer ken. Teen die einde van daardie jaar is een van sy vriende se pa ontvoer. Skielik was die oorlog bý hulle. Dit het iemand na aan hom regstreeks geraak, en die werklikheid kon nie meer geïgnoreer word nie.

Vir ’n Amerikaanse kind was dit ’n openbaring om te sien hoe alles waaraan jy gewoond was, feitlik oornag verander. Die jong Greg het ’n deel van sy onskuld en sorgvryheid verloor. Bedags was daar gereeld bomaanvalle, mense het gesterf en ’n ontnugterde Greg se oë het oopgegaan vir ’n ander Libanon as die een wat hy aanvanklik leer ken het.

Snags moes hy ure lank na die geluid van ononderbroke bomontploffings en geweerskote luister. “Dit was verskriklik,” onthou Greg. “Soms het ek te bang geraak en opgestaan, net om my ouers en broer by die draagbare radio kry, vasgenael om die nuutste BBC-nuus oor die aanvalle te hoor. Aan die begin van die oorlog was dit vir my asof ons in ’n Hollywood-film beland het. Alles was so onwerklik dat ek dit amper as fiksie ervaar het. Ek was nie werklik bewus van my eie sterflikheid nie.”

Maar vir sy ouers was dit ’n saak van erns. “Hulle het probeer positief bly en voorgegee alles was reg om my en my broer gerus te stel.” Maar die situasie het versleg en die skool waarheen hulle gegaan het, is gesluit. Niemand kon meer met hulle normale lewens aangaan nie. “Ons was gevangenes in ons huis,” vertel Greg.

Later daardie jaar is hulle na Griekeland verplaas, waar hulle veilig sou wees, maar daardie tyd in Beiroet bly hom altyd by. “Ek het voor my oë gesien hoe die stad verwoes word. Al was ek net 12 jaar oud, het ek iets besef waarvan baie mense nooit bewus word nie: hoe broos – en hoe kosbaar – vrede is.”

Hy weet dat die VSA steeds by die oorloë betrokke is, maar dit word op ’n afstand gevoer en raak nie die land en sy mense op ’n daaglikse basis nie. “Ons voel nie werklik bedreig nie, nie soos mense in lande waar die oorlog feitlik op hulle voorstoep gevoer word nie.” Vir iemand wat die ander kant van oorlog beleef het, is dit nie so eenvoudig nie. “Om vrede en ’n rustige bestaan as vanselfsprekend te aanvaar kan gevaarlik wees. Ons moet waardeer wat ons hier het en daarteen waak om dit te verloor.”

Kyk hier na die voorprent van Heaven is for Real: