Gun mekaar eie–tyd

659

“Ons glo dat ruimte vir elkeen se belangstellings binne die huwelik ’n voorwaarde vir geluk is.” – SUE en JP DUMINY

Onwetend het ek ’n deel van myself vroeg in ons huwelik verloor. Die lewe het begin draai om my man, JP. Toe het dit soos die regte ding gevoel om te doen. Asof iemand dit van my verwag het. Maar niemand het nie…

Dinge het stilgestaan, want daar is altyd vir hom gewag. Sy vryheid van beweging het voorrang geniet. Dit was altyd oor wat hy wou doen. Hy het gereeld gaan gholf speel en by sy pelle gaan kuier. Ek het heeltyd gekies om alleen tuis te bly. As hy gaan krieket speel het, het ek in die hotelkamer gewag. By die huis het dinge gevries tot hy terugkom van sy oefening af.

Hoe kon dit hom nie pla nie? Verskeie emosies het daardie tyd begin broei. My frustrasies sou sommer sý skuld wees. Woede en vrees het my gevange gehou.

Vryheid in die huwelik is tog moontlik, of hoe? Gedagtes om “hom terug te kry” was ’n werklikheid! Tog was daar ’n opregte soeke na dinge wat my gelukkig maak. Maar ek het ook totaal die fokus van my roeping verloor. Dit het my ’n lang tyd en baie selfvertroue geneem om weer vir Sue te vind.

Om op jou eie passies te fokus is nooit verkeerd nie. Mettertyd het ek stokperdjies begin doen. Dit was pottebakkery, gholflesse, wedlope en selfs die bywoning van allerhande werkswinkels. Dinge wat kreatiwiteit, inspanning en inspirasie bring.

Tye wat voorheen hartseer en alleenheid veroorsaak het, is nou hoogtepunte. Ek het al selfs alleen op ’n avontuur oor die waters gegaan. Soms is sy kriekettoere die kans vir my vir ’n korttermynprojek of om ’n boek te lees wat my inspireer. Maar selfs as JP langer tye tuis is, deel ons met gemak die behoefte om ’n “me-time”-dag te hê.

Voorheen sou ons skuldig gevoel het om dit vir mekaar te sê, maar nou sien ons hoe vryheid binne die huwelik nuwe vreugde bring. Die band van vertroue het sterker geword. Daar bestaan ook nou meer respek vir mekaar. Ons kommunikasie verdiep, terwyl elkeen opgewonde raak oor die ander een se belangstellings.

’n Mens moet nooit jou geluk, passies of jou drome prysgee nie. As julle belangstellings het wat julle saam kan uitleef, soos bergklim, fietsry, gholf of reis, is dit fantasties! Te midde hiervan is dit ook reg om te verskil oor hoe ontspanningstyd lyk. Vir my is dit om te gaan stap, ’n nuwe plek te verken en foto’s te neem. Vir JP is dit om in die bed te lê en fliek kyk.

Vryheid beteken nie jy wil wegkom van jou maat af nie. Dit is om jouself in ’n spasie te plaas om wéér introspeksie te doen. Om tyd saam met jouself deur te bring. Dit is vir ons belangrik om mekaar vryheid te gee, onafhanklik te wees en seker te maak ons individualiteit groei.

Elkeen van ons het ’n vlammetjie wat in ons binneste brand. Dit is jou man of vrou se verantwoordelikheid om jou te help dat daardie vlammetjie aanhou brand.

Dit is wonderlik om daardie balans van vrye tyd en gehaltetyd in die huwelik te vind. Elkeen van ons is vry om te doen wat ons gelukkig maak met ons maat se totale ondersteuning.