’n Nuwe voorkoms maak jou ook binne nuut

0
970

HANNON BOTHMA het van jongs af gesien hoe iemand van binneverander wanneer hulle uiterlikevernuwe. Die Hannon-reeks helpvroue om dit self te beleef.

Ek het nog altyd ’n fassinasie met transformasie gehad. My ma het my na die haarsalon geneem, waar ek kruisbeen op die vloer gesit het terwyl haar hare gedoen word. Terug by die huis het my arme, liewe suster my so vertrou dat sy sou sit sodat ek haar hare kon stileer. Omdat my ma nie baie grimering gehad het nie, het ek eendag sommer met die Koki-penne en vetkryt ingespring.

Transformasie gaan dieper as grimering of klere. Dit was nog altyd vir my merkwaardig hoe iemand met ’n nuwe voorkoms ’n beter weergawe van hulleself word. Soos hulle sê, skoonheid is dalk net veldiep, maar dit is beslis diep genoeg om saak te maak.

Om die beste van die lewe te ervaar, moet jy tyd maak vir oefen, vir werk, vir liefhê en vir familie. Vroeër het ek alles in die oortreffende trap gedoen, maar nou volg ek ’n baie streng program sodat daar tyd is vir alles. My lewe is een van oorvloed. Ek is in ’n baie gelukkige verhouding met die wonderlikste mens en saam het ons ’n baie suksesvolle sakeonderneming.

Soms is iets wat soos ’n agterstand lyk, jou grootste voorsprong. Op die platteland was daar nie baie klaargemaakte produkte nie. Jy moes leer om iets uit niks te maak, veral as jy kreatief was en wou mooi maak. Op ’n stadium het ek ’n rok in ’n tydskrif gesien en wou dit vir my suster maak. Omdat ons nie die materiaal gehad het nie, het ek vadoeke aanmekaar gewerk en die rok daarvan gemaak.

By die haarkapperkollege in die Kaap was die studente om my almal van die stad afkomstig en was hulle hele lewe met stadsdinge omring. Die feit dat ek nog altyd goed self moes maak, het my egter handvaardigheid en visie gegee. Dis nie wie jy is of waar jy vandaan kom wat jou suksesvol gaan maak nie, maar hoe jy jou geleenthede gebruik.

Dit was dieselfde toe ek en Julius die eerste vyf Hannon-produkte ontwikkel het. Die mark was baie kompeterend, vol groot name met groot bemarkingsbegrotings. Ek moes met my vyf produkte in ’n plastieksak van salon tot salon stap. Tog het dit my eintlik ’n groot voorsprong gegee, want dit was ’n geleentheid om kliënte persoonlik te ontmoet en selfs demonstrasies in die salon te doen.

Aanvanklik wou ons net ’n produk ontwikkel wat mense met fyn hare sou help om meer volume te kry. My ma het vreeslike fyn hare gehad, en ek het altyd toegekyk as sy daarmee sukkel. Dit was die een produk waarna ek as haarkapper gesoek het, maar nooit kon kry nie.

Daarom het ons met die konsep daarvoor vorendag gekom toe ons ’n laboratorium besoek het. Daarmee saam het ons vier ander basiese produkte ontwikkel.

Ek sien daagliks nuwe geleenthede raak. Ons ontwikkel meer en meer produkte, want daar is talle mense wat ons nog kan help.

Hannon-produkte is geformuleer vir die uiterstes van Suid-Afrika. Baie ingevoerde reekse word byvoorbeeld in Frankryk gemaak, met sy matige klimaat en lewenstyl. Suid- Afrikaanse vroue bly in baie droë of warm klimaatstreke, soos die Karoo. Hulle het ’n besonder aktiewe leefstyl. Hulle werk, ry in bakkies rond en sweet, maar dit is nog vir hulle belangrik om reg te lyk. Daarvoor kan hulle ons produkte vertrou.

Al is dit my naam wat op die gebou staan, is ons drie vennote. Dis ek, Julius en Annemarie, en elkeen kyk na verskillende aspekte. Met soveel kliënte besef ek dis nie net ons maatskappy nie. Dit behoort eintlik aan elkeen wat een van die produkte in haar handsak ronddra.

Koop Hannon se produkte aanlyn by voelgoedwinkel. co.za/hannon.