Gretha Wiid: Bedreig sosiale media julle verhouding?

717

As kind het jy gesing: “Pasop kleine ogies, waar jul kyk… pasop kleine oortjies, wat jul hoor …” min wetend dat dit eendag in huweliksverhoudings ook gaan geld.

Charles Spurgeon, befaamde Engelse prediker van die negentiende eeu, het gesê: “Be careful of slipping so slowly that you don’t even realise that you are slipping at all.”

Ons onderskat die invloede van buite te dikwels

Ons ken die storie van die padda wat mettertyd geleer het om in kookwater te swem. Sy meester het die water elke dag ’n klein bietjie warmer gemaak totdat hy oor ’n lang tydperk gemaklik in kookwater geswem het.

Dit wat jy eens byna as pornografies beskou het, is dalk vandag iets wat jy heel gemaklik aanvaar as deel van ’n goeie televisiereeks: “Ag, jong, die vrytonele, seksboodskappe, geweld en gevloek is maar oral. ’n Mens moet leer om jouself doof en blind te hou daarvoor.” Maar doen ons dit?

Jare gelede was dit makliker om al ons verhoudings rein te hou en te beskerm teen dit wat ons gesien en gehoor het. Maar met alles waaruit ons vandag kan kies op YouTube, Netflix en Google, moet ons baie sekerder maak dat ons nie besig is om te gly en dalk die padda in kookwater te laat verbrand nie.

Gretha Wiid: Die naakte waarheid oor affairs

Waarna jy kyk en luister, verander hoe jy dink

As ons genoeg hygromans lees of passievolle tonele op skerms beloer, meet ons ons eie huwelik en maat se aanraking na ’n ruk daaraan. Ons gewone getroude lewe lyk mettertyd maar vaal en vervelig.

Dis maklik om opgesweep te raak oor mense se uitsprake en kommentaar op sosiale media. Jy raak omgekrap oor dit wat iemand kwytraak oor politiek, taal, ras of geloof en klim heel keelvol in die bed langs jou maat. Jy hou die kommentaar van die mense dop, raak al hoe meer ontstig en kort voor lank is jy in ’n slegte bui, bang vir die toekoms en negatief oor die lewe.

Wat het dit met jou huwelik te doen? Alles! Jou gemoed, irritasie, siening oor die lewe, mans en kinders bepaal wie jy is by die huis.

Verwyder alles wat afbreek in plaas van opbou

Daar word die verhaal vertel van ’n seuntjie wat vir ’n beeldhouer gevra het wat hy so kap en beitel. “Ek maak ’n beeld van ’n perd, seun.” Die seun vra hoe die man dit gaan regkry, aangesien dit net een groot blok graniet is wat hy sien. “Dis maklik, jy kap alles af wat nie soos ’n perd lyk nie.”

Om jou huwelik rein te hou gaan daaroor om die klein jakkalsies uit te hou. Dit gaan oor waarna jy kyk en luister en die mense in wie se geselskap jy verkeer. Dalk is dit makliker as ons besluit wat ons nié in ons lewe en huwelik wil toelaat nie.

Gaan deur jou foon en vee uit wat nie daar hoort nie. Bestee doelbewus minder tyd saam met daardie negatiewe vriendin. Bedink jou keuse van boeke, musiek en dit wat jy op sosiale media volg. As jy die slegte goed uitvee en doelbewus vervang met die goeie, is jou huwelik dalk ook kort voor lank op ’n veiliger, beter en gelukkiger plek.

Gretha Wiid, huweliksgroei, seksualiteit en tieners

Kliek hier vir meer oudios, videos en artikels deur Gretha.

Gebruik die afslagkode GRETHA om die ouerskappakket LYFSLIM VIR MEISIES te koop op voelgoedboeke.co.za. R119 R169