Helene Bester se baba

0
106
helene bester

Vir 9 maande is Kristi Ellen Theron veilig gedra deur ‘n surrogaatmamma – wat ‘n onselfsugtige daad! Dankie dat jy haar gedra het asof sy jou eie is!!

Ek wil graag Helene Bester se inskrywing gister op haar Facebookblad net so aanhaal. Sy skryf:

Vir 9 maande is Kristi Ellen Theron veilig gedra deur ‘n surrogaatmamma – wat ‘n onselfsugtige daad! Dankie dat jy haar gedra het asof sy jou eie is!! Vandag is sy gebore en ons harte is so bly!!! Dankie dat jul sonder ophou gebid het en dankie vir die ongelooflike ondersteuning. Mag julle almal op hierdie dag ‘n wonderwerk ervaar. Jacques en Helene.

Daar is vir my soveel treffende waarhede in hierdie inskrywing. In die eerste plek bewonder ek die opoffering van een vrou wat bereid was om ʼn baba vir ʼn ander vrou (en haar man) te dra. Dit is regtig ʼn pragtige liefdesdaad. In die tweede plek is dit wonderlik om te sien hoeveel mense hierdie paartjie in hierdie tyd ondersteun het en vir hulle gebid het. Dit is ʼn pragtige getuienis. In die derde plek tref dit my dat Helene die geboorte van hul baba as ʼn wonderwerk beskou. Ons kan seker die hele proses medies verklaar, maar wanneer ons as gelowiges daarna kyk, kan ons nie anders as om dit as ʼn wonderwerk te beskryf nie, want dit is wat dit is. Nog steeds is die hand van God sigbaar in hierdie gebeure, selfs al het mense ook ʼn rol gespeel om dit te laat gebeur.

Die Evangelis skryf soos volg toe Johannes Die Doper gedoop is: Toe die tyd gekom het dat Elisabet se kind gebore moes word, het sy ’n seun in die wêreld gebring. Haar bure en familie het gehoor dat die Here aan haar groot ontferming bewys het, en hulle was saam met haar bly (Luk 1:57-58).

So is ons ook bly saam met Jacques en Helene! Mag hulle baba vir hulle groot vreugