Haarsproei, blou oogskadu en tossel oorbelle

Dis die jaar 1994, ek is in st. 9 saam met my ma-hulle op vakansie in Badplaas en die Alabama studentegeselskap  is op die verhoog in die mooiste, wasige voile, blou aandrokke.

Die rook en blou ligte wat oor hulle spoel laat hulle soos bo-heemse wesens lyk waar hulle net effens ritmies pols terwyl  hulle  “In the living years” sing.  Dit was die aand wat ek verlief geraak het op “showbiz”, Alabama, studentelewe en Potch en dit het ‘n direkte invloed op my keuses en lewensrigting gehad.

Vandag staan ek vir my 10de produksie van Capital Singers op die Staatsteater se verhoog.   ‘n Uur voor die laaste vertoning laat weet my ouers “verrassing!” hulle is in die gehoor – al die pad van die Kaap!  In die middestad  McDonalds moes my vriendin en bekommerde omstanders my amper vir skok behandel! Ons sing dieselfde lied as ons slotlied – ‘n volsirkel oomblik.  Daar is weer blou ligte en baie rook – so baie het intussen gebeur, maar ek is weer – steeds –  17.

Hierdie tipe geheimhouding raak nou ‘n geoefende vaardigheid in my familie! Die emosies loop dik en met die lied “Wind beneath my wings” wat Michael Barret aan sy ma met kanker opdra, ween ons almal onbeskaamd, want hierdie kosbare familie van my is werklik my vleuls.

Dis die mag en mistieke bekoring van musiek.  Dit genees, troos en inspireer.  Dit bring herinneringe en ‘n kits konnotasie met ‘n ander era.  Ons doen die keer musiek van die 80’s so ons hare is hoog  ge”tease”, ons statige swart konsertdrag is verruil vir denims en t-hemde en die geur van haarsproei en opgewondenheid hang swaar in die lug. 650 Misplaasde siele van alle ouderdomme het uit die 1980’s getuimel en bou nou die stad op “Rock & Roll”!

“Girls just wanna have fun” sing ek vir my sus en haar koshuis tradisie destyds op Stellenbosch. “Simply the best” sing ek met ‘n knop in my keel, want dis die tradisionele lied wat Wilgers se onkologie susters kliphard vir jou speel tydens jou laaste chemo as jy jou sertifikaat vir dapperheid kry.  Toe het hulle gesê ek was ‘n “rock star”, maar nou  op die verhoog met vuis in die lug, sonbril en dromme wat dreun is ek Tina Turner, Claire Johnston en Madonna.

Elke liedjie is ‘n fliek, ‘n persoon of ‘n plek waarheen jy teruggaan in tyd.  Ons sing so hard “We will rock you” soos laas by Lutzville se kleure atletiek.  My stem is later so grynerig soos Bonny Tyler s’n – wat eintlik reg is, want ons sing haar ook en Christo Burger het gesê ons kan die naweek ons netjiese sopraan opleiding vergeet en grondpad ry!

En grondpad die het ons gery, want die hoërskool mammas het my blootgestel aan ‘n “ginger square”  en die grafsteensangeres was bly oor die staande “ovulasie” wat ons gekry het en dan was daar die olimpiese fakkel…  Baie binnepret agter die gordyne… onvergeetlike tye.

Toto se “Africa” bedoel ek uit my hart uit as ons sing “gonna take a lot to drag me away from you, there’s nothing that a hundred men or more could ever do…”Wat ‘n voorreg om in die land te kan woon. Vir my eie manne en geliefde maat sing ek “I need a hero”, want hulle is vir my “larger than life, strong, fast en fresh from a fight – altyd reg om my te ondersteun en op die hande te dra.

“Thats what friends are for” sing ek vir my familie en koormaats.  Dankie vir al julle insae in my lewe, al die lag, al die omgee en al die pret.  Dis waar dat mense wat sterk familie bande het en mense wat sing baie gelukkiger is en ‘n dieper waardering vir mense en die lewe self het!

Hier is ‘n klein stukkie van die pret: https://www.facebook.com/jeanette.coetzee.73/videos/10157406178058957/

And if I should ever go away
Well, then close your eyes and try
To feel the way we do today
And then if you can remember

Keep smiling, keep shining
Knowing you can always count on me, for sure
That’s what friends are for
For good times and bad times
I’ll be on your side forever more
That’s what friends are for

Uit Friends deur Dionne Warwick