Grimeermodes vir elke ouderdom

0
57
grimering.jpg

’n Grimeerkenner wys watter modeneigings op enige ouderdom stylvol lyk en hoe maklik jy dit kan doen.

Internasionale modeskoue wys elke seisoen uitspattige skoonheidstendense, maar die modes is nie altyd prakties nie. Skoonheidsgiere is nie noodwendig gepas vir die alledaagse lewe nie, tensy jy ’n brandmaer model is wat skaars uit haar tienerjare is. Tog wil jy in pas wees met die tydsgees en ’n slag iets nuuts met jou voorkoms probeer. Hierdie winter is daar ’n paar grimeerstyle wat in elke persoon se smaak sal val – of jy nou van ’n sportiewe, natuurlike, sexy of dramatiese styl hou. Will Malherbe is die hoofgrimeerkunstenaar van Smashbox Cosmetics in Europa, die Midde-Ooste en Afrika. Hy wys dat jy nooit te oud is om ook van die nuutste grimeertendense te dra nie.

Die “ek-dra-geen-grimering-nie” voorkoms

geen_grimering.pngStudies toon mans verkies ’n vrou met ’n natuurlike voorkoms. Geen studies is egter nodig om te bewys vroue verkies natuurlik ’n ekstra halfuur slaap soggens nie! Om dié voorkoms ’n vinnige opsie te hou, moet jy ’n bykans vleklose vel hê. As jy soos ons model, Liezl, sproete het, kan jy steeds die voorkoms kry, maar jy sal meer tyd daaraan moet bestee om jou vel te laat lyk asof dit oraloor porseleinwit is. Will vertel dat die “grimeringlose” voorkoms ’n gunsteling by Franse vroue is. Die rede? Minder grimering laat jou jonger lyk.

DOEN DIT SÓ:
1 Gebruik ’n BB- of CC-room of getinte vogroom om jou velkleur op te helder en jou vel te bevogtig. Konsentreer die grimering op jou voorkop, jou neus en rondom jou mond en skakeer dit uitwaarts.
2 Rol verbloemer met jou ringvinger onder jou oë aan. Skakeer dit sodat dit nie in die plooitjies sal versamel nie, maar jou oogarea sal verhelder.
3 Gebruik ’n blosser of verbronsingspoeier om jou haarlyn, aan weerskante van jou neusbrug en onder jou wangbene om jou gesigkontoere te definieer en beklemtoon.
4 Lipstiffie in salmpienk of ligbruin moet met jou vinger aangetik word, en jy kan ’n glinsterende lipglans net in die middel van jou mond aansmeer.

Smashbox Camera Ready BB Cream Eyes SPF 15 (R295), beskikbaar by Woolworths, Edgars en Foschini.
Almay Smart Shade CC Concealer & Brightener (R165), beskikbaar by kettingwinkels.
Michael Kors Bronze Powder (R550), eksklusief beskikbaar by Stuttafords.
Lancôme L’Absolu Rouge Lipcolor in 255 Brun Légende (R365) beskikbaar by uitgesoekte kettingwinkels.

Lees ook: Die top 6 naelmodes van 2014

[pagebreak]

Smeulende ooggrimering wat vinnig en maklik is

oog.pngDis onprakties om pikswart ooggrimering soos Kim Kardashian te dra, want dit verg baie tyd en uitstekende grimeeraanleg. Hoe ouer jy word, hoe moeiliker is dit om goed te lyk met donker ooggrimering. Will het ’n slim kortpad om ’n soortgelyke gevoel te skep met oogomlyner. Jy hoef nie ’n mooimaakfoendi te wees om dié truuk te doen nie.

DOEN DIT SÓ:
1 Kleur jou wenkbroue met ’n ligbruin oogskadu of wenkbroupotlood in. Jy wil jou wenkbroue so vol as moontlik laat lyk. Jou wenkbroue raam die voorkoms. Moet net nie swart oogpotlood vir jou wenkbroue gebruik nie. En dun strepies vir wenkbroue laat jou oud lyk en is buitendien ook oudmodies.
2 Gebruik ’n donker oogpotloodjie wat lekker sag is en nie jou oë sal seermaak nie, om jou ooglede op die waterlyn (aan die binnerand waar jou wimpers uitgroei) te omlyn. Doen dit op jou boonste en onderste ooglede.
3 Trek nou ook oogomlyner op jou boonste ooglid. Dit moet ’n potlood of jelformule wees – vloeibare oogomlyner sal nie hier werk nie.
4 Skakeer hierdie oogomlyner totdat die definitiewe lyn verdwyn en net ’n smeulende grys skakering oorbly. Jy kan jou vingerpunt, ’n klein oogskadukwassie of ’n grimeerstokkie met ’n rubberpunt gebruik om dit te doen.

Maybelline Master Kajal Khôl Liner (R49,95), beskikbaar by kettingwinkels
Essence Eyebrow Stylist Set (R36,95), beskikbaar by Clicks en Dis-Chem
Gosh Eyebrow Pencil (R110), beskikbaar by Edgars
Grimeerstafie vir smeulende effek (prys op aanvraag); soortgelykes beskikbaar by Metropolitain Cosmetics

Lees ook: ’n Foutlose onderlaag vir elke dag

[pagebreak]

Donker lippe wat nie “goedkoop” skreeu nie

lippe.png“Die regte manier om donker lipstiffie te dra is om nie donker of sterk oogskadu of blosser daarby te dra nie,” sê Will.

DOEN DIT SÓ:
1 Gebruik ’n lipkwassie en nie ’n lippotlood nie om jou mond te omlyn. ’n Dun kwassie waarvan die haartjies reguit geknip is eerder as ’n ronde potloodpunt sal jou die skerpste lipbuitelyn gee.
2 Jy het’n lipomlyner nodig, maar nie waarvoor jy dink nie. ’n Lippotlood is die beste manier om jou lipstiffie lank te laat aanbly. Jy kleur eers jou mond heeltemal met die lippotlood in. Dit gee ’n basislaag kleur waaroor jy die lipstiffie gaan aanwend. Will het ’n donkerbruin lippotlood gebruik om ons lesermodel, Monique, se mond liggies in te kleur.
3 Om te voorkom dat rooi lipstiffie in die lyntjies om jou mond in bloei, kan jy versigtig rondom jou mond poeier. Gebruik ’n deursigtige, vogabsorberende poeier vir dié doel. Lipstiffie sal nie so maklik gly en vloei as die area rondom sweet- en olievry is nie.
4 As jy nie van die lipafdruk hou wat donker lipkleur op glase maak nie, is daar ’n oplossing. Lek ongemerk die rand van die glas. Die speeksel op die glas sal verhoed dat jou lipstiffie daaraan afgee.

Smashbox Be Legendary Lipstick in Vivid Violet (R195), beskikbaar by Woolworths, Edgars en Foschini
Burst Studio Large Square Lip Brush (R153), beskikbaar by www.colourburst.co.za
NYX Slim Lip Pencil in Hot Cocoa (R62,95), eksklusief beskikbaar by Clicks
MAC Studio Fix Compact Powder (R310), beskikbaar by uitgesoekte Edgars-winkels

Lees meer: Is jou skoonheidsdilemma eintlik ’n gesondheidsprobleem?

Krediete:
Modelfoto’s: Francois Booyens. Produkfoto’s: Shaun Smith. Grimering: Will Malherbe vir Smashbox Cosmetics. Hare: Malcolm Kyle. Modelle: Gail Jenman, Monique Erasmus, Ingrid Burger en Liezl Heidtmann. Klere van Edgars.