Haar pyn het my lewe verander

0
90
Delia-Richter.jpg

In Binneland is Delia Richter die slinkse feeks wie se lewe ontwrig word wanneer haar siek pa by haar kom bly. En in die werklike lewe word Odelle de Wet daagliks gekonfronteer met siekte en pyn.

Ek sien die pyn op my ma se gesig, besef dat vandag weer nie vir haar ’n goeie dag is nie. En ek is magteloos om iets daaraan te doen … Dis vir my verskriklik om haar so te sien ly. Dis my ma, die vrou wat my as kind getroos het as ek seergekry het, en daar is niks wat ek vir haar kan doen nie.

Ek wil so graag die pyn vir haar wegneem, maar ek kan nie. Dit frustreer my oneindig! Soms voel dit vir my ons Yorkshire-terriër doen meer vir my ma as ek. Die hondjie, Adam, is baie beskermend teenoor haar. Dis hy wat haar in die oggend laat opstaan, selfs al voel dit vir haar of sy nie kán nie. As sy hartseer is, lek hy haar wang en kry haar so getroos.

Adam hanteer dit dalk beter as ek. Ek wys van nature nie sommer my emosies nie en sukkel om my gevoelens in woorde uit te druk. Wanneer my ma soveel pyn ervaar, raak ek so intens jammer vir haar, maar soms raak ek ook so bitter kwaad. Dan word my hartseer ’n irritasie. Dit is vir haar baie moeilik, en maak alles eintlik net erger.

Ek sukkel nogal om drukkies te gee en saam met ander te huil. Simpatie is daar wel, maar op die oog af nie empatie nie. Inderwaarheid word my ma se pyn en hartseer deel van my persoonlikheid, en dit het ’n slegte uitwerking op alles wat ek doen.

Om myself teen die ongelooflike hartseer te beskerm, om te oorleef sodat ek met my alledaagse lewe kan voortgaan, probeer ek emosioneel ’n afstand handhaaf. Na buite kom ek dalk koud en gevoelloos voor, maar dit is ver van die waarheid. Ek hoor haar huil, elke dag – en in my hart huil ek saam met haar.

Selfs as kind het my ma chroniese pyne in haar bene gehad. Toe is dit bloot as groeipyne beskou. Maar dit was nie al nie. Daar was haar swak eetlus, die slaaploosheid, die angstigheid, die spanning en ’n spastiese kolon. In haar vroeë twintigs het die rugpyn haar begin opkeil. “Dis omdat jy so lank is,” moes sy hoor. Maar so eenvoudig was dit ook nie.

Later jare is fibromialgie by haar gediagnoseer, geneties en ook as gevolg van fisiese skade aan die spiere en skelet. Vir meer as dertig jaar het sy haar skoene as lugwaardin volgestaan en haar liggaam betaal nou die prys vir haar pligsgetrouheid en haar volgehoue werksetiek. Sy het altyd pyn. In haar rug, skouer, nek, bladbeen, bors, arms, gewrigte, voetsole, dye, heupe en kuite, haar hele liggaam. Alles, alles is seer! Dit breek my hart.

Sy het elke dag hoofpyn, haar gehoor is aangetas, sy is doodmoeg en dan is daar die depressie. Haar spiere bly in ’n veg-of-vlug-reaksie, iets wat natuurlik vererger die oomblik dat daar spanning in haar lewe opduik. So word die senuweestelsel beskadig en raak sy oorsensitief vir pyn. ’n Bose kringloop!

Ag, as sy net kan slaap, het ek al dikwels gewens. As sy ten minste net snags van die pyn kan ontsnap. Maar ook dít word haar nie altyd gegun nie. Sy kan nie lank in een posisie sit, lê of staan nie en slaaploosheid gaan dus daarmee saam.

Verskillende behandelings is al probeer en elke keer het ek saam met haar gehoop, maar niks kon nog werklik verligting bring nie. Tog was sy deur die jare van chroniese pyn altyd gemotiveer om aan te gaan. “Ek kan nog ’n verskil maak in ander se lewens,” het sy gesê. En sy het.

[pagebreak]

Sy was nog steeds ’n ma vir my, ’n hulp vir die passasiers op die vlugte wat sy bedien het en ’n steunpilaar by die lugdiens se kliëntediens toe sy self nie meer kon vlieg nie. My lewe lank ken en bewonder ek my ma as ’n perfeksionis. Daar was baie krisisse wat sy moes hanteer, die dood van haar ouers, skildklierkanker, ’n hartvatomleiding en ander siektes. Elke keer het dit haar simptome vererger. Toe verloor sy ook nog haar werk en finansiële spanning en onsekerheid oor haar toekoms word bygevoeg.  

