Grimering wat jou bates beklemtoon

0
56
grimering_5.jpg

Elke vrou het ’n besondere gelaatstrek. Bring jou beste eienskap na vore en jy sal die mooiste ooit lyk.

Jaareindfunksies, Kerspartytjies en die Nuwejaarsviering is om die draai. Doen ’n bietjie meer moeite met jouself hierdie feestyd. Breek weg uit jou gewone roetine en probeer iets nuuts. Fokus op jou beste gelaatstrek en jy sal sommer groter selfvertroue uitstraal. Kies uit hierdie lys wat jou beste eienskap is en volg dan ons maklike wenke vir jou mooiste partytjievoorkoms.

Jou beenstruktuur kan opvallender wees met kontoergrimering

“Kontoer” is die term wat grimeerkunstenaars gebruik vir ’n tegniek om jou beenstruktuur te laat uitstaan. Jy gebruik ligte grimering in sprankelende vleeskleure om jou wangbene, neusbrug en mond se buitelyn na vore te bring. Dan gebruik jy mat verbronsingspoeier of blosser om die holtes van jou wange dieper te laat lyk. Dis makliker as wat dit klink.

VERHELDER Berei jou gesig voor met ’n verhelderingsroom. Jou vel sal opgekikker lyk en jou grimering sal ’n beter afwerking hê. Gatineau Activ Eclat Flash Radiance Serum (R635), by salonne, is geskik vir alle veltipes.

VERBLOEM Stip verbloemer aan die binnehoeke en buitehoeke en onder jou oë aan – oral waar daar donker verkleuring of rooiheid is. Jou oogarea behoort varser te lyk. Die legendariese YSL Touche Éclat (R510), by kettingwinkels, is ’n gerieflike penformule met ’n kwaspunt.

VERLIG Jou wangbene en die kupidoboog van jou mond is die beste plekke om beklemtoner aan te wend. Dit is beskikbaar as pêrelagtige poeier of glinsterroom in ’n vleeskleur. As jy bleek is, moet jy ’n silwerwit skakering gebruik en as jy blas is, moet dit goudbruin wees. L’Oréal Paris Lumi Magique Pearl Powder in 02 Rose Radieux (R160), by Foschini, Dis-Chem en Clicks, is net dié Kersseisoen beskikbaar.

VERDIEP Laat jou voorkop en wange meer gerond lyk met mat verbronsingspoeier of blosser. Skakeer ’n klein hoeveelheid op jou slape asook onder jou wangbene. Physicians Formula Happy Booster Blush (R159), verkrygbaar by Dis-Chem, sal jou gelaatskleur verhelder.

Smeulende ooggrimering beklemtoon groot oë dramaties

Moenie dink rokerige ooggrimering beteken swart panda-oë nie. Dit is bloot die manier waarop jy enige kleur oogskadu (dit hoef nie ’n donker kleur te wees nie) skakeer. Die grimeerstyl werk boonop vir alle oogkleure en -vorme. Die resultaat is dat jou oogkleur helderder vertoon en jou oë sensueel lyk. Aangesien die klem op jou oë gelê word, kan die res van jou grimering minimalisties wees.

STAP 1 Begin met die ligste kleurskakering. Wend dit van die boonste ooglede tot onder jou wenkbroue oor albei oogbanke aan. Vee daarna die medium kleur oogskadu op jou ooglede effens op en uitwaarts verby die buitehoeke van jou oë. Kleur ook die onderste ooglede saggies met dieselfde oogskadu in. Skakeer laastens die donkerste oogskadu net op die buitenste hoeke van jou oë. Clarins Eye Quartet and Liner Palette in Colours of Brazil (R465), by kettingwinkels, se oogskadu’s kan nat of droog gebruik word.

STAP 2 Trek nou oogomlyner op jou boonste ooglede. Wet n Wild Mega Liner Liquid Eyeliner (R40), by uitgesoekte Clicks-winkels, gee intense kleur wat gou droog word.

STAP 3 Rond jou treffende ooggrimering af met Lancôme Grandiose Mascara (R399), by die meeste topkettingwinkels te koop. Die stafie van die formule lyk soos die kurwe van ’n swaan se nek. Dit maak dit makliker om selfs die fynste wimpers aan die binne- en buitehoeke van jou oog met maskara te bedek.

ONS KEUSE… Smashbox Definer Brush #15 (R300) beskikbaar by Woolworths en Red Square. Die koeëlvormige kwassie is jou geheime wapen om oogskadupoeier te skakeer totdat jy die perfekte rokerige effek verkry.

Tooi jou simmetriese, vol lippe met ’n uitspattige bessiekleur

Die meeste van ons speel veilig met lipkleur. Dit moet nie te helder of te donker wees nie. Gee jouself toestemming om dié jaar waaghalsig te wees met lipkleur. Dit is nou die tyd van die jaar waar rooi en donkerder lippe pragtig lyk en gepas is. Eksperimenteer ook met nuwe lipkleurteksture vir ’n byderwetse voorkoms. Lipkleur is immers nou in baie meer opwindende teksture beskikbaar as net die gewone lipstiffie of lipglans.

Gevlekte lippe is die slim opsie vir ’n mond met plooie Dit is die natuurlikste opsie vir lipkleur. As jy geen grimering aanhet nie, is dit ’n vinnige manier om jou gesig op te kikker. Jy kan die kleur opbou. As jy eet of drink, verdwyn die kleur nie heeltemal nie. Dit vlek jou mond en gee jou daardie jy-net-beter voorkoms. Die groot voordeel is dat dit nie soos lipstiffie in die plooitjies om jou mond sal inloop nie. Vroue wat nie hou van die gevoel van lipstiffie of hoe lipstiffie lyk nie, sal hiervan hou. Palmer’s Cocoa Butter Formula Lip Butter SPF 15 in Mixed Berry (R43), by kettingwinkels, ruik ook heerlik.

Kleurbalsem se subtiele glans laat dun lippe voller lyk Dié lipkleurvariant is ’n wenner. Dit vertroetel jou mond, gee dit kleur en is maklik om aan te wend. Dit is nie taai soos lipglans, wat in elk geval beter werk vir die jong klomp nie. Die vetkrytverpakking maak dit ’n plesier om die produk te gebruik, selfs vir die mees onbeholpe persoon. Revlon Colorburst Matte Balm in 250 Standout (R130), by kettingwinkels, voel fantasties op jou lippe. Dit gly moeiteloos aan en die kleurintensiteit is uitstekend.

ʼn Mat lipstiffie is ideaal vir ’n vol mond Die modewêreld se voorliefde vir dramatiese lippe het noodwendig tot gevolg gehad dat daar ’n manier gevind moes word om helder kleure stylvol te laat lyk. Nat of glansbedrupte lippe op ’n vol mond lyk heeltemal te uitlokkend, so, mat lipkleur is die warmste skoonheidstendens nou. MAC Retro Matte Lipstick in Ruby Woo (R195), by uitgesoekte Edgars-winkels, is waarskynlik een van die mooiste en mees ikoniese rooi lipstiffies ooit.

Kies jou lipkleur volgens jou gelaatskleur

  • As jy ’n ligte velkleur het, dra rooi lipkleur met ’n pienk ondertoon.
  • As jy ’n medium velkleur het, werk rooi met ’n bruin basis.
  • As jy ’n donker velkleur het, kies ’n ryk rooi met ’n pers of blou skakering.


Geskryf deur Ryno Mulder