Hanna Grobler leef haar roeping uit

0
366
hanna_grobler.jpg

Hanna Grobler glo dat jy elke dag jou roeping uitleef wanneer jy jou talente gebruik om God te verheerlik.

Jy ken haar as Kiki in Getroud met Rugby of as die vrou wat Bok van Blerk se hart gesteel het. Maar Hanna Grobler is baie meer as ’n mooi gesiggie op die rooi tapyt. Sy is ’n vrou met vele talente – van televisiekamera tot kwas tot werk in arm gebiede. Die een ding wat egter soos ’n goue draad deur haar lewe loop, is ’n gelowige hart wat warm klop vir haar medemens. Ontmoet die ware Hanna.

Meer nog as toneelspel, is daar ’n ander “eerste liefde”.

Ek dink ek is ’n baie beter skilder as wat ek ’n aktrise is. Ek het dit waarskynlik by my pa, Nic Grobler, geërf. Hy is ’n afgetrede dominee, maar ook ’n ongelooflike beeldhouer. Jare gelede was hy onder meer die persoonlike beeldhouer van oudpresident Marais Viljoen, maar hy is vandag steeds baie aktief as kunstenaar. Hy maak beelde met ’n geestelike boodskap. Ek en my pa hou ons eerste gesamentlike kunsuitstalling in Februarie vanjaar. Terwyl hy in die beeldhoukuns spesialiseer, is ek gemakliker met olieverf op doek. My oupa het eintlik destyds al sy potensiaal raakgesien toe my pa en sy boeties klei-ossies gemaak het.

My pa se ossies was baie mooier as sy boeties s’n; toe moedig Oupa hom aan om kuns te studeer. Daarna het hy ook teologie gaan studeer. Ek dink die kombinasie van dié twee dinge het ’n groot invloed op my eie lewe gehad. Dit het beteken dat ek in ’n pastorie grootgeword het met ’n pa as ’n gelowige én as ’n kunstenaar. Dit het my vrygemaak in my denke, en dis seker ook die rede hoekom ek nooit gerebelleer het nie. Ek het genoeg vryheid gehad om vrae te vra en my kuns uit te leef. Ek was aangemoedig om dit te doen.

Op laerskool was ek ’n skaam, teruggetrokke dogtertjie, eintlik ’n bleeksiel, maar op hoërskool het ek begin blom. My ouers het my kunsskool toe gestuur. Dit was die beste ding wat hulle ooit kon gedoen het. Miskien gaan ek eendag dalk nét skilder. Ek is baie lief daarvoor, veral portretstudies van mense met karaktervolle gesigte.

Gebruik jou talente soos dit by jou lewensseisoen pas

Ek is gelukkig dat die Here my met meer as een talent geseën het, en elkeen kry ’n beurt volgens die verskillende seisoene in my lewe. Ek skilder vir ’n ruk, dan doen ek weer teater- of TV-werk. Of iets heeltemal nuuts, soos die Buster die Brak CD’s en DVD’s, waar ek as Juffrou Hanna kinders help om hulle geestelike gawes te ontdek. Ek sê ook altyd my voltydse beroep, my regte werk, is welsyn, want dis waar ek die meeste van my tyd deurbring. Hierdie drie dinge – kuns, akteur-wees en welsynswerk – is baie nou met mekaar verweef.

Die een dien as inspirasie vir die ander. Op skool het ek byvoorbeeld as vrywilliger by ’n sentrum vir bejaardes gaan werk, en dis daar dat ek geleer het om te act. Ek het geword wat die oumense wou hê ek moes wees. “Hoe gaan dit met jou, my kind?” sou die oumatjie vra, asof ek haar kleinkind was. Dan sou ek antwoord: “Dit gaan goed dankie, en met Ouma?” Daar was ook die oom wat eenkeer nie so lekker gelyk het nie. Toe vra ek hom wat is fout en bied aan om die dokter van die tiekieboks af te bel. Ek het ’n denkbeeldige nommer geskakel en met ’n denkbeeldige dr. So-en-so gepraat. “Hy sê Oom moet net ’n bietjie water drink,” het ek die “dokter” se raad aan die oom oorgedra. Ek sal nooit die uitdrukking op sy gesig vergeet nie. Hy was vreeslik verlig toe hy die glas water kon drink – soos die “dokter” aanbeveel het. Sy hele gesig en lyf het ontspan. Om te dink dat só ’n klein dingetjie so ’n groot verskil kan maak. Ek het ’n waardevolle les daardie dag geleer. Oumense het soms net ’n bietjie aandag en begrip nodig.

