Hanteer jou kind se seksvrae só

0
25
seks_vrae_kinders.jpg

Gretha Wiid gee hoop vir elke bekommerde ouer oor wat om te sê van saam bad en vry-insidente op TV.

Wees eerlik en liefdevol wanneer julle oor seks praat

Daar is so baie dinge wat ons as ouers gaan moet wéés en gaan moet dóén om ons kinders seksueel gesond groot te maak. Een van dié belangrikste dinge wat ons moet wees, is deskundiges in kommunikasie. Ons mag nie wegkruip agter die verskoning van “Ek weet nie hoe om met my kind te praat nie, want my ma-hulle het nooit met my gepraat nie”. As jy een só ’n verskoning het, wil ek vra: Jy weet sekerlik hoe om ’n selfoon of rekenaar te hanteer?

Tog het jy nie daarmee grootgeword nie. Nou ja! Jy’t seker op ’n dag besef dat jy gaan agter raak as jy nie kies om te leer nie. Dieselfde geld met praat oor seks. Die enigste verskil is dat jou versuim jou kind nadelig gaan raak. Navorsing het bewys dat kinders met wie daar op ’n liefdevolle en eerlike manier oor seksuele sake gekommunikeer word, tesame met al die emosionele dinge wat ’n kind se kern moet bou, die tieners is wat kies om nie seksueel aktief te verkeer voordat hulle trou nie. Die feit bly staan – kinders loop die hele dag en luister of hulle dalk iets nuuts hoor.

As dit kom by die seksuele inligting wat hulle kry, die dinge wat hulle hoor en die goed wat hulle sien, jy jouself vra: Wie is hulle eerste inligtingsbron? En is jy die gesaghebbende bron?

Dis noodsaaklik om betyds oor seks te praat

Baie ouers dink dat hulle opvoedingstaak rondom seksualiteit afgehandel is as hulle uiteindelik met hul dogtertjies gepraat het oor menstruasie of vir hul seuntjies verduidelik het presies wat masturbasie is.

Seksopvoeding is nie ’n eenmalige gesprek nie. Dit is regtig ’n lewenswyse en ’n lewensbeskouing. Hoe sal die tieners sê? Dit is 24/7! Hoe vroeër jy gemaklik raak met die idee daarvan om met jou kind op ’n natuurlike manier oor sy grootword, sy lyfie en ongemaklike temas te gesels, hoe beter.

Om kalm te bly is die belangrikste

Omdat ons as ouers van nature benoud of skrikkerig is om met ons kinders oor sekssake te gesels, is die natuurlikste ding vir ons om te oorreageer as ons kinders seksuele dinge naboots of met ’n seksuele woord by die huis kom. Jy moet onthou dat kleuters dinge op TV sien of by die maatjies hoor en dit naboots by die huis. Hulle weet meeste van die tyd glad nie eens wat die woorde beteken nie, hulle kom toets dit net.

So moeilik as wat dit is om in sekere situasies kalm te bly, is dit een van die belangrikste dinge wat jy kan onthou. Jy wil tog seker maak dat jou kind openlik dinge sal erken, reg?

[pagebreak]

Praat eerder die waarheid al is hulle klein

Dit baie makliker om eerder vir ’n kleuter te jok as om die moed bymekaar te moet skraap om iets groot en ongemaklik te verduidelik. Die goue beginsel moet wees: Sê eerder minder maar praat die waarheid.

Wanneer kinders ouer word, toets hulle soms hul ouers om te hoor of dié bereid is om die waarheid te praat. As jou kinders weet hulle kan jou vertrou en dat jy selfs in jou ongemak bereid sal wees om die waarheid te praat, sal hulle eendag as tieners hul vriende se opinies by jou kom toets. As kleuters onder mekaar ’n groot woord gehoor het, sal daar een kind wees wat braaf sal sê: “Ek sal vir my ma gaan vra, sy sal vir my sê!” Sal dit nie wonderlik wees as dit jou kind is nie?

Antwoord so gou moontlik, moenie uitstel nie

Met kleuters is dit altyd beter om die vraag so vinnig as moontlik te beantwoord. Ongelukkig laat omstandighede dit nie altyd toe nie. Kleuters het mos ’n manier om die verskriklikste dinge te vra op die mees obskure tye. As die situasie dit nie toelaat nie of jy voel effe ongemaklik, mag jy vir jouself ’n bietjie tyd “koop”.

Sê vir jou kind iets soos: “Liefie, Mamma gaan net gou die inkopies klaarmaak, maar as ons by die huis kom, sal ek en jy weer daaroor gesels” of “Sussa, gaan haal net eers gou-gou vir ons elkeen ’n suigstokkie in die kas en dan kom sit jy hier by Mamma. Dan kan ons lekker gesels.” Jy mag nooit tyd vir jouself koop in die hoop dat jou kind sal vergeet nie. Kinders is nie dom nie. Hulle gaan op ’n dag agterkom dat jy hulle vrae ontduik.

Maak die oomblik ’n prioriteit en luister opreg

As jy agterkom dat die vraag wat jou kleuter vra ’n gewigtige saak vir hom of haar is, is dit so belangrik dat jy bereid sal wees om te stop waarmee jy besig is. Oogkontak is een van die beste maniere om jou kind te laat weet jy luister en dat dit wat hy vra vir jou belangrik is. Hulle moet in sulke oomblikke die liefde, opregtheid en opgewondenheid in jou oë kan sien. Dit is tog net nog ’n manier waarop ons kinders sal weet dat die deur altyd oopstaan vir hulle en dat ons altyd bereid is om te luister. Ons ploeg met hierdie dinge in ons kinders se eiewaarde in