Ek kon sien hoe moeilik dit vir haar was en my hart het ineengekrimp vir haar. Sy wat blitsig en deeglik werk, moes haar leefstyl verander en verlangsaam. Om van ander afhanklik te wees het haar emosioneel geknak. Die afgelope twee jaar het die allesoorheersende pyn haar in ’n ernstige depressie laat verval. “Ek sien net nie meer kans om aan te gaan nie,” het sy verduidelik. Saam het ons besluit om haar vir ’n paar weke in ’n psigiatriese hospitaal te laat opneem sodat haar medikasie gemonitor kon word. So moeilik soos wat dit is, klou ons steeds vas aan elke stukkie hoop wat opduik.

My ma se tuin, haar skilderye waarin sy haar uitleef, die gedigte en kortverhale wat sy skryf, dit alles help om hierdie talentvolle vrou op te beur. Maar die pynlike werklikheid is dat die teistering, wat jou na liggaam en gees tot op die bodem uitput en jou lewensgenot wreed by jou steel, nie werklik geneesbaar is nie. Daar kan net gepoog word om die simptome te beheer.

“Ek wil tog nie vir jou ’n las wees nie,” sug my moedige ma gereeld. Ook weet ek van haar stille gebede vir my – dat ek nie dieselfde pad as sy sal loop nie, juis omdat hierdie folterende kwaal blykbaar oorerflik is.

Ek doen vir haar wat ek kan. In ’n stadium het ek haar gemasseer, gehoop om so die pyn te verlig. Dit help tydelik maar omdat ek dit nie gereeld kan doen nie, bring dit nie langdurige verligting nie. Massering moet ook baie versigtig gedoen word omdat haar vel so ongelooflik sensitief is.

As ek by die huis kom, gaan ek graag vir haar winkels toe of neem haar iewers heen as sy nie self kans sien om te ry nie. Ons het elke dag kontak. Ek bel of SMS haar. Soms luister ek net. Om te luister, het ek al oor die afgelope paar jaar geleer, kan van groot troos wees vir mense wat in pyn verkeer. Hulle wil nie noodwendig raad hê nie, net maar iemand om na hulle storie te luister, iemand wat sal hoor hoe hulle voel, sonder om dit te probeer regmaak en ook sonder om hulle te kritiseer.

Wanneer dit iemand na aan jou is by wie jy emosioneel so sterk betrokke is, is dit ’n besondere uitdaging en stel dit eise aan jou – en aan die sieke. Daarom word sielkundiges se hulp dikwels ingeroep. Tog dink ek dit bly belangrik vir die een in pyn om te weet die persoon wat na jou luister, gee werklik vir jou om.

Ek sou nie sê ek is van nature ’n besondere sieketrooster nie, maar ek kán luister. Ek onthou ook die raad wat my joga-leermeester jare gelede vir my gegee het: All you can do is love her. En tog, ek wil meer vir haar doen, ek wil meer saam met haar lag, ek wil positief wees en haar motiveer.

[pagebreak]

Ek en my ma is besonder na aan mekaar. My ouers is geskei toe ek twee jaar oud was en ek het by my ma grootgeword. Sy was van kleintyd af my go-to person. Sy was daar deur al my teleurstelling en hartseer en in tye van geluk. Sy was daar om my te motiveer en te troos en te help om die flenters op te tel as iets nie uitgewerk het soos ek gehoop het nie, ’n hands-on ma wat altyd haar kind se behoeftes eerste gestel het. Dit was haar lewe om dinge vir my beter te maak en my die beste geleenthede te bied.

Selfs my tienerjare saam met my ma was nie werklik ’n probleem nie. Ek was nie rebels op skool nie en ons het baie tyd saam deurgebring. Dit was eerder tydens my studentedae dat ek ’n rebelse streep ontwikkel het. ’n Mens kom op ’n stadium in jou lewe dat jy jou eie persoonlikheid bevraagteken en probeer uitvind waarvoor jy staan, wie jy is en wie jy wil wees. Maar dis nou verby.

Tans probeer ek en my ma mekaar ondersteun na die beste van ons vermoë. Ek leer baie uit ons verhouding en het baie bewondering vir haar. My ma is grasieus, absoluut beeldskoon en ’n dame, ten spyte van haar omstandighede. Toe ons as kinders “mevrou-mevrou” gespeel het, kon elkeen ’n bekende persoon kies soos wie hulle wou wees of lyk. Ek het altyd my ma gekies. Sy was stylvol en is steeds ’n ma om op trots te wees.

Hierdie is ’n vrou wat soveel struikelblokke in haar lewe oorkom het. Wanneer sy kon, het my ma my vakansietye saam op haar vlugte oorsee geneem. Sy was jou tipiese versorger, onbaatsugtig wanneer dit by haar gesin en ander mense kom. Ek dink soms as sy haarself so goed versorg het, was sy dalk nie vandag in soveel pyn nie.

