Groei jy? Blom ek?

Ons het ‘n klompie jare gelede ‘n klein piesangboompie present gekry, en dit sommer vir die aardigheid geplant: aan die suidekant van die huis, darem redelik beskut so tussen die huis- en heiningmure.

Danksy die badwater wat daar uitloop, groei die boom verstommend vinnig. Sommer gou is dit hoër as die dak!

Nou nie juis iets vir die oog nie, dink ek, oppervlakkige monster wat ek is – ook maar goed dit is aan die agterkant van die huis, want die blare is maar redelik verflenter deur die wind en weer. En dis maar bosserig ook … maar ons verdra dit maar want die blote feit dat dit groei, is al ‘n prestasie. “Dis darem ietsie groen …”

Toe die boom seker so twee of drie jaar oud is, ontdek ons ‘n klein trossie piesangs tussen die blare: letterlik so groot soos my hand, met die vruggies soos vingertjies ingeryg. Ons kry dit nie ryp voordat die koue daarmee klaarspeel nie.

Die volgende jaar is ons meer paraat – voor die koue kom, trek manlief vir die trossie wat dié keer aansienlik groter is, ‘n jassie van plastiek aan, en uiteindelik sny ons dit af en maak die piesangs in die huis ryp – broeikas-piesangs! Ons neem soos trotse ouers foto’s van ons baba-piesangs en voel amper skuldig toe ons die eerste een eet! Maar dis heerlik – ons eie piesangs, weliswaar kleiner as “gewone piesangs”, maar smaaklik en sag.

Hierdie jaar hang daar sommer drie trosse in ons yslike boom: een is kleinerig, maar die ander twee is groot. Binnekort sal ons hulle moet beskerm teen die ryp – dit gaan ‘n uitdaging wees, want hulle is nogal hoog! Maar ons sal klim – ons weet mos nou dit is die moeite werd!

Soos gewoonlik is daar vir my iets meer agter hierdie storie as piesangs. Ek besef dat die piesangboom op ‘n plek is waar hy glad nie hoort nie. Hy is nie veronderstel om hier te aard nie, en tog, teen alle verwagtinge in, blom hy. En hy dra vrugte, jaar na jaar! Al wat hy vra, is om verdra te word, en ‘n bietjie hulp om hom teen die aanslae van die lewe te beskerm. Hy het nie eens ‘n maatjie nie, groei maar so op sy eentjie. Ons kon seker die boom na ‘n jaar of twee uitgehaal het, want hy het nie koelte gegee nie, was nie mooi nie, en het nie vrugte gedra nie. Gelukkig het ons nie … en kyk nou!

Blom tog maar waar jy geplant is; staan sterk en styg uit, al kry jy swaar; dit is nie noodwendig ‘n nadeel om uniek te wees nie; liefde en aandag werp altyd vrugte af; voorkoms is nie alles nie; ander se verwagtinge mag jou nooit aan bande lê nie; as jy ryp wil word, moet jy dit partykeer buite jou gemaksone en in vreemde geselskap doen …

‘n Mens kan baie leer by die natuur. Wêreldwyd. Maar dikwels is daar ‘n waardevolle les sommer so in jou eie agterplaas.

Vorige artikelOor inspirasie
Volgende artikelLewende konneksie
Blogger - Christa Grobbelaar
Christa Grobbelaar is ‘n mamma van twee volwasse dogters en ‘n juffrou van honderde. Sy en haar man, Willem, is albei onderwysers. Haar onderwysloopbaan het grootliks daaruit bestaan om vir kinders Engels te leer, maar haar graad in Sielkunde het altyd handig te pas gekom. Sy het na ‘n vroeë aftrede vir een semester in Thailand gaan skoolhou en doseer nou deeltyds Afrikaans en Engels vir onderwys- en joernalistiekstudente. In Thailand het sy met ‘n blog begin as teenmiddel teen die verlange na Suid-Afrika, maar geniet dit steeds om met die blog voort te gaan. Dié persoonlike blog, Christastories, is te sien by christainthailand.wordpress.com