Grimering wat aanbly…en aanbly

0
39

Onderlaag aan, onderlaag af. Klink dit bekend? Hier is maniere om seker te maak jou grimering lyk heeldag vars en verdwyn nie.

Die algemeenste vraag wat julle vra, is hoe om onderlaag en ander grimering te laat aanbly, nie tot middagete nie, maar totdat jy jou gesig was. Hier is die redes waarom grimering nie aanbly nie asook hoe om joune heeldag vars te laat lyk.

1 OLIERIGE VEL

“Teen negeuur is my grimering af en lyk ek sweterig!” – Wilana

Smeer ’n olievrye, langblywende onderlaag aan jou gesig. Rol ’n eiervormige sponsie oor jou vel om oortollige grimering af te haal sodat jou gesig nie maskeragtig voorkom nie. Volg dit op met kleurlose olie-absorberende poeier wat jy oraloor aanwend.

WENK Verhoogkunstenaars gebruik ’n dun lagie aanrolreukweerder op hulle voorkop en rondom hulle haarlyn en slape om sweterigheid te voorkom. Probeer dit as jy desperaat is.
The Original Beauty Blender (prys op aanvraag), verkrygbaar by uitgesoekte kettingwinkels.
Essence All About Matt! Fixing Compact Powder (R58), verkrygbaar by Dis-Chem.

2 KOMBINASIEVEL

“My neus en voorkop blink gedurig” – Karin

Die belangrikste aspek is om jou gesig reg voor te berei voor jy met onderlaag begin. Werk in lae. Gebruik eers ’n bevogtiger met ’n mat afwerking. Sodra die vogroom ingetrek het, volg dit op met ’n olieabsorberende deklaag (primer). Daarna smeer jy olieabsorberende onderlaag aan en poeier jou neus en voorkop.

WENK Vra jou huisdokter vir ’n voorskrif vir Adapaleen-jel. Dit word gebruik in die behandeling van aknee en werk oormatige olieafskeiding teë. Hou verder olieabsorberende snesies in jou handsak.
Ralo Long Lasting Liquid Foundation (R55), verkrygbaar by Ralo-winkels landswyd.
MAC Blot Film (R200), by uitgesoekte Edgars-winkels.

3 DROË VEL

“My onderlaag frommel plek-plek af al doen ek afskilfering.” – Riëtte

Jou onderlaag sal ’n gladde afwerking hê sodra jy die vogbalans in jou vel herstel. Dalk is jou afskilfermiddel te sterk. Gebruik liewer ’n produk wat sagkens werk. Jy doen dalk te gereeld afskilfering. Een maal per week is genoeg. Onthou dat afskilfering net help as jy jou velsorgroetine met vogroom afsluit.

WENK Vermy poeier. Dit sal die tekstuur van jou vel beklemtoon deur aan velvlokkies vas te klou. Gebruik ’n deklaag en daarna ’n romerige onderlaag.
Revlon Colorstay Whipped Crème Makeup SPF 20 (R239), verkrygbaar by kettingwinkels landswyd.
Gosh Velvet Touch Foundation Primer (R190), eksklusief by Edgars en Red Square.

Nog nuttige hulpmiddels sodat jou grimering aanbly

As jy vind jou oogpotlood verdwyn deur die loop van die dag, skakel oor na jel-oogomlyner. Dit is so sag soos oogpotlood en so presies soos vloeibare omlyner, maar bly perfek totdat jy jou gesig was.
Maybelline Eyestudio Lasting Drama Gel Eyeliner 24H (R110), verkrygbaar by die meeste kettingwinkels.

Voorkom daardie kenmerkende panda-oë deur eers ’n deklaag vir die oë (eye primer, soos Inglot Cosmetics s’n) aan jou ooglede te smeer. Jou oogskadu sal hieraan vasklou; dit sal ook makliker skakeer en ure lank perfek bly. Rond dit met waterdigte maskara af.
Catrice Glamour Doll Volume Mascara Waterproof (R68), verkrygbaar by Dis-Chem en uitgesoekte apteke.

Vlek jou wange en mond! Roomblosser en lipkleur met ’n vlek-effek gee ’n natuurlike blos en kleur aan jou wange en mond wat nie verdwyn namate die temperatuur styg of die omgewing jou grimering affekteer nie.
Clarins Multi-Blush Cream Compact for Cheeks and Lips (R300), by uitgesoekte kettingwinkels.

Geskryf deur Ryno Mulder