Groepsdruk

Een van ons bure in die straat waar ons bly, het vyf honde. Dié gehegte groepie honde blaf feitlik net wanneer iemand reg voor die heining van hulle erf verbyloop.

Die enigste ander tyd wat hulle ernstig blaf, is wanneer een van ons die slot van die skuifhek voor by ons oprit gaan oopsluit.

Die heining tussen ons en die bure is maar ongeveer een meter hoog, dus kan die honde sien wanneer ons by die hek staan om die slot oop te sluit. Dan storm al die honde, met die uitsondering van die St Bernard, op die gemeenskaplike heining af en blaf verwoed vir ons. Die twee Jack Russels is natuurlik altyd aan die voorpunt.

Verlede week met ons tuiskoms na die dag se werksaamhede, vind ons een van die Jack Russels (Tjoppie) buite op die sypaadjie voor sy eienaar se huis. Tjoppie lyk half verlore want hy kan nie in sy erf kom nie. In ons besorgdheid vir Tjoppie se welstand, gaan lui ek die bure se klokkie sodat hulle die hond kan inlaat. Dit blyk egter dat niemand tuis is nie. Tjoppie het waarskynlik uitgeglip toe die laaste persoon gery het.

Ons is egter besorgde diereliefhebbers en wil mos graag vir Tjoppie weer terug in sy erf sien. Netnou kom hy iets oor. Ek roep dus maar vir Tjoppie met die idee dat ek sal poog om hom op te tel en dan maklik oor die lae heining te sit. Tjoppie kom versigtig treetjie vir treetjie nader geloop totdat hy my uitgestrekte hand begin lek.

Net toe ek poog om hom op te tel, gewaar sy vriende my en storm met ‘n groot kabaal op die heining af. Daar besluit Tjoppie toe hy vertrou nie meer die vrede nie. Hy rittereer vinnig en begin toe ook saam te blaf. Dit het dus ‘n einde gebring aan ons poging om vir Tjoppie te help. Ons moes hom maar laat begaan. (Sy mense het darem so ‘n ruk later opgedaag en kon hy hom weer by sy makkers aansluit)

Al laggend op pad deur toe skerts vroulief” Ja-nee, selfs ‘n hond kan swig onder groepsdruk”.

Die mens het ‘n behoefte daarna om te behoort. Om geliefd te voel en te weet daar is ander wat vir my omgee en ook my belange op die hart dra. Mense met wie ek in familieverband en op die gebied van kuns, akademie, sport, ontspanning, ensovoorts kan “connect”. God het ons as sosiale wesens gemaak. Dink maar aan Adam en Eva met wie Hy elke dag in die tuin van Eden gesels het.

As tiener is dit dikwels moeilik om jou man te staan in groepsverband. Dan onderdruk ons soms ons teenstrydige opinies bloot omdat ons nie “uit” wil wees nie, want dalk verloor ek my maats en dan is ek stoksiel alleen.

Jesus was die toonbeeld van iemand wat omgekeerde groepsdruk toegepas het. Hoe meer die Fariseërs en ander geleerdes van sy tyd vir Jesus en die mense deur reëls en regulasies probeer voorskryf, des te meer het Jesus die boodskap van liefde, genade, hoop, geloof en ander belangrike koningkryk beginsels verkondig. Hy het na mense uitgereik wie deur die samelewing (groepsdruk) verstoot is.

Jesus het egter ook geweet dat die menigte wat hom gevolg het, nie altyd daar sou wees vir Hom nie (kruisiging). Hy het geweet wie Hy was en wat Sy doel op aarde is en dat Hy nie sy woorde en optrede kon aanpas net om mense tevrede te stel nie. Vandag pluk ons die vrugte van Iemand wat sy man gestaan het ondanks die groepsdruk van Sy tyd.

Om deel te wees van ‘n groep beteken nie dat ek my identiteit en waardes moet prysgee ten einde te konformeer nie. Ons het tog meer respek vir iemand wat sy/haar man staan in integriteit en geloof ondanks die feit dat almal om hom/haar nie met hom/haar saamstem nie.

Laat ons derhalwe soos Jesus die wêreld om ons vir Sy koningkryk beinvloed en nie andersom nie.