Haal die byt uit kritiek

2435

Almal wil graag komplimente hê en niemand hou van negatiewe kommentaar nie. Tog hoef jy nie bang te wees vir kritiek nie. Maak dit liewer jou vriend!

“As jy nie gekritiseer word nie, doen jy waarskynlik nie veel nie,” het Donald Rumsfeld, voormalige Amerikaanse politikus, gesê. Die enigste manier om negatiewe kommentaar te vermy is om êrens weg te kruip sodat niemand van jou bestaan weet nie.

Kritiek beteken nie noodwendig jy doen iets verkeerd nie, inteendeel, sukses kan jou ’n groter teiken maak. Jy kan gelukkig leer hoe om kritiese opmerkings so te hanteer dat dit jou nie benadeel nie.

Geen mens is volmaak nie en daarom kan ons baie uit iemand anders se mening leer. Moet egter nie toelaat dat vitterige mense in die pad van jou droom staan nie. Weet jy gaan opinies van ander kry, maar neem dit met ’n knippie sout!

’n Ma moet soms nee kan sê

Kinders is bobaasmanipuleerders en sal hulle woorde en stemtoon net reg kies om op jou gevoel te speel.

Jy wil nie ’n “slegte” ma wees nie en daarom gee jy soms toe, al weet jy dit is verkeerd. Jy betaal egter ’n prys, want in die proses verloor jy jouself in ’n maalkolk van negatiewe emosies.

Druk die stopknop in jou kop en haal ’n paar keer diep asem. Dit verhoed dat jy outomaties reageer op ’n insident en só toelaat dat jou gevoelens jou beheer.

Voel jy skuldig, kwaad of gefrustreerd oor ’n uitlating? Deur ’n naam aan die emosie te gee, neem ’n mens eienaarskap daarvan en kan jy dit op die regte manier hanteer.

Kritiek kan wel noodsaaklik wees. Dit gee jou kans om bewus te word van jou eie onbevredigde behoeftes.

Eers as jy by jouself uitgekom het, kan jy proaktief reageer op die beskuldigende uitlatings van jou kind. Nou kan jy haar behoeftes raaksien en die situasie ook vir haar in ’n leergeleentheid omskep.

Hoor die emosie agter jou man se kwaai woorde

Ons eerste reaksie as ons kritiek uit ons lewensmaat se mond hoor, is gewoonlik om tot die aanval oor te gaan.

Dis ’n tipiese Adam-en-Eva-situasie: Jy beskuldig hom dat hy die rede is waarom jy so optree. So ontaard selfs die onskuldigste opmerking in oor-en-weer-beskuldigings en ’n magstryd waarin julle albei verloorders is.

Onthou, julle twee speel as dubbelpaar aan dieselfde kant van die tennisnet. Hoe jy dink en optree, kan keer dat julle as opponente eindig.

Probeer om die kommer, vrees of hartseer agter sy oënskynlike woede raak te sien. Vra altyd: Is hy besig om sy gevoelens met my te deel of om my menswees moedswillig af te kraak?

Som eers op wat jy hom hoor sê het. Dit bevestig dat jy reg gehoor en verstaan het. Probeer om sy gevoelens weer te gee en vra dan: “Wat sal in die toekoms vir jou ’n verskil maak?”

Stel ’n simboliese hekwag aan wat kritiek ontvang en sif. Toksiese materiaal bly buite en net dit wat bruikbaar, akkuraat en belangrik vir die verhouding se groei is, word ingelaat.

’n Goeie selfbeeld is jou beste wapen by die werk

Wanneer ’n kollega ’n oordeel oor jou werk of optrede uitspreek, is die versoeking groot om die skuld op iemand anders te pak. So ’n reaksie kan jou egter duur te staan kom. Dit mag lyk asof jy nooit verantwoordelikheid aanvaar vir jou optrede nie en nie bereid is om te leer nie.

Jy sal minder verdedigend optree as jy seker maak dat jy ’n gesonde en realistiese selfbeeld het. Mense wat negatief oor hulleself voel, sal enige insette van ander op ’n verwronge manier interpreteer.

Wees stadig om jouself te verdedig en die persoon in die rede te val, maar wees vinnig om te probeer verstaan. En maak seker dat jy die boodskap reg gehoor het.

Gee eerder te kenne dat jy nie bedreig voel nie en kritiek verwelkom, maar terselfdertyd die vryheid het om jou eie siening te hê.