Hanlie Retief: Tannie Jane se tjoklitkoek

0
20
sjokolade_koek

Terwyl Hanlie aan haar boek gewerk het, het sy vir ʼn vale sjokoladekoek gebak om die negatiwiteit te neutraliseer. Hier deel sy haar gunstelingresep.

Terwyl Hanlie aan haar boek gewerk het, het sy vir ʼn vale sjokoladekoek gebak om die negatiwiteit te neutraliseer. Hier deel sy haar gunstelingresep:

“Tannie Jane is aan die verkeerde kant van sewentig. Toe ek die resep met haar gaan uitklaar het, het sy my ʼn bottel marmelade in die hand gestop wat sy nét gister gekook het. Sy’t potblou oë, ʼn humorsin so groot soos haar hart, en haar hande staan vir niks verkeerd nie.”

Tannie Jane se tjoklitkoek

BESTANDDELE:

  • 1½ koppie mayonnaise (net nie die “tangy” soort nie!)
  • 1½ koppie water
  • 2 t vanielje
  • 3 koppies koekmeel
  • 1½ koppie suiker
  • 65 ml kakao
  • 2½ teelepels koeksoda
  • 2½ teelepels bakpoeier
  • Knippie sout

 

METODE:

Verhit oond teen 180 °C. Meng die mayonnaise, water en vanielje. Sif die meel, suiker, kakao, koeksoda, bakpoeier en sout, en voeg dit geleidelik by die nat bestanddele. Moenie te veel meng nie, net tot die beslag glad en klontvry is.

Bak vir 20 tot 25 minute in twee koekpanne of ʼn plaatkoek-pan. Laat effens afkoel, en keer uit.

VERSIELSEL:

  • 200g versiersuiker
  • 75g botter
  • 20 ml kakao
  • 30 ml karringmelk
  • 1 t vanielje

 

METODE:

Smelt die botter, kakao en karringmelk stadig op die stoof. As jy lus is vir méér sjokolade, smelt ʼn plak Lindt by.

Moenie die beslag kook nie, dit moet net glad en loperig wees. Voeg die versiersuiker geleidelik by.

Versier die koek. Gaan stap ʼn entjie. Sit die ketel aan. Maak koffie, sny die koek, vat jou eerste hap, maak toe jou oë en geniet dit.