Ná skool het ek ’n beurs gekry om in die skone kunste te gaan studeer, maar ek was meer geïnteresseerd in die kombinasie van kuns en drama – performance art (lewende kuns wat met toneel gekombineer word). Met my nagraadse dramastudie was ek ook die eerste student aan die Universiteit van Stellenbosch wat die teoriedeel by die kunsdepartement en die prakties by die dramadepartement gedoen het. Ook hiér het my liefde vir oumense ’n deurslaggewende rol gespeel. Ek het al agtergekom dat die Here soms spesifieke mense in my lewe bring met wie ek ’n pad stap. In my studentejare was dit oom Limpie Basson, wat op sy dag ’n baie suksesvolle akteur was. Toe ek hom leer ken het, was hy verarm en eensaam. Ons sou ure lank sit en gesels, en het mettertyd amper soos pa en dogter geword. Oom Limpie was ’n groot inspirasie vir my kunsprojekte as nagraadse student.

Wat is my roeping? Ek dink die strewe om, volgens elke seisoen soos die Here dit bepaal, my talente en passies uit te leef, sodat ek ’n verskil kan maak. Ek het geleer om nie angstig te raak nie. Ek sien dit oral om my in die bedryf. Daar is min werk, en akteurs raak benoud oor waar hulle volgende salaristjek vandaan gaan kom. Ek voel jammer vir hulle en wens ek kan vir hulle sê: Wees net rustig en vertrou die Here vir die volgende seisoen. In my eie lewe begin dit dikwels as ’n gedagte. Iets soos: “Dit sal lekker wees om weer te skilder”, of: “Ek’s nou lus om ’n bietjie teaterwerk te doen”, of: “Ek sal graag ’n welsynsinisiatief in daardie area wil begin”. Dan is dit presies wat die Here volgende op my pad stuur. Die antwoord lê in stil wees en vertrou.

Welsynswerk laat Hanna se hart warm brand

Daar word dikwels gesê: Charity begins at home. En dan voeg ek altyd by: But it doesn’t stop there. Vir my is dit tweede natuur om uit te reik na mense. Die juffrou het al op my kleuterskoolrapport iets geskryf soos: “Hanna gee baie om vir haar maatjies.” Ek wil altyd dinge beter maak vir ander. So, na wie toe reik ek uit? Vir die vrywilligers by die Hanny Charity sê ek graag: “As iemand sê ‘pasop vir daardie mense’, is dít die mense wat ons moet help.”

Die een ding waarin ek onwrikbaar glo, is mense se goeie bedoelings. Mense is inherent goed – maak nie saak wat hulle velkleur, kultuurgroep of godsdienstige oortuiging is nie. Gaan delf na die oorspronklike bedoeling van hulle optrede of besluite en jy sal agterkom dat dit waarskynlik goed was. In Suid-Afrika kla ons byvoorbeeld graag oor die regering se doen en late, maar ek wed jou as jy na die oorspronklike intensie gaan kyk, was dit nie bedoel om mense die harnas in te jaag nie. Dit was bedoel om mense te help. Ek glo ook dat ons mekaar saggies en met begrip moet hanteer. Oumense het byvoorbeeld ’n groot behoefte daaraan dat jy net geduldig by hulle sal sit en luister. Dis nie te veel gevra nie. Moet ook nie die krag van jou woorde onderskat nie. Ek het al gesien hoe iemand se hele wese hier reg voor my oë verander, net op grond van wat ek gesê het. “Tannie Nella, jy lyk só mooi,” sê ek eendag. “En kyk net die mooi rok!” Net daar word sy vir haarself ook mooi. Haar rok word mooi. Sy kan weer trots vir haarself in die spieël kyk.

Ek weet mense wonder wanneer om te gee en wanneer nie. Wanneer gaan die ou die geld uitsuip en wanneer nie? My siening is dat die Here ons eendag gaan vra: Het jy gegee? Nie: Hoekom het jy besluit om nié te gee nie? As ons nie ’n persoon ken of self in sy skoene staan nie, hoe kan ons weet wat hy met die geld gaan doen? Hoe kan ons sommer net aannames maak? Daarom sê ek: Gee wanneer jy het om te gee. As die ander persoon jou goedheid misbruik, sal hy of sy daarvoor verantwoording moet doen. Dis nie vir ons om te oordeel nie. Ons opdrag is om God en ons medemens lief te hê.