Grimeertoerusting: Wat is noodsaaklik

418
Grimeertoerusting

Om jou grimeer-beste te lyk beteken nie dat jy onmiddellik elke borsel of kwassie op die mark moet aankoop nie.

Daar is ’n enorme verskeidenheid grimeertoerusting op die mark, maar jy het verbasend min nodig om steeds jou gesig in ’n volmaakte kunswerk te omskep.

Jy kan jou stelletjie begin met sewe basiese borsels wat aanbeveel word vir die perfekte mooimaaksessie, en hulle soos benodig aanvul.

’n Verbloemerborsel is geskik om enige klein areas te bedek en imperfeksies – van ’n puisie tot donker kringe onder die oë – te kamoefleer. Gebruik ’n plat onderlaagborsel om jou vel goed te bedek en ’n natuurlike, afgeronde effek te gee.

’n Blosserborsel het ’n skuins hoek wat die aanwending van blosser, verbronser en verligter vergemaklik en help om jou gesig se kontoerlyne uit te lig. Die hoekvormige wenkbrouborsel is weer nuttig om jou wenkbroue met dun strepies in te kleur.

’n Plat oogskaduborsel is noodsaaklik vir die plasing en aanwending van romerige en poeier-oogskadu. Die sagte, ronde oogskaduborsel is ideaal om jou skadu in te skakeer. Dit help om ’n egalige oorgang tussen verskillende kleure te verkry. 

Vir ’n meer akkurate manier om jou lipstiffie en lipglans aan te wend, kan jy ’n lipborsel gebruik. Dit is veral handig om die perfekte afwerking te verkry as jy donker kleure op jou lippe aanwend.

Verder is ’n paar oorstokkies ’n moet vir elke grimeersakkie. As jou maskara byvoorbeeld op jou ooglid beland het, kan jy ’n stokkie gebruik om dit af te vee. Wag verkieslik tot die maskara droog is. Die oorstokkies werk ook goed om jou lipstiffie se rand netjies af te rond.

JB Make up Jolanda Bedeker en Tanya van der Merwe, JB Makeup

Kliek hier vir meer videos en artikels deur JB Makeup.