“Hansie se dood was my grootste keerpunt”

0
16
STEPHAN JOUBERT

Vra vir Frans Cronjé (48) om homself in drie woorde te beskryf en hy sal sê: “passie, passie en passie”.

Vra vir Frans Cronjé (48) om homself in drie woorde te beskryf en hy sal sê: “passie, passie en passie”. Frans is nie net die voormalige krieketkaptein Hansie Cronjé se ouer broer nie, maar ook ’n man wat met groot entoesiasme Christelike flieks vervaardig (soos Faith like Potatoes) om mense wêreldwyd vir God te wen. Ironies genoeg, was dit Hansie se dood wat hom dié pad laat loop het.

Op die dag van my broer se dood is my roeping geaktiveer

Dit klink seker vreemd, maar Hansie se dood was nie net die hartseerste dag van my lewe nie, dit was ook die dag wat die grootste positiewe impak op my gehad het.

My selfoon het daardie dag, dertien jaar gelede, onophoudelik gelui. Hansie se vlug was vermis. Media, familie, vriende, kennisse… almal wou weet wat aangaan. Ekself het aanhoudend rondgebel om uit te vind, en dan weer my familie gebel om die brokkies nuus oor te dra. Om nie te weet nie is seker die ergste ding waardeur ’n mens kan gaan. Die minute het pynlik stadig verbygetik. En toe kry ek die gevreesde telefoonoproep: “Ek is jammer, Frans. Dis nie goeie nuus nie. Die vliegtuig het neergestort in die berge, maar daar kan dalk oorlewendes wees,” het Gavin Branson gesê, die hoof van die maatskappy wat die vragvliegtuig bedryf het waarmee Hansie daardie nag huis toe gevlieg het. ’n Rukkie later het hy weer gebel en die ondenkbare bevestig: “Ek is só jammer, Frans, niemand het oorleef nie.”

In daardie oomblikke het dit gevoel of ek iets van myself verloor het. My broer was weg. Vir altyd. Ek het geruk soos ek huil.

Ek het nog nooit die Here hardop met my hoor praat nie, maar daardie dag was die naaste wat ek daaraan gekom het.

“Here, ek wil nou nie rebels klink nie,” het ek gebid, “maar ek sou dinge net ’n klein bietjie anders gedoen het. Ek het gedink U sou vir Hansie op ’n baie spesiale manier gebruik het ná alles wat hy deurgemaak het. Daar was soveel profesieë oor sy lewe en toekoms. Maar nou het nie één daarvan waar geword nie! Hoe werk dit?”

En toe antwoord God my baie duidelik met Sy stil, sagte stem, diep in my binneste. “Eerstens, dit is vir niemand om te weet wat môre gaan gebeur nie. Soek eerste My koninkryk en My geregtigheid, en Ek sal vir jou alles gee wat jy nodig het vir môre.”

Sy woorde het my op ’n vreemde manier getroos. Ek kon voel hoe my hande, wat vasgeklem was om die stuurwiel, begin ontspan. My asemhaling het rustiger geraak.

En toe voeg die Here by: “Nog iets…” so asof Hy hier reg langs my gesit het. “Ek het jou geroep om één ding te doen, Frans. Maar jy hardloop rond en doen baie ander dinge, en dit maak jou oneffektief in alles wat jy doen. Dit is hoekom jy uitgebrand voel. Jy probeer God wees, in plaas van om Frans Cronjé te wees. Doen daardie één ding goed, en vertrou my om mense op te rig wat die ander dinge sal doen.”

Ek was ’n ‘Jack of all trades’, maar ‘master of none’

Dit sou moes verander. Ek het my lewe ’n paar jaar tevore vir die Here gegee, en daarmee saam het ek na my lewensdoel begin soek. Hoekom is ek hier?

Ek was nog altyd ’n dromer. My swaer het my al dikwels vergelyk met Josef van die Bybel. “Jy word elke oggend wakker met ’n nuwe droom,” het hy graag gespot. Selfs vandag nog is daar van my vriende wat dink ek is die mees onrealistiese, idealistiese persoon wat hulle ken.

Ek moes begin fokus op die een klein saadjie wat Hy alreeds ’n ruk tevore in my hart geplant het. ’n Vriend het my ná my bekering ’n boek in die hand gestop met die woorde: “Léés dit.” Hy het dit met soveel oorgawe gesê dat ek nie anders kon as om te begin lees nie. Op die voorblad was ’n boer wat met aartappels in sy hande voor ’n John Deere-trekker staan. Die eerste paar bladsye van Faith like Potatoes het my so aangegryp dat ek die eerste die beste kans gebruik het om saam met my vrou na Angus Buchan se plaas toe te ry. Ek moes doodeenvoudig hierdie man ontmoet. Ons het goeie vriende geraak, en die idee het in my kop begin ontwikkel dat ek inspirerende stories soos hierdie een met die wêreld moes deel. Maar ek wou nie net mense help om by die Here uit te kom nie; ek wou hê hulle moet reeds hier op aarde ’n lewe vol avontuur saam met God beleef. Ek het gereken films sal ’n wonderlike medium wees om derduisende mense te bereik en aan te moedig om met passie vir God te leef.

Praat van gróót droom! Ek wou ’n fliekmaker word, maar ek het absoluut niks van kameras en filmwerk af geweet nie.

Gelukkig was my passie groter as my vrees, en eendag in 1999 het ek vir Angus gebel en gesê: “Ek dink ons moet jou boek omskep in ’n fliek.” Hy het gesê hy en sy vrou, Jill, sal daaroor bid. Die volgende oggend het hy teruggebel en gesê: “Boet, dis reg, jy kan die fliek maak, maar daar’s net een ding. Ek dink die hoofrol moet deur Mel Gibson gespeel word.” Hy was doodernstig!

