Hanteer ’n kleuter se humeur so

176
Die Naguilklub

Midde-in jou driejarige se tantrum besef jy dat sy alles wat jou in haar irriteer – die houding, die handgebare en die woordeskat – direk van jou af gekry het.

Dit is waarskynlik die grootste uitdaging wat ’n driejarige bied: Hulle het die houding en ’n ontwikkelende woordeskat, maar nog nie die emosionele kapasiteit en volwassenheid om dit met oorleg te gebruik nie. Hulle toets hulle grense en jou geduld.

Dis hier dat ’n ma se rol moeilik raak. Skielik moet jy deur jou kind se nuwe oë na die wêreld kyk. Die vars perspektief skep egter ook talle nuwe geleenthede vir jou om, ter wille van haar, die beste weergawe van jouself te probeer wees.

Om te oorleef, moet jy nie jouself of jou kind te ernstig opneem nie. Kinders sê soms dinge wat seermaak. Onthou, omdat hulle nog nie weet hoe om effektief te kommunikeer nie, is ’n uitbarsting dikwels net ’n manier om uiting aan hulle emosies te gee en frustrasie oor te dra.

Dis jou taak om haar hiermee te help deur haar die gepaste woordeskat en emosionele intelligensie aan te leer. As jy dit kan regkry om geduldig te bly en haar veilig te laat voel, lê jy die fondament vir gesonde kommunikasie in haar tienerjare wanneer geheime, frustrasies en hormone kom saamspeel.

Dit is vir seker ’n uitdaging, maar as jy jouself die geleentheid gun, is dit ’n interessante en leersame rit op hierdie wipwaentjie. Jy sál daardeur kom.

– Juanli Theron, Die Naguilklub

Kliek voelgoed.co.za/naguilklub vir meer videos en artikels.