Soms wonder ’n mens oor wat die doel hiervan kan wees, waarom dit juis háár moes tref, maar dis nie ’n vraag wat maklik beantwoord kan word nie. Wat ek wel bloot op praktiese vlak sien, is dat die siekte my ma gedwing het om rustiger te leef. Sy moes leer om minder dinge aan te pak, iets wat vir hierdie woelgees nogal moeilik is. In plaas van om op die groot doeleindes te fokus, is iemand wat konstant in pyn verkeer, meer bewus van die klein dingetjies. Almal wat daardeur geraak word, word gedwing om uit die gejaag van die lewe te tree en “to stop and smell the roses”.

My ma se siekte het ook ’n radikale invloed op my lewe gehad. Ek het geïnteresseerd geraak in alternatiewe genesing. Ek het begin lees oor die onderwerp van pyn en die emosies wat daarmee saamgaan, ook oor die waarde wat ons heg aan die fisiese, insluitend besittings en veral oor die effek wat stres en spanning op die menslike liggaam het.

Siekte manifesteer as gevolg van die feit dat ons onder konstante druk geplaas word en ons moeg maak oor dinge wat nie lewe-en-dood situasies is nie. Ek besef nou hoeveel waarde ons heg aan wat ander mense dink of sê en hoe dit ons stresvlak opjaag. Ek glo dit is die oorsaak van die meeste van ons fisieke en emosionele probleme en ek werk elke dag daaraan om die stresvlak in my eie lewe te verminder of optimaal te hanteer.

[pagebreak]

Hierdie siekte leer my ook meer oor mense se interaksie en verhoudings. Ek leer dat ek ondersteunend kan wees tot die beste van my vermoë.

“Jou beste is altyd genoeg vir my,” het my ma my geleer.

Nou verstaan ek ook beter dat wat vir jou soms moeilik mag wees om te doen, vir ’n ander van onskatbare waarde kan wees. En ek weet dat daar gesonde grense in ’n verhouding moet wees en dat skuldgevoelens net ’n situasie vererger.

Al waarvan ons in die lewe seker kan wees, is verandering. En ons kan helaas nie daardie verandering self kies nie. Die uitdaging is om die veranderinge te aanvaar. Om die beste van ’n slegte saak te maak, is immers my ma se motto. By al die wonderlike lesse wat sy my geleer het, het ek ook dankbaarheid in sy suiwerste vorm by haar gesien. Maak nie saak hoe sleg dit met haar gaan nie, sy kan steeds iets kry om voor dankbaar te wees.

Die tyd wat ons saam deurbring, is vir ons kosbaar en ek probeer haar so gereeld as moontlik sien. Dis steeds vir haar belangrik om selfstandig te wees en die alledaagse dingetjies vir haarself te doen, om self kos te maak en die daaglikse sleurwerkies te hanteer. Maar daar kom ook die donker dae, tye waarin sy net nie kan doen wat sy graag wil nie, tye wanneer sy haar trots moet sluk en ander in die oë moet kyk vir hulp. Dis iets wat lynreg teen haar aard is, maar vir my is dit ’n voorreg om iets vir haar te doen. Gelukkig ondersteun my kêrel en sy ma ons ook. Ook my pa is nie onbetrokke nie en help graag as dit nodig is.

Daar is dae dat my ma se siekte my gedagtes oorheers, maar ek het geleer om my met tye daarvan te distansieer sodat ek my werk kan doen. Ek is nie veel van ’n multi-tasker nie en kan eintlik net op een ding op ’n slag konsentreer.

My grootste wens is dat daar ’n kuur sal kom wat haar pyn grotendeels kan verlig sodat sy weer normaal kan funksioneer. Ook hoop ek dat my ma ’n tegniek kan aanleer om die pyn emosioneel te bestuur, iets wat met haar as mens sinkroniseer.

Maar daar is darem hoop. Dr. Russell Raath van die Jakaranda Pynkliniek het onlangs aangebied om haar ma gratis te behandel. Dit is beslis ʼn antwoord op hul gebede en hul vertrou dat die resultate positief sal wees.  

My ma glo aan en berus in die lotsbestiering van ’n Hoërhand. Sy gaan skep uit die put van bemoediging deur haar Bybel te lees. Ook is daar ’n vriendin wat daagliks vir haar inspirerende Bybelversies stuur, beloftes wat troos inhou in ’n situasie wat soms onuithoudbaar raak.

Ek vat graag vir my ma blomme, of iets om haar ’n bietjie te bederf. Soms is dit ék wat vir haar inspirerende woorde stuur. Groot waarhede en treffende wyshede wat nie deur my uitgedink is nie.

Maar ek vergeet nie die belangrikste van alles nie – om haar te verseker dat ek haar liefhet.