Hanna Grobler vertel hoe sy haar lewe herontwerp het

503

HANNA GROBLER het geweet daar is ’n plek waar haar kinders (en sy) kaalvoet in die sand kan speel. En toe word haar droom waar.

Met ’n skaterlag breek my seuntjie die sandkasteel waaraan ons so hard gewerk het. My dogtertjie wil-wil begin huil.

“Kyk net hierdie skulpie,” kry ek dit reg om haar aandag af te lei voor dit in ’n tragedie ontaard.

Goed, seker nou nie ’n tragedie nie, maar die punt is dat ’n boetie en ’n sussie altyd sal baklei, maar dat min die voorreg het om dit hier onder die blouste blou lug te kan doen met seewater wat aan hulle tone lek.

Ons het besluit dit is tyd om ons lewe ’n makeover te gee. Ons wou hê ons kinders moet weet hoe voel sand tussen hulle tone. Hulle moet die waarde van ’n glimlag besef.

Nie die glimlag wat jy vir jouself gee wanneer jy ’n selfie neem nie, maar ’n regte, egte een. Daardie soort wat jy uitdeel, verniet, ’n geskenk vir die een wat nou op hierdie oomblik aan die ontvangkant daarvan is.

[VIDEO] Hanna Grobler gee raad oor hoe om jou passie te vind

Elke mens het ’n plek waar jy dink jy vandaan kom. Waar jy eendag begrawe wil word. In my kop kom ek van hier af al het ek nie hier grootgeword nie.

Dit is belangrik om te onthou waar jy vandaan kom. Daardie gevoel van behoort. Die plek waar jou siel tuis voel selfs al het jy nie daar grootgeword nie.

Albei my ouers kom van Natal af. Hulle skreeu vir die Sharks. Vir my is Ballito die plek waar my wortels is, waar ek eintlik vandaan kom.

My oupa was die hoof van ’n laerskool hier in Ballito. Ons het heerlike seevakansies hier saam met Oupa en Ouma gehou.

Deesdae bly my ouers ook nie ver van ons af nie. My kinders kan by hulle gaan kuier soos ons altyd vir ons ouma en oupa gaan kuier het. Hulle kan ’n draairoomys saam met hulle eet soos ons altyd Sondagmiddae saam met ons oupa en ouma gedoen het.

Behalwe vir die ondersteuning van my ouers is die gemeenskap ook daar vir mekaar. It takes a village to raise a child en hier ervaar ons dit. Dis asof ons terug is by die basiese reëls van menswees.

Aan die begin was dit nogal iets om aan gewoond te raak – dié gewoonte om almal te groet. Te groet én hulle name te ken. Later ken jy die tannie agter die kasregister se naam, sy doen moeite om joune te leer ken en so word julle vriende.

Dieselfde kinders speel in dieselfde parkie, word maatjies en die ouers begin oor en weer kuier. Omdat hier min Afrikaanse mense is, word ons nie so baie herken nie. Dit is regtig ’n blaaskans om nie kort-kort voorgekeer te word as jy inkopies doen nie.

Vir die eerste keer in my lewe het ek Engelssprekende vriende. Hulle kultuur is nogal anders, maar ek geniet dit.

Die platteland is so idillies soos ek daarvan gedroom het. Ons het nie supergroot winkelsentrums of baie flieks om uit te kies nie, maar ons het alles wat nodig is – van goeie skole tot meer as genoeg om naweke besig te bly.

As jy in die rommel bly, kan jy dit nie meer raaksien nie. Noudat ek omring is deur groen en geil plantegroei, sien ek letterlik hoe die besoedeling soos ’n gaskombers oor die stad hang wanneer ek daar is vir werk.

Die subtropiese klimaat hier pas my. Dis goed vir my vel, ek haal beter asem en is gesonder.

Destyds, toe ek universiteit toe gegaan het, het talle grootmense vir my gesê ek moet dit geniet, want dit is die beste tyd van ’n mens se lewe. Vandag weet ek hulle was reg. Universiteit was die lekkerste en beste tyd van my lewe.

Dis asof ’n mens daar gedwing word om in die nóú te leef. Om te luister wat iemand sê in plaas van om reeds te dink aan jou volgende vraag of wat jy volgende wil sê.

As ’n mens jonk is, is jy nie baie in die present nie. Op skool wil jy nog matriek maak. Op universiteit wil jy jou graad kry.

’n Mens wil nog dit en dit doen, trou, kinders kry, ’n goeie huis, ’n werk. Jy het baie drome en jy weet nie of dit gaan realiseer nie. Jy is so besig met die toekoms dat jy nie dit wat jy op hierdie oomblik het, geniet en waardeer nie.

