Groepsdruk: Wat moet jy doen?

0
1499
groepsdruk.jpg

Waaraan word jou kind daagliks blootgestel? Het jy enigsins beheer oor wat die groep jou kind laat doen?

Hoekom doen tieners presies dit wat ’n mens vir hulle sê om nie te doen nie? Nee, dis nie om jou te tart nie! Hulle doen dit omdat hulle vriende dit doen en dit die fase is waarin hulle verkeer. Wanneer die tienerjare aanbreek, onttrek jou kind hom al hoe meer van jou, want hy leer hoe om lid van ’n groep te wees. Om in te pas (of nie) is uiteindelik dit wat jou tiener se ontwikkeling aanspoor en definieer wie hy is. Maar is daar iets wat jy kan doen om jou kind teen groepsdruk te beskerm?

Jy móét die grense stel

Marna Winter, ’n voorligtingsielkundige van Centurion, waarsku dat jy jou kind meer opstandig maak as jy hom verbied om iets te doen. Tog moet jy steeds vir hom riglyne gee oor wat aanvaarbaar is en wat nie.

Dink só daaraan: Besluitneming is soos ’n vertrek. In die middel is al die “maklike” besluite: die musiek waarvan hy hou, watter klere sy aantrek of haar gunstelingfilmster. Die mure van die vertrek is die “moeilike” besluite oor gesondheid, veiligheid en skoolwerk. Alles in die middel van die vertrek kan hy self oor besluit, maar as hy aan die mure begin druk, moet jy terugdruk. Maak die grense duidelik: “Nee, jy kan nie alkohol gebruik nie. Nee, jy kan nie tot tweeuur uitbly nie.”

Maak jou gesin se waardes baie duidelik sodat wanneer hy later na iets soek om aan vas te hou, hy wel ’n anker sal hê.

Jy móét jou kind beskerm

Jy het dalk nie beheer oor wat jou tiener buite in die “grootmenswêreld” doen nie. Jy kan egter beheer uitoefen oor wat in jou huis gebeur. Dit sluit die inligting in wat jou huis binnekom deur middel van byvoorbeeld haar selfoon, televisie en die internet. Al hierdie dinge kan haar aan negatiewe idees bekendstel wat deur die groep aangehang word.

Dink só daaraan: As jy ’n kind in ’n besige straat sien struikel en val, gaan jy nie aan die padreëls dink nie. Natuurlik gaan jy hardloop om hom te help voor ’n motor oor hom ry! Dieselfde geld vir jou tiener en groepsdruk: Ja, jy moet jou kind se grense respekteer, maar as jy vermoed hy gebruik dwelms, kan jy nie dat sy “persoonlike ruimte” jou keer om iets te doen nie.

Kry byvoorbeeld programme om te sien watter webtuistes hy besoek. Gaan haar selfoonboodskappe na en keur hulle rekenaarspeletjies goed. Dis nie nodig om dit in die geheim te doen nie. Wees eerlik: “Ek gaan jou Facebook nagaan. Jou veiligheid en gesondheid is vir my belangrik, so, dís wat ek gaan doen. Ek verstaan dat jy nie daarvan gaan hou nie, maar dis wat ek gaan doen.” Dis immers jóú huis en jý is die volwassene.

Jy móét jou kind laat uitgaan in die wêreld

Wanneer jou kind by die deur uitstap, het jy geen beheer oor waaraan hy blootgestel word nie. Dink só daaraan: Jou kind leef in die wêreld; daarom gaan hy met die wêreld te doen kry. Jy kan hom elke dag self skool toe vat sodat hy nie blootgestel word aan wat op die skoolbus gebeur nie. Maar wanneer hy by die skool kom, kan jy nie meer dit waarmee hy in aanraking kom, beheer nie. Jy móét laat gaan.

Al beheer wat jy oorhou, is die waardes en beginsels wat jy vir jou kind geleer het. Maak dit van ’n jong ouderdom af al vir hom duidelik. Byvoorbeeld: “Sien jy daardie man wat rook? Dis so sleg vir ’n mens. Ek dink nie mense behoort dit te doen nie. Dit kan jou baie siek maak.” Dalk sê jou kind: “Hoekom doen hy dit dan?” Jou antwoord kan wees: “Omdat hy nie na sy ouers geluister het nie.” Maak dit altyd duidelik dat sy ouers nie wou hê hy moet dit doen nie; dat hulle vir hom gesê het hy moenie rook nie.

Jy bestee jare daaraan om jou kind te beskerm; jy is gereed om voor ’n bus in te spring om haar te red. Maar as die dag aanbreek dat sy ’n risiko loop of iets gevaarliks doen, is jy magteloos. Dis aaklig, maar ouerskap is nie vir papbroekiges nie! Moenie probeer om teen die groep te baklei nie. Doen wat jy kan en bly op jou knieë.

Vertaal en verwerk uit ’n artikel van James Lehman

FORUM:
Dink jy ouers is geregtig daarop om op hulle kinders te spioeneer, soos om hulle selfone na te gaan? Gesels saam op ons Oulike Ma forum.

’n Nuwe tiener in 7 dae met Rodney Seale

Jy as ouer van ’n tienerkind het die uitdagendste en belangrikste taak in die wêreld en jy kán ’n sukses daarvan maak. Met hierdie werkswinkel kan jy al die kundigheid, al die lewenswysheid en die ervaring van Rodney Seale jou eie maak, sodat jou kind se tienerjare iets is wat julle nie net oorleef nie, maar ook geniet.

Rodney is ’n motiveringspreker met meer as 27 jaar ervaring in die veld wat al meer as 900 000 tieners se lewens geraak het. Dit is sy passie om tieners en hulle ouers te help.

Jy word uitgenooi na ons tiener werkswinkel. Dit word op Saterdag 10 Mei by Stone Cradle in Pretoria aangebied.

Kliek hier vir meer inligting.