Gwen Koopman: Seerkry is nie vir altyd nie

0
13

Kan ’n egskeiding genoeg rede wees vir ’n vrou om haar eie lewe te neem? In Gwen Koopman se geval was dit drie keer meer as genoeg…

“Een Sondagmiddag het my man die mat onder my uitgeruk. Hy het genoeg gehad. Ons huwelik was verby. Die skok was so groot, ek het vir ’n lang ruk daarna nog verslae gesit. Daar was net een uitweg. Ek moes my eie lewe neem.

Ek het badkamer toe gegaan en al my depressiepille eensklaps gesluk.

My man het onraad vermoed, op my afgekom en hospitaal toe gejaag. Ek moes daar bly vir ’n paar dae om te herstel. Toe bak hy weer mooi broodjies. Alles sou oukei wees, het hy belowe. Ons sou nie voortgaan met die egskeiding nie. Ek het weer kans gesien vir die lewe.

Maar hy het gejok. Niks was dieselfde toe ek teruggaan huis toe nie. Ek het verraai en verwerp gevoel.

Minder as ’n maand later het alles weer vir my te veel geword. Ek het weer pille gesluk en ek is weer in die hospitaal opgeneem. Maar ten spyte van my tweede poging wou my man steeds skei. Dit was verby, maar ek wou dit nie aanvaar nie. As hy my los, sou dit my minderwaardigheid bevestig, sou dit ’n bewys wees dat niemand vir my lief kan wees nie. Ek het nie van myself gehou nie, en ek was doodbang dat ander mense ook nie van my hou nie. Daarom was dit vir my net te veel toe my man my verwerp.

Daarna wou ek ’n paar keer weer selfmoord pleeg. Ek wou myself voor ’n kar ingooi, maar daar was altyd iemand by my om dit te verhoed. Ek het pille versamel by verskillende apteke. Geen dokter wou meer vir my pille voorskryf nie.

Ek het my man aanhou smeek om by my en my dogter te bly, maar hy wou niks weet nie. Na ’n argument het hy gery, en ek vir die derde keer ’n handvol pille gesluk. Ek het by God gepleit om agter my dogter te kyk. Op my eie het ek nie kans gesien nie. Dit klink dalk selfsugtig, maar my lewe het so hopeloos gevoel. My eie eggenoot het nie eens meer vir my kans gesien nie, en ek het gedink niemand is lief vir my nie. Ek sou altyd alleen moes aansukkel. My lewe sou nooit verander nie.

My man het vroeër teruggekom en my bedwelm gevind. Weereens is my lewe gered. Ek was regtig teleurgesteld.

Nie lank daarna nie ontmoet ek toe geestelike beraders. Vir die eerste keer het ek God werklik ervaar. Ander gevoelens het in my begin vlam vat – ’n oorweldigende gevoel van liefde wat ek nie voorheen geken het nie. Dit het al die hartseer en pyn weggebrand. Ek kon nie glo dat ek so gelukkig kan voel nie.

Ek het al die pille waarop ek was, antidepressante en slaappille, gelos. My depressie het genees, sonder dat ek verder medikasie hoef te gebruik het. Wat ’n klomp pille in jare nie kon regkry nie, het God in een middag genees!

Ek is vandag ’n gelukkige enkelma. As ek geweet het watter wonderlike dae nog vir my wag, sou ek nooit daai pille gedrink het nie. Ek is so dankbaar dat al drie my selfmoordpogings misluk het. Dit sou my van ’n leeftyd se gelukkige herinneringe ontneem het. Elke oomblik wat ek asemhaal is nou vir my kosbaar .

Bevestiging: Na elke donker nag sal die son weer sky. Wag geduldig.