hartsiektes moor meer as kanker

0
27

Dit is net oorgewig mans wat hartaanvalle kry. Jy hoef jou nie daaroor te bekommer nie. Jy is immers fiks, maer en gesond. Daar kan tog niks met jou hart verkeerd wees nie. Reg? Verkeerd.

In Suid-Afrika sterf daar elke dag 33 mense aan ’n hartaanval en 60 aan beroerte. Statistiek voorspel dat voortydige hartverwante sterftes in ons land teen 2030 met 41% gaan styg. As jy gedink het net mans kry hartaanvalle, dink weer. Meer vroue oor 25 sterf aan kardiovaskulêre siektes as aan alle tipes kankers saam. Nog skokkender is die feit dat jong vroue wat hartaanvalle kry, se kans om dit te oorleef, kleiner is as mans s’n.

Laat hierdie feite jou hart ’n bietjie vinniger klop? Goed so. ’n Bietjie bekommernis is gelukkig nie sleg nie. Word hartslim, hier is die mites en feite:

 

Mans loop ’n groter risiko om hartaanvalle te kry – mite.

Mans kry meestal hartaanvalle wanneer daar plaak (aanpaksel) in die groot kroonslagare opbou. Die kroonslagare is die dik slagare wat soos ’n kroon om jou hart sit en dit van bloed voorsien. Plaak veroorsaak skeure in die slagaar of laat ’n bloedklont vorm.

By vroue kom die moeilikheid in die kleiner slagare voor as die klein bloedvate styf raak van die plaak en inflammasie. Dit veroorsaak dat minder bloed na jou hart vloei en jy borspyn kry. Hierdie toestand kom vier maal meer by vroue as by mans voor. Dit kan lei tot ’n hartaanval, beroerte, hartversaking en die dood.

Vanaf die ouderdom van 40 jaar loop een uit vyf vroue die risiko om ’n hartaanval te kry. Vroue in hulle middel twintigerjare kan al plaak hê wat in hulle are begin opbou. Moenie wag tot jy 50 is om na jou hart te begin omsien nie!

 

Ek voel nie siek nie, dus kan ek nie hoë bloeddruk hê nie – mite.

Hoë bloeddruk (hipertensie) het dikwels geen simptome nie. Alhoewel dit met medikasie bestuur kan word, het al hoe meer mense onbeheerde hoë bloeddruk. By 90% van pasiënte is die oorsaak van hipertensie onduidelik, maar faktore soos rook, te veel alkohol, oorgewig en swak leefstylgewoontes het ’n invloed.

Dr. Adriaan Snyders, kardioloog van Pretoria, sê: “Dit is uiters belangrik om behandel te word as jou bloeddruklesing bo die “normale” afsnypunt van 140/90 is. Laat jou bloeddruk gereeld meet, veral as daar hartsiektes in jou familie is.”

 

Vir ’n gesonde hart moet my goeie cholesterol hoog en my slegte cholesterol laag wees – feit.

Cholesterol word deur spesifieke draers, naamlik LDL en HDL, in die bloedstroom vervoer. LDL is die “slegte” cholesterol wat laag gehou moet word, terwyl HDL, die “goeie” cholesterol, goed is vir jou hartgesondheid, dus is die antwoord waar.

Vanaf die ouderdom van 20 jaar moet jy jou cholesterol vyfjaarliks laat toets. Doen dit meer gereeld ná 50, of as jy ’n totale hoë cholesterol en lae HDL het of as daar ander risikofaktore is.

Gereelde oefening en genoeg slaap doen wondere vir my hart – feit.

Te min slaap het ’n nadelige invloed op jou gewig en kardiovaskulêre gesondheid, maar dis onlangs bewys dat te veel slaap ook sleg is. Die Amerikaanse Kollege vir Kardiologie het gevind dat mense wat minder as ses uur óf meer as agt uur ’n nag slaap, se harte negatief beïnvloed kan word. Die rede hiervoor is nog onbekend. Maak dus seker jy slaap tussen ses en agt uur per nag.

Jou liggaam is ontwerp om te beweeg. Oefening versterk jou hartspier en dit verbeter weer die bloedvloei. Dit verhoog ook jou HDL (“goeie cholesterol”) en help om jou bloedsuiker en gewig te beheer.

Onthou dat vroue spiermassa verloor namate hulle ouer word. Oefen met gewigte om krag te bou. Gereelde oefening verbeter jou bui en verlaag jou risiko vir hartsiektes.

 

Ek is maer en is beslis nie ’n kandidaat vir ’n hartaanval nie – mite.

Jy is dalk maer, maar sukkel met vetrolle om jou middellyf. Dis hierdie buikvet (appelvorm) wat direk verband hou met jou risiko om hartkwale te kry. Ekstra gewig op jou heupe (peervorm) is nie so gevaarlik nie. Hou jou middelmaat kleiner as 80 sentimeter. Enigiets meer beteken jy het te veel interne vet wat jou organe bedek en dus ’n hoër risiko vir chroniese siektes.

My lang doenlysie kan nie skadelik wees nie – mite.

Baie vroue glo dis prysenswaardig om “die minste” te wees. Werk, man en kinders en die huis kom voor jou eie gesondheid en geluk!

Selfs al voel dit vir jou of jy geen spanning het nie, ervaar jy tog onbewustelike spanning. Dit vererger soos jy ouer word. Jy is ook meer geneig tot depressie – wat jou risiko vir kardiovaskulêre siektes verhoog. Dis daarom raadsaam om van ’n jong ouderdom af na jou geestes- en fisiese gesondheid om te sien, sodat jy makliker siektes wat met ouderdom saamgaan, kan voorkom.

Jou risiko vir hartsiektes raak al groter na die menopouse – feit.

Jou estrogeenvlak daal na die menopouse. Die slegte cholesterolvlak raak hoër, terwyl die goeie cholesterolvlak val en jou bloedvate minder elasties raak. Die vet pak meer om jou middellyf saam as om jou heupe.

Gesels met jou dokter oor die voor- en nadele van hormoonvervangingsterapie. Die Amerikaanse Hartvereniging raai vroue af om hiervan gebruik te maak, maar onlangse studies het bevind dat lae dosisse nie noodwendig skadelik vir jou hart is nie.

 

Te min koolhidrate kan jou hart beskadig – feit.

Jy dink dalk dat jou keuse om minder koolhidrate te eet, gesonder is vir jou hart omdat jy dan gewig gaan verloor. Daar is egter onlangs bewys dat laekoolhidraatdiëte jou cholesterolvlakke kan verhoog en gevolglik jou risiko om hartsiektes te kry, laat toeneem. Hierdie navorsing is in die Nutrition Journal gepubliseer. ’n Laekoolhidraatdieet mag dalk verseker dat jy op kort termyn gewig verloor, maar oor lang termyn bly die gewig nie af nie en jou cholesterol en risiko om ’n hartaanval te kry, word derhalwe verhoog.

Begin vandag nog na jou hart se gesondheid omsien, selfs al het jy geen simptome nie.

 

Bronne: webmd.com; www.lhj.com; www.hearthealthywomen.org; www.thinkred.co.za ; www.florastrongheart.co.za ; www.womenshealth.com

 

DEEL
Vorige artikelons het 95 kg verloor!
Volgende artikelwerkende ma
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.