Groei nader aan mekaar met hierdie gewoontes

0
22
gewoontes.jpg

Gewoontes bring intimiteit en eenheid in ’n verhouding, maar het jy en jou man genoeg daarvan? Hier is ’n paar maniere om julle eie, unieke gebruike vir elke dag van die jaar te begin.

Of dit nou is om elke Dinsdagaand te gaan fliek of om Saterdagoggende saam die koerant in die bed te lees, daar is gewoontes wat eie aan jou en jou man is. Dit ontwikkel meestal hoe langer julle saam is, maar dit kan ook doelbewus geskep word. Hier is ’n paar idees om gewoontes vir elke jaar, maand, week en dag te skep.

Met Nuwejaar

GEWOONTE: Sluip weg vir die laaste uur of so voor 2014 begin en maak ’n lys van tien hoogtepunte in julle lewe, gesin en huwelik die afgelope jaar. Doen dit elke jaar.
HOEKOM? Kort voor lank sal julle swart op wit begin sien dat dit eintlik baie goed gaan met julle. Hierdie gewoonte sal onproduktiewe, negatiewe gedagtes keer. Deur meer positief te wees, sal julle meer seën ervaar. Boonop help dit julle om saam te besluit wat julle as ’n paartjie uit julle huwelik en die lewe wil hê. As julle dit eers bepaal het, is dit makliker om goeie gewoontes vir die res van die jaar te vestig.

Een keer ’n dag

GEWOONTE: Vat aan mekaar, al is dit net vir ’n paar sekondes.
HOEKOM? As jy terugdink aan die mooiste oomblikke in julle verhouding, het daardie oomblikke heel waarskynlik ook aanraking ingesluit. Dit kan wees dat julle hande gevat het, ’n arm om ’n skouer geslaan of selfs ’n soen op ’n wang geplant het. Daardie aanraking het dit ’n onvergeetlike oomblik gemaak.
Die krag van aanraking moet nooit onderskat word nie. Dit is verskriklik belangrik om liefde en intimiteit in ’n huwelik te bring. En ons praat nie hier van seks nie. Ons praat van aanraking terwyl jou man iets gewoons doen, soos om sy rug te vryf waar hy sit en lees. ’n Gewoonte soos hierdie kan liefde kommunikeer soos woorde nie kan nie.

Een keer ’n week

GEWOONTE: Wees mekaar se cheerleaders
HOEKOM? “Men were born to fight a war, rescue a beauty and live an adventure,” skryf John Eldredge.
“En as jy dink jou man is anders,” vertel huwelikskenner Gretha Wiid, “maak jy ’n groot fout. Een van ’n man se grootste behoeftes is bewondering en ’n erkenning van sy manwees. Dis nou maar net hoe hulle aanmekaar gesit is.”

’n Maat wat jou ondersteun en aanmoedig, kan wondere vir jou selfbeeld verrig. Ons almal weet dis afbrekend om negatiewe opmerkings teenoor jou man te maak, maar hierdie gewoonte gaan nie net oor die afwesigheid van negatiwiteit nie, maar oor ’n goeie dosis aanmoediging en positiewe opmerkings.
Navorsing het bewys dat suksesvolle huwelike bestaan uit maats wat werklik op soek is na die mooie in mekaar. Prys en moedig jou man aan nie net oor die dinge wat hy doen nie, maar ook oor die mens wat hy is. Julle moet mekaar se grootste ondersteuners wees.

Een keer ’n maand

GEWOONTE: Hou ’n maandelikse vergadering waar julle die lug ’n bietjie suiwer.
HOEKOM? Soms is ’n mens so besig met die kinders en jou werk dat dit nodig word om ’n vergadering met jou wederhelf te reël waar julle ongestoord oor belangrike goed kan praat. Sit ’n uur of wat opsy en gesels oor die dinge wat nie die afgelope maand opgelos is nie. As julle byvoorbeeld verskil het oor die manier waarop julle die kinders dissiplineer en dit nog nie ordentlik bespreek het nie, is dit die ideale geleentheid daarvoor.

Gesels oor hoe julle emosioneel op die oomblik voel. Weet jy hoe voel jou man nadat hy sy beste vriend verloor het? Hoe cope hy? Vind uit. Vertel hom ook hoe dit met jou gaan, enigiets wat jy graag wil hê hy moet weet. As jy eensaam voel binne die verhouding, vertel dit vir hom.

Meer praktiese goed soos finansies moet ook bespreek word. Kyk na julle uitgawes die afgelope maand. Wat is julle finansiële posisie op die oomblik? Gee een van julle nie miskien meer uit as wat julle in hierdie stadium kan bekostig nie? Finansies is een van die grootste struikelblokke in huwelik – gesels daaroor.
Gewoontes help jou om verantwoordelikheid vir jou eie geluk te aanvaar. Soms verg dit ’n bietjie opoffering om die gewoontes te vestig, maar dit is beslis die moeite werd.