Groot gesin, groot liefde

0
713

Vir sakevrou en motiveringspreker Zantie Swanepoel is onvoorwaardelike liefde die gom wat hulle moderne gesin saambind. Sy tref geen onderskeid tussen haar hartskinders en haar biologiese kinders nie.

Stokmankarikature op die agterruit van ’n motor verklap baie oor gesinne. Die tradisionele stokmangesin? Heel waarskynlik ’n pa, ma en twee kinders. Selfs vierpotige gesinslede het soms ’n spesiale plekkie tussen Boetie en Sussie.

Saamgestelde gesinne is ’n kleurryker affêre, maar dis wat hulle interessant maak. Ons kroos is gróót. Ses stokmannetjies – plus ma en pa – sal die hele agterruit toeplak. Maar ek beskou elke gesinslid as ’n unieke legkaartstuk wat saam ons unieke geheelprentjie vorm.

Met saamgestelde gesinne is daar dikwels grense tussen “myne” en “joune”. In ons huis was daar egter nog nooit dié tipe verdeeldheid nie. Die woord “stiefkind” was nimmer deel van my woordeskat. Al het Louwerens se twee kinders uit sy vorige huwelik nie dieselfde DNS as ek nie, was hulle van die eerste dag af “ons s’n”.

[VIDEO] Hoe versterk familiegebruike en -tradisies gesinsbande?

Ek het my hartskinders net so lief soos my vlees en bloed. ’n Baie groot lokval is om kinders uit ’n ander verhouding as “deel van die pakket” te sien. Daar is dadelik ’n negatiewe konnotasie. As hierdie onderskeid eers getref word, raak dit soos klitsgras in ’n verhouding. Dit krap en pla en is baie moeilik om van ontslae te raak. ’n Mens moet natuurlik ook daarteen waak om iemand anders se rol as ouer te probeer kaap. Daar ís grense.

Vir my gaan ouerskap nie net oor biologiese verwantskap nie, maar om heelhartig in ’n kind se lewe te belê. Dit is ’n besluit om iemand met ope arms in jou lewe te verwelkom. In hierdie verband was my stiefpa ’n wonderlike rolmodel. Hy het my geleer dat liefde ’n onbreekbare is band wat mense saamsnoer. My wens was om dié tipe omgee met my nuwe kinders te deel.

Dit is vir kinders ’n groot aanpassing om skielik lid van ’n nuwe gesin te wees. Dit skep baie angs en onsekerheid. Daarom moet ’n mens met begrip ’n omgewing probeer skep waar hulle veilig kan voel. Die één boodskap wat ek oor en oor tuisgebring het, was dié van onvoorwaardelike aanvaarding. Ek kon nie genoeg “Ek is lief vir jou” sê nie.

Om kinders van die eerste dag af deel te maak van ’n nuwe gesinstruktuur is van onskatbare waarde. Meruschka en Marlou is kleins af betrokke by hulle jonger sussies se lewens. Hulle het gedeel in die opwinding van al die swangerskappe en die rits nuwe babas in die huis. Só het elkeen hulle eie unieke identiteit as ousus en ouboet van vier jonger sussies uitgekerf.

Die kosbaarheid van familiebande is van jongs af by al ons kinders ingeprent. Daar was nog nooit plek vir sibbe-jaloesie of witbroodjies nie. Elke kind weet dat hy of sy soms die stukkie van die legkaart is wat moet inpas om ’n ander stukkie te laat uitstaan. Soms pas almal in om daardie persoon uit te lig.

Liefde en aanvaarding gaan verder as ouerliefde en sibbebande. Kinders leer meer uit wat hulle ouers doen as wat hulle sê. Om lief te wees vir mekaar is die grootste geskenk wat ouers hulle kinders kan gee. Ek en Louwerens het ’n verantwoordelikheid teenoor ons kinders om mekaar te koester en te versorg.

Die meeste van ons kinders is al volwasse en lei hulle eie lewens. Een ding het egter nie verander nie: Vir ons beteken “gesin” ’n hegte eenheid waar verhoudings gekoester word.

Daar is geen formule vir ’n gelukkige saamgestelde gesin nie. Foute maak is deel van die proses. Maar met ruimte vir aanvaarding en liefde kan enige verhouding werk – ongeag hoe moeilik dit mag wees. My is raad om ’n unieke identiteit vir jou saamgestelde gesin te skep. Kies wat vir julle werk!