Partymaal moet jy jou droom op die altaar sit en wag vir die regte tyd

God se tyd. Ek was vuur en vlam om flieks te begin maak, maar die Here het my eers op ander plekke en maniere ondervinding laat opdoen.

Die dag van Hansie se dood was my wagtyd uiteindelik verby, maar dit was net die begin van ’n lang, opdraande pad. Dit het sewe jaar van bloedsweet gekos voordat Faith like Potatoes in teaters begin draai het. Suid-Afrikaans vervaardigde films, wat boonop ’n Christelike aanslag het, is nie ’n populêre keuse by teaterbase nie. Toe ek die eerste keer in Hollywood aangeklop het met die teks in my hand, wou niemand my sien nie. Wie wil in elk geval iets van ’n onbekende aartappelboer af weet? Ster-Kinekor en Nu Metro het gesê volgens statistiek sal hierdie tipe fliek 15 000 mense na die teaters toe trek, en net 2 000 DVD’s sal verkoop word. “As julle nie daarvan hou nie, versprei dit self.” Toe doen ons dit self, en oortref alle verwagtings. Meer as 400 000 mense het die fliek op die grootskerm in Suid-Afrika gesien, en meer as 170 000 DVD’s is verkoop. Wêreldwyd het meer as 250 miljoen mense die fliek gesien, in 18 tale, en drie miljoen DVD’s is verkoop.

Met die volgende fliek, Hansie, was dinge nog moeiliker. Ons het op oorsese finansiering staatgemaak, wat deur die mat geval het. Toe sit ons uiteindelik met R36 miljoen se skuld, waarvoor ek as vervaardiger die verantwoordelikheid aanvaar het. Ek werk steeds vandag daaraan om die uitstaande geld in te kry en aan die regte mense oor te betaal.

Maar teëspoed het ook ’n manier om jou met nuwe oë na jou geloof te laat kyk: ‘Gebruik wat jy het, en laat God dit vermeerder.’ Ná die Hansie-fliek, midde-in die resessie, het hierdie sinnetjie ’n baie spesiale betekenis vir my en twee van my vriende (Etienne Janse van Rensburg en Morné Theunissen) aangeneem. Ons was al drie platsak. Letterlik. Ek onthou hoe ek een oggend werk toe gery het en geweet het daar is nie geld vir kos vanaand nie. Toe ek laatmiddag by die huis instap, is my vrou besig om aandete te maak. “En nou?” wou ek verbaas weet.

“Ek het amper vergeet, die rotte is groot genoeg,” het sy gesê. Nee, ons het darem nie rotte geëet nie, maar die kinders het wit rotte as troeteldiere gehad. Elke 25 dae het hulle 12-15 kleintjies gehad, en die jongste werpsel was op dié spesifieke dag groot genoeg om aan die troeteldierwinkel te verkoop – vir R70. Daarmee kon René vir ons kos koop.

Hoe ontdek jy wat jou lewensdoel is?

Ek is onlangs deur ’n kerk in Marienberg in Oos-Duitsland uitgenooi om met hulle gemeentelede, en by skole, te praat oor twee van ons flieks wat daar vertoon is – Hansie en Born to Win. Die kerk bespreek elke maand een van die plaaslike teaters om ’n Christelike film te wys, en hulle wou hê ek moes voor en na die twee flieks met die mense gesels oor die ‘storie daaragter’. Toe die flieks klaar was, was daar nie ’n droë oog in die gehoor nie. Ek moes self die trane wegsluk toe ek begin praat het.

Dit was ’n wonderlike geleentheid om die films as aanknopingspunt te gebruik om met die mense oor die Here te gesels en oor die feit dat Hy ’n doel met ons elkeen se lewe het. Tydens ’n praatjie by een van die skole het ek dit deur middel van ’n tolk só verduidelik: Om agter te kom wat jou doel is, moet jy drie dinge weet: Jy moet jou Skepper ken, die Een wat hierdie doel in jou ingebou het; jy moet Hom vra wat jou spesiale talente en gawes is; en jy moet weet waarvoor jy ’n passie het. ’n Vriend van my het bygevoeg dat ek ook ’n vierde punt moet bysit: Watter onreg in die wêreld maak jou regtig kwaad, kwaad genoeg dat jy bereid sal wees om te sterf net sodat die probleem opgelos kan word?

Wat vir my snaaks was tydens die praatjie, was dat die tolk elke keer die woord ‘passie’ as Leidenschaft vertaal het. Omdat Afrikaans en Duits sekere ooreenkomste het, kan ek min of meer aflei wat die Duitse vertaling van sekere Afrikaanse woorde is, maar Leidenschaft was heeltemal vreemd. Toe ek die tolk na die tyd hieroor uitvra, verduidelik hy dat die woord se direkte vertaling in Engels ‘sufferingship’ is. En daar kry ‘passie’ vir my ’n splinternuwe, veel dieper betekenis! Passie is niks anders as lydenskap nie; dít waarvoor jy bereid is om te ly om ander mense in ’n beter posisie te sit. Hy het gely sodat ons gered kon word.

Om stories te vertel wat inspireer, is mý Leidenschaft. Dís waarvoor ek bereid is om te ly. As ek ander mense kan help om God te ontdek en hulle roeping te aktiveer – soos wat met my gebeur het op die dag van Hansie se dood – dan het ek my lewe op aarde voluit geleef.