Groei-reën

Vandeesweek moes ek inderhaas terug Vrystaat toe. Laas toe ek daar was het ‘n ooi en haar lam al in die stofpad geloop en skop-skop opsoek na iets om te eet. Stofpad en langs-die-pad het dieselfde heeltemal niks oorgehad.

Maar hierdie week het die grasveldstreek van mnr. Serfontein se Aardrykskundeklas ruig in die wind gebuig en opgestaan, gebuig en opgestaan. As daar ooie en lammers was, het hulle dalk tussen die digte gras wegkruiper gespeel, want sien het ek hulle nie. Die dam wat altyd ons maatstaf van reënval was oppad Bloemfontein toe, het nouwel nie geblink in die sonlig nie, maar die kikoejoe daarbinne het seker maklik tot bo die knie gestaan.

Dis ongelooflik wat tyd en die regte reën kan vermag.

“It is true that time will begin to deaden the pain.
However, time doesn’t heal anything.
Time buries our hurts,
numbs our senses,
but the Bible does not say that time alone solves anything…
We must face the fact that time is not the great healer.
Jesus Christ is.”

Ek kan nie help om te dink dat Petrus se val die grootste spyt in sy lewe was nie. Hy het dan so geglo dat sy voete stewig geplant was! Tyd alleen sou egter nie genoeg wees om vanuit die gat van sy selfveragting te kom tot bo-op die heuwels waar Hy Jesus sou verkondig nie. Tyd alleen kon nie daardie wond weer heel nie. Dit begrawe net lewendig, verdoof net die pyn.

Jesus nooi egter vir Petrus terug vuur toe.

Daar waar Petrus gestaan en drie keer ontken het dat hy Jesus ken.
Daar waar Jesus hom drie keer vra en drie keer kry Petrus dit reg.
Pynlik? Heel moontlik.
Genesend? Nodig…

Laat ons mekaar egter nie mislei nie. Petrus moes genees in tyd vir sy volgende uitdaging.

“Petrus en Johannes was nog besig om met die skare te praat toe die bevelvoerder van die tempelpolisie en ’n klomp van die Jode se godsdienstige leiers daar aankom.
Hulle was woedend omdat die apostels vir die mense gesê het dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat elkeen wat dit glo, ook uit die dood sal opstaan.
Daar op die plek het hulle toe vir Petrus en Johannes gevang en in die tronk gegooi.
Die twee apostels moes in die tronk bly tot die volgende oggend…”
Handelinge 4:1 Die Boodskap

Tyd. En die regte reën…

“Intussen het baie mense in Christus begin glo.
Die kerk in Jerusalem se ledetal het tot by die 5 000 aangegroei.”
Handelinge 4:4 Die Boodskap

Wie weet hoe ons eie voeteglip ‘n ander se val kan keer? Watter maatstaf is daar wat 30, 40, 50 jaar in die toekoms in kan meet watter invloed die opregte gebed van ‘n gelowige kan hê?
Gebed waarvan die vir wie daar gebid is dalk nooit eers van sal weet nie?

My eie, effektiewe koninkryk bou hang egter nou saam met my eie heelword.
Ek kan nie koninkryk bou terwyl ekself stuk-stuk aan flarde is nie.
Al wil die groot misleier my dit laat glo.

Tyd is goed. Dit laat ons dinge in perspektief sien.
Maar glo ek dat uitstap in die sagte, deurdringende reën van Sy genade uiteindelik die enigste manier is om weer groenigheid op die dorre land te kry?
Teruggaan misdaadtoneel toe is makliker wanneer die reën saggies om jou val en jy weet: hierdie is die regte reën. Hierdie is groei-reën.
Die merke en vlekke van ou wonde was met die afloopwater weg en jy kom skoon anderkant uit.

“Daar is nie nog ’n God soos die Here nie.
Hy vergewe die mense van Israel wat oor is vir alles wat hulle verkeerd gedoen het.
Hy bly nie vir altyd kwaad nie. Hy wys vir sy mense dat Hy vir hulle lief is. Hy sal ons weer jammer kry. Al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, sal Hy onder sy voete vertrap.
Hy sal nog meer as dit doen, Hy sal dit baie diep in die see gooi.
Dit sal so goed wees of hierdie verkeerde dinge nooit eers gedoen is nie.”
Miga 7:18 Die Boodskap

Jou temalied vir die week: Sleep in the storm

Vorige artikelDapper om vervolging in die gesig te staar
Volgende artikel[VIDEO] Ken die verskillende tantrums
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!