Hard aan die werk in God se fabriek

Ek verlang dikwels terug na die dae toe ek in die besigheidswêreld was. Ek verlang terug na die mense.

Ek verlang terug daarna om weer in die fabriek te loop en seker te maak alles loop reg. Maar ek moet erken, ek verlang nie eintlik terug na die mense wat nie hulle werk wou doen nie. Daar is mos altyd ’n groep mense wat dink jy skuld hulle iets. Mense wat net mooi die minste doen, maar die meeste geraas maak. Mense wat voor jou ’n klomp goed sê en wil doen, maar sodra jy jou rug draai, doen hulle niks en saai net amok met hul monde. Sulke mense is high maintenance. Hulle het altyd baie energie uit my gesuig.

Ek en jy moet besef dat ons werknemers in God se fabriek is. Ons het elkeen ’n verantwoordelikheid gekry om ons taak hier op aarde te verrig. Sommige se taak is om God se Woord te verkondig. Sommige om ander direk te konfronteer met die ewige lewe. Ander word weer geroep om daar waar hulle is, ’n verskil te maak. Ander weer om alle penne uit te trek en na ’n ver land te gaan. Ja, elkeen van ons het ’n roeping met ’n opdrag. Die vraag is nou net of jy die een is wat die geraas maak en of jy die een is wat skouer aan die wiel sit?

Ons moet dit maar vir mekaar hardop sê dat daar aan die einde gevra gaan word wat ons gedoen het. Hoe lyk die resultate van ons gewoel in God se fabriek, of soos die Bybel sê, God se koninkryk? Lyk God se koninkryk anders omdat ek daar gewoel het?

Hoe lyk dit? Is jy ’n goeie werker wat jou verantwoordelikheid besef? Sal die Baas tevrede wees met jou werk daar in sy fabriek? Ek vermoed hierdie stukkie roep ons op tot selfondersoek en ’n oudit van ons doen en late.