Haak jou karavaan, ons gaan kamp!

0
380

Tips & Trix met Mimi en Stiaan is ’n lagwekkende nuwe Televisie minireeks van ATKV-Sake wat reeds vanaf 4 Mei op Die Groot Ontbyt afskop.

Dié minireeks beloof waardevolle wenke en vinnige truuks vir jou volgende kampeervakansie!

“Na die afloop van 2017 se Tips & Trix met Simone Nortmann en Francois Jacobs, het ons met ons kykers en sosiale media aanhangers gesels. Ons wou uitvind wat hulle graag in 2018 sou wou sien. Die oorweldigende terugvoer was, meer van dieselfde! Alhoewel dié jaar se Tips & Trix reeks soortgelyk is aan laasjaar, het ons tog ‘n paar nuwe elemente bygewerk, wat ons hoop kykers sal raaksien en geniet. Ons het die twee aanbieders, Mimi Mahlasela en Stiaan Smith, teen mekaar laat deelneem om te sien wie die wenke die beste kon uitvoer. Ons deel natuurlik ook met kykers lekker koswenke asook algemene wenke wat kykers kan onthou vir hul volgende kampeervakansie”, vertel Reinard du Plessis, hoofbestuurder van kommunikasie en bemarking by ATKV-Sake.

Kykers kan ondermeer uitsien na nóg propvol episodes waarin akteurs Stiaan, ook bekend as Ben in die rolprent Sy klink soos Lente en Mimi, meer bekend as Aggie van die sepie 7 de Laan, die hoofrolle vertolk. The Film Factory wat ondermeer Vuil Wasgoed en Meerkat Maantuig vervaardig het, was ook die vervaardigers van dié reeks.

Stiaan meen dat hy graag gaan kamp en die rustigheid van die natuur geniet. “As daar een wenk is wat ek met kykers kan deel, is dit om nooit bang te wees om met ander kampeerders te gesels nie, want jy kan altyd iets nuuts by hulle leer, vertel Stiaan! Hy noem ook dat sou hy eendag op ’n eiland gestrand wees, is ’n knipmes en ’n goeie boek al wat hy nodig het.

Mimi is aan die anderkant nie so gaande oor die bos of goggas nie, maar sy meen dat sy verseker na dié minireeks, kamp sal oorweeg. “ Daar is nie net truuks oor kamp en wat jy nodig het nie, maar ook baie lekker koswenke wat monde sal laat water. Ek was eintlik heel verbaas met al die verskillende disse wat jy aanmekaar kan slaan as jy gaan kamp,” vertel Mimi.

Kykers kan reeds vanaf 4 Mei 2018 elke Vrydagoggend op Die Groot Ontbyt inskakel om na die drie-minute lange episodes te kyk. Tips & Trix is ook te siene op sosiale media platforms soos YouTube en die ATKV-Oorde se Facebook- en Instagramblaaie! Of jy nou in ’n karavaan of ’n tent kamp, dié wenke is beslis ’n moét vir jou volgende kampeervakansie.

Haak jou karavaan en verken saam met Stiaan en Mimi die ATKV se spogoorde!