Groen vingers

Die arme plantjies hang, dit lyk asof ‘n groot vloed dit getref het. “Hoeveel water het jy dit gegee?” vra Richard.”

Wel, laat ek dit so stel, antwoord ek, ek het probeer opmaak vir die laaste twee weke van droogte.

Om groen vingers te hê, is taamlik maklik. Lees die instruksies op die pakkie en volg dit. Net ‘n klein bietjie water, hou die grond klam, moenie die plantjie in direkte sonlig sit nie – volg die basiese instruksies.

Gehoorsaamheid en geloof is twee basiese bestanddele vir ‘n vrugtevolle lewe. Soms hou ons die saad so styf in ons hande vas omdat ons so bang is om dit te laat gaan. Maar hoe gaan daardie saadjie ontkiem as jy dit nie in geloof afstaan en in die grond plant nie, hoe gaan daardie saadjie in ‘n pragtige plant verander as jy dit nie gereeld liefde gee nie. Hoe gaan enige plant groei as jy dit die hele tyd weer opgrawe.

Jy het nie beheer oor die groeiproses nie, jy het net beheer oor hoe jy die instruksies volg. Nie een van ons kan fisies die plantjie laat groei nie. God is getrou, al is ons soms ontrou. Al wat Hy van ons vra is om in liefde te lewe, ‘n sagte woord keer die grimmigheid af, vergewe en lewe met ‘n oop hart en hand, gee jou beste in alles wat jy doen.

Ja, onkruid gaan ook opkom en jou plantjies probeer verdring, maar moenie die goeie saam met die sleg weggooi nie. Niemand het gesê die lewe gaan net ‘n blomtuin wees nie, soms gaan jy moet tyd insit en onkruid uittrek. Dit is soms die onkruid wat ons herinner aan die goedheid in die lewe, die onkruid maak ons sterker.

Jy het nie beheer oor wat alles in die lewe gebeur nie, maar jy het wel beheer oor die besluite wat jy neem. Hy is die een wat die saad laat ontkiem, Hy is die een wat jou plant laat groei. Doen wat jy kan en weet dat Hy alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom lief het.