In die teater verloor jy blitsvinnig alle geloofwaardigheid as jy nie in die oomblik is nie. As jy aanhou dink aan iets wat jy verkeerd gedoen het of wat jy nog moet sê, glo mense jou nie meer nie. Hulle kan voel jy is nie nou daar saam met hulle nie.

Deesdae probeer ek baie hard om in die oomblik te bly en vandag te geniet. Deur oor die verlede te tob en bekommerd te wees oor die toekoms, mis ek alles wat ek nou in my lewe het. Ek wil die liefde en die seëninge in my lewe raaksien, net totaal dankbaar wees.

Hulle is nou nog te klein, maar eendag wil ek my kinders betrokke maak by liefdadigheid. Hulle moet weet dat wat ons as vanselfsprekend aanvaar vir ander ’n luukse is. Hulle moet weet dat om in goeie omstandighede groot te word net genade is.

Ons werk met boemelaars, alkoholiste, prostitute – al die mense vir wie die Here gekom het. Die kriminele, daardie ouens met wie niemand anders eens wou praat nie. Net so moet my kinders nie oordeel nie – nie ’n president wat korrupsie teen ’n land pleeg of die alkoholis wat ’n boemelaar op straat is nie.

Dis net genade wat maak dat ons nie in sulke situasies is nie. Wat maak ons beter? Soos my ouers ons geleer het om nie te oordeel nie en God se liefde in ’n gebroke wêreld uit te straal, so wil ek hê moet my kinders na die wêreld en mense om hulle kyk.

Die seisoen van die lewe waarin jy jou bevind, bepaal in daardie tyd jou prioriteite. Vir nou is dit vir my genoeg om ’n ma te wees. Ék wil my kinders grootmaak. Saam met hulle blokkies bou, dinge in die kombuis doen en vir hulle lees, want voor jy jou oë kan uitvee, is hulle groot.

Natuurlik is ek steeds ’n aktrise en sal dit wees tot die dag dat ek doodgaan. In my loopbaan was ek gelukkig om ’n groot verskeidenheid rolle te kon speel. Daar is nie ’n rol of ’n reeks waarna ek op die oomblik jaag nie.

My geesdrif vir liefdadigheid is ook nie minder nie, want dit is ondenkbaar dat enigiemand ooit honger, koud of moedeloos moet gaan slaap.

Hierdie behoefte om mense te help is van kleins af ’n missie by my. Ek was nog baie klein toe ek my ma gevra het om die middag kos by ’n maatjie se huis te gaan aflaai. Sy het so verwaarloos gelyk, en ek het intuïtief geweet daar is nie baie by die huis nie.

Naweke het ek self begin om by kinderhuise te help. Of om met my fiets winkel toe te ry om met my spaargeld vir arm kinders te gaan onderklere koop. Met my ma wat ’n maatskaplike werker is, het ek ’n voorbeeld gehad van hoe geloof en goeie dade vervleg is.

Maar waarom kan ek nie ’n klomp goed wees nie? My pa, wat ’n graad in kuns en teologie het, het vir my gewys om al my muntstukke te gebruik sodat ek nie ’n “of-mens” hoef te wees nie, maar ’n “ook-mens”.

Ek sou byvoorbeeld graag my kunstige kant meer wou uitleef, miskien selfs ’n kunsuitstalling hou. Daar is niks wat my keer om tegelykertyd ’n filantroop, entrepreneur, aktrise, ma, maar veral ’n planmaker te wees nie.

Dis nie nodig om dinge naarstiglik te jaag nie. Alles groei op ’n organiese manier. Niks is ooit klaar nie. Ek is opgewonde om te sien watter rolle die Here nog na my gaan stuur, waarnatoe Hy die charity gaan vat en wat Hy alles vir ons kinders beplan.

Kinders – ja, babas grootmaak beteken min slaap en voortdurende moegheid. Jy sleep jou uitgeputte lyf na die kinders se kamer. Dit voel asof die een begin huil sodra die ander een opgehou het.

As jy of die kinders siek is, word alles erger, om nie eens te praat van eksterne faktore wat bydra tot die chaos nie. Net die smagting na beheer is uitputtend. Probleme kom gewoonlik in drieë en het dikwels iets met my liefdadigheidsorganisasie, Hanna Charity and Empowerment Foundation, te doen: donateurs wat iets terug verwag; moedelose werkers en die finansiële spanning om elke maand vir 9 000 mense te sorg.

Met my kinders wat nog klein is en so naby aan mekaar gebore is, voel dit soms of ek nooit enigiets klaarmaak nie omdat ek kortkort onderbreek word. Flardes werk, flardes stiltes, flardes ek-tyd. Dis aaklig, want vir my is dit belangrik om dinge af te handel.

Dan is daar die kritiek – jy en ander wat jou kritiseer omdat dinge nie gebeur soos dit in boeke of op Google staan nie. Hulle raak amper fanaties: jy móét borsvoed, op daardie ouderdom móét jy begin met vaste kos. Duisende opinies oor wat ander dink die beste vir jou en jou kinders is.

Ma’s is onder verskriklike druk. Ek weet eintlik self nie hoe ek cope nie, maar die Here het ons stamina gegee waarmee ons drie Comrades-wedlope kan kafdraf. ’n Soort moedersinstink wat jou net laat aangaan sonder om te veel te dink.

En wat al die menings oor die opvoeding van jou kinders betref, kan jy maar ontspan. Daar is ’n stemmetjie binne jou. Dit kom van God af en sal jou help om te doen wat die beste vir jou en jou kinders is. Jy moet dit net hoor tussen die geraas van elke dag.

Elke ma het haar stil tye nodig. ’n Tyd om bestekopname te doen van wie jy is en wat jy het. Langs die see vind ek my vrede. Laatmiddag, wanneer die son net-net begin sak, is my gunstelingtyd van die dag.

Selfs met die kinders om my is dit asof die eindelose ritme van die branders al die geraas van die lewe vir ’n oomblik stilmaak.

Soms het ek nie ’n idee wat die oplossing vir iets gaan wees nie. Of waar om te begin soek nie, maar in daardie stilte kom die Here altyd – wys Hy die rigting of gee Hy ’n plan. Dis ook dan dat Hy my verseker ek kan ontspan.

As die kinders op pad huis toe vir my glimlag en ’n oopbekkiesoen gee, is dit alles weer beter en het ek krag vir nog ’n slapelose nag.

My ma sê altyd woorde is soos confetti, jy weet nooit waar dit gaan lê nie.

Dit is ontsettend kragtig. Daarom moet ’n mens versigtig wees om ’n wag voor jou mond te plaas en ook nie slegte goed oor ander uit te spreek nie.

Aan die ander kant kan jy positiewe goed oor jouself uitspreek. Toe ek klein was, wou ek altyd ’n dogtertjie en ’n seuntjie gehad het en kyk nou: Na baie hartseer het ek vandag baie meer as waarvoor ek gevra het!

Al moet jy in die oomblik leef, kan jy tog vir die Here vra wat jy graag wil hê en wil bereik.

Hy sal dit beantwoord, al is dit nie altyd op die tyd en manier wat jy wil hê nie.

Dit is belangrik om jou gebede neer te skryf sodat jy kan sien dat jou gebed van gister vandag waar geword het. Dis ook ’n manier om te fokus op wat Hy graag vir jou wil sê.

As jy ’n droom het, moet jy dit volg, maar mense is bang om kanse te waag. Veral ouer mense het miskien minder waagmoed, is te stewig gewortel waar hulle is en nie so impulsief soos toe hulle jonger was nie.

Maar die lewe is kort en as jy alles opweeg en jou gesin en werk dit toelaat, doen dit. Hoe langer jy wag, hoe moeiliker word dit.

Aan die begin is enige verandering ’n aanpassing, maar dit is ’n manier om jouself te herontdek, die kans om jou lewe te herontwerp.

Voor ’n mens so ’n groot stap neem, is dit wel nodig om seker te maak hoekom jy dit wil doen.

Is jy onseker oor jouself? Vergelyk jy jou met ander? Wil jy slimmer, mooier, ryker, beter as ander wees? As jy jouself vergelyk met mense wat meer as jy het, gaan jy ongelukkig wees. Of jy vlug van iets.

Dis dan beter om twee keer te dink, want as die rede ’n probleem of onsekerheid is, gaan dit jou volg waar jy ook al is.

Ons was gelukkig. Ons kon die skuif maak, maar as dit nie vir jou moontlik is om te trek nie, maak die beste van waar jy is. Vind vreugde in klein dingetjies.

Geluk lê nie in een oomblik nie. Dit loop in sirkels. ’n Besluit om nie vas te haak by die een swart kolletjie op die wit papier nie, maar die wit van die papier raak te sien. Dit kom van binne – om vrede te hê met wie jy is en wat jy het.

Dan kan jy maar enige plek in die wêreld bly.

LEES OOK: Dít inspireer my! (Hanna Grobler)