Gun sukses vir jouself en vir ander

Ek sien onlangs hoe ‘n vrou negatiewe kommentaar lewer op haar sosiale media oor die sukses wat ‘n ander vrou behaal het.

Ek lees twee keer deur die kwetsende woorde en ek wonder wat het die reaksie by haar aangewakker. Voel sy minderwaardig of bedreig? Sou sy graag die sukses self wou behaal het? Sy is nie meer ‘n jong vrou nie, mens kan dus die uitbarsting nie toeskryf aan jeugdigheid of ‘n gebrek aan ervaring nie. Ek wonder ook hoe het sy gevoel nadat sy haar kritiese opinie gelewer het. Het dit haar beter laat voel? Het sy genoegdoening daaruit gekry? Het dit haar ‘n sterker vrou gemaak noudat sy ‘n ander vrou kon afbreek? Ek sit myself vir ‘n oomblik in die vrou wie sy kritiseer se skoene – haar negatiewe woorde sal my verseker seermaak en ek sal teleurgesteld voel in haar, maar met my kompeterende geaardheid sal sulke nydigheid my beslis motiveer om sommer net nog groter hoogtes te bereik. So wat het sy nou eintlik bereik deur ‘n ander vrou te kritiseer en af te breek op sosiale media?

Dis eintlik hartseer dat vroue dikwels geneig is om venynig te wees teenoor ander vroue wat sukses behaal en eerder ander vroue sal kritiseer en probeer afbreek as om mekaar te prys, op te bou en te ondersteun. Daardie ander vrou moet asseblief tog net nie bietjie mooier, maerder, slimmer, meer suksesvol of skynbaar in ‘n meer stabiele verhouding wees nie. Dit bring die tierwyfie se naels uit.

Jaloesie word nie verniet die groen monster genoem nie. Jaloesie is ‘n lelike ding. Wees eerlik met jouself, as daar tekens van jaloesie is binne-in jou en jy sukkel om ander se sukses te aanvaar, roei dit uit. Jou kwetsende woorde, kritiek en geskinder gaan wel daardie vrou seermaak, maar dit gaan haar geensins minder suksesvol, minder mooi of minder slim maak nie. Inteendeel jaloesie en om ander af te breek sê ongelukkig meer van jou eie onsekerhede en karakter as van daardie vrou wat jy kritiseer. Boonop het hierdie negatiewe gedagtes en kritiek ‘n negatiewe impak op jou emosionele welstand en dit hou jou terug om jou volle potensiaal te bereik.

Nee dames, laat ons leer om ander vrouens se suksesse te aanvaar en dit saam met hulle te vier. Dit gaan absoluut niks wegvat van jou af nie. Onthou God se genade en seëninge is groot genoeg vir ons almal om dit ten volle te beleef en te geniet. God het die son groot genoeg geskape om op ons almal te kan skyn. Elke vrou is geregtig op haar stukkie sonskyn, laat die son toe om op haar ook te skyn. Daardie ander vrou werk waarskynlik net so hard, indien nie harder nie, as jy vir haar sukses. Leer om mekaar te verdra, te ondersteun en op te bou. Fokus op jou eie sukses, jou geluk en om die beste jy te wees. Jy verdien sukses en so verdien elke ander vrou ook sukses. Gun sukses vir jouself maar ook vir elke ander vrou daarbuite.

Vorige artikelHidden Figures
Volgende artikelNie meer ‘n dooie hond nie
Blogger - Ronel Jooste
Ronel Jooste is ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester met meer as ‘n dekade se korporatiewe ervaring in die bank, versekering en beleggingsindustrieë. Huidiglik het sy haar eie finansiële welstand maatskappy genaamd FinanciallyFiTLife. As finansiële coach en konsultant help sy mense met hulle persoonlike finansies; besighede met hulle besigheidsfinansies en bied ook werkswinkels en finansiële welstandprogramme aan. Ronel het haar eie finansiële geselsprogram op All-Time Radio; sy skryf graag artikels vir verskeie publikasies asook haar eie blog; en tree as spreker op by geleenthede waar sy haar passie vir finansiële fiksheid deel. Saam met haar suster besit sy die PhysEQFiT Gastehuis en privaat gym in Centurion. Ronel is ‘n fiksheidsfanatikus en hardloop, gym, gholf en fietsry is deel van haar daaglikse leefstyl. Haar droom is om mense te inspireer om ‘n gesonde, aktiewe, gelukkige en finansieël welvarende leefstyl te leef. Besoek Ronel se webtuiste www.financiallyfitlife.co.za vir meer blogs, hulpmiddels en hoe Ronel jou kan help met persoonlike of besigheidsfinansies.