Harte wat die mooi én die hartseer kan raaksien

1175

Eenkeer is ek saam met ’n seun wat pas in een van ons Echo-huise ingetrek het, in die skoolhoof se kantoor. Die kind het vir die soveelste keer stokkiesgedraai en was in groot moeilikheid.

Die hoof was woedend. Selfs ek was bang vir hom. Ek was verbaas om te sien dat dit die seun nie erg ontstel het om op die rooi tapyt te wees nie. My vermoede was dat hy besig was om te wonder wat daardie aand op TV was. “Kan jy volgende keer ten minste net lýk asof jy vir die hoof skrik?” vra ek toe ons uitstap.

Later besef ek dat hierdie situasie een van die kleiner krisisse was wat die seun al in sy kort lewe moes verduur. As jou pa en ma in die tronk sit vir wat hulle aan hulle kinders gedoen het, skrik jy nie so maklik vir ’n skoolhoof se dreigemente nie.

Wanneer jy oor en oor op dieselfde plek seerkry, vorm daar later ’n eelt. Eelte probeer ons beskerm teen pyn. Om dieselfde rede ontwikkel daar dikwels geestelike eelte op ons harte. Soos Pink Floyd sing: “I have become comfortably numb.”

Dexter Palmer beskryf dit in The Dream of Perpetual Motion: “Certain parts of me became a little bit forgotten, a little bit numb, a little bit dead, and it was nice to have some dead places in me for little while, to lose a little bit of my broken mind.”

Soldate vertel dikwels hoe die onmenslikheid van oorlog hulle aanvanklik ontstel het, maar hoe hulle later hard geword het. ’n Manier gekry het om die ontsteltenis uit te doof.

Dit help tydelik, maar dis ook gevaarlik. Die verlies aan iemand se vermoë om empatie te ervaar kan haar hard maak. Waar sy vroeër in ’n fliek gehuil het, kan sy nou in staat wees tot wreedhede wat sy haar nooit sou kon voorstel nie.

Ons leef in ’n samelewing waar ’n ryk vrou, met ’n dagstukkieboek op haar bedkassie en ’n gospel-CD in haar radio, nikssiende verby ’n straatkind ry. En niks vir hom voel nie, want in haar oë is straatkinders mos nie rêrig kinders nie.

Miskien sou dit haar ontstel het as sy van ’n ander land af gekom het en dit vir die eerste keer moes aanskou. Maar nou sien sy dit elke dag. Sy het hard geword deur die jare. ’n Mens kan nie almal help nie, troos sy haarself as daar vir ’n oomblik ’n gevoel opkom – en draai dan net die musiek harder.

By hierdie vrou kry jy iets anders as by die mishandelde kind en die soldaat. Sy het nie afgestomp geraak omdat sy self ekstreme pyn ervaar het nie, maar bloot omdat sy moes toekyk.

Sy is moeg vir al die ellende wat sy deur haar lugversorgde motor se toe venster sien. Moeg vir al die nuusberigte in die koerante en oor die radio. Sy wil ontvlug. Selfs die kerk moet haar help hiermee. Sy gaan Sondae soontoe – nie om uitgestuur te word die wêreld in nie, maar eerder om van die wêreld af weg te kom.

In Esegiël 36:26 sê die Here vir die volk Hy sal hulle klipharte uithaal en hulle weer ’n hart van vleis gee. “My volk het ook daardie operasie nodig!” wou ek dit uitskree toe ek nou die dag weer die teks lees. Ons het hard geword. Ons voel nie die pyn van die wêreld nie. ’n Wêreld met al minder empatie voorspel niks goeds nie.

“The problem is that you can’t numb selectively,” hoor ek ’n Amerikaanse sielkundige nou die dag sê. As ’n mens jou potensiaal om geestelike pyn te beleef, verdoof, verdoof jy ook jou potensiaal om vrede en vreugde te ervaar.

In die Bybel lees ons hoe dinge Jesus ontstel het, hoe Hy mense innig jammer gekry het en selfs gehuil het oor ander se hartseer. Hy het nie gewoond geraak aan mense se pyn en seerkry nie.

Mag die Here ons ook die genade van lewendige harte gee. Mag ons wakker mense wees wat die mooie en die hartseer van die lewe kan aanhou raaksien, eerder as om dit te ontvlug.