Hailee Steinfeld is op skool geboelie

0
203
Hailee_Steinfeld.jpg

Hailee Steinfeld, wat die trane in Romeo & Juliet laat vloei, word as ’n rolmodel vir jongmeisies beskou. Sy glo daaraan om die wêreld in die oë te kyk en vir haarself op te staan.

Hailee Steinfeld mag jonk wees, maar tree besonder wys en verstandig op vir haar jare. Dit was nie altyd so nie. Tydens haar vroeë skooljare is sy geboelie en moes sy opstaan teen jaloesie en afguns. Dit was vir haar net so moeilik soos vir enigiemand anders.

“Ek is van graad drie tot graad ses genadeloos geboelie,” vertel sy. “Dit was verskriklik om te beleef. Dis nie iets wat ’n mens sommer vergeet nie. Eintlik herleef ek dit vandag nog van tyd tot tyd.” Daarom het sy simpatie met kinders wat aan hierdie probleem blootgestel word. “Ek sal graag alle kinders wat deur boelies geteister word, wou troos en moed inpraat. Glo my asseblief as ek sê dit sal ook verbygaan en julle gaan oukei wees.”

Met ’n volwasse insig in die probleem, stem sy saam dat daar ’n rede is waarom boelies hulle so swak gedra. “Dit moet persoonlike probleme wees wat hulle daartoe dryf. Omdat hulle niks kan verander aan dit waarmee hulle self worstel nie, haal hulle hul frustrasies op ander uit.” Maar sy stem saam dat dit nie toegelaat kan word nie. “As boelies eerder wil gaaf wees, kan baie kinders van hierdie verskrikking gered word.”

Hailee word beskryf as ’n ‘ou siel’, maar as twaalfjarige kon sy die vyandskap op skool langer nie hanteer nie. Dit was die sosiale aspek van die staatskool wat haar ouers laat besluit het om haar uit die skool te haal en tuis te laat onderrig. “Ek is werklik genadeloos geteiken,” verduidelik sy. “Dit was maklik om op my te pik. Dit het die lewe op skool vir my onuithoudbaar gemaak.”

Al is sy nou vry daarvan, het Hailee nie van die moeilike jare op skool vergeet nie. Kinders wat geboelie word, lê haar na aan die hart. Daarom is sy lid van die Trevor Projek, ’n organisasie wat hom daarvoor beywer om die skade wat deur hierdie wreedheid aan ’n kind se selfbeeld berokken word, te beperk.

Dit is dikwels die kind se ouers wat deur hulle loopbane of leefwyse die geboelie ontketen. In Hailee se geval was dit heel moontlik haar sukses as aktrise wat tot haar ongewildheid op skool gelei het. Op veertienjarige ouderdom was sy reeds ’n bekende in Hollywoodkringe en is sy vir ’n Oscar benoem.

Haar ouers het haar al as twaalfjarige na oudisies geneem. Sy is toe ook gekies om skoolklere vir ’n Amerikaanse afdelingswinkel te adverteer. Haar vriende was baie beïndruk daarmee om haar op televisie te sien. Haar vyande heel moontlik nie. Haar vriende het gedink dis wonderlik, maar die boelies in die skool het haar nie haar sukses gegun nie.

Hailee is deel van ’n doodgewone middelklasgesin en haar prestasie het nie ongemerk by die gemeenskap in haar omgewing verbygegaan nie. Sy was aanvanklik ook baie langer as haar tydgenote en het bo die seuns uitgetroon, alles faktore wat tot ’n geterg kon lei. “Daar was altyd iemand wat ’n gemene opmerking sou maak,” onthou Hailee. “Selfs al was dit net omdat hulle nie van my haarstyl gehou het nie.”

Nou het sy ’n privaat onderwyser wat haar tuis onderrig en saam met haar reis wanneer sy met verfilming besig is. Verder voel sy haar lewe het nie veel verander nie. Sy bly steeds by haar ouers waar hulle reëls geld en waar sy soms die skottelgoed moet was. Maar Hailee weet hoe belangrik dit is om deel van ’n groep te wees, iets wat sy grotendeels verloor het toe sy uit die skool is.

Gelukkig het sy nog vriende gebly met ’n groepie meisies saam met wie sy op laerskool was. Wanneer sy by hulle is, voel dit vir haar of sy aanvaar word. “Dis natuurlik ook goed om vriendinne te hê wat weet en verstaan hoe dit is om in die openbare oog te wees.”

Tog erken sy dat dit meer pret en minder eensaam sou gewees het om nog saam met haar maats op die skoolbanke te kon sit. Eintlik is haar ouer broer nou haar beste vriend. “Maar as ek by my vriendinne is, giggel ons heerlik saam en voel ek soos enige ander doodgewone sestienjarige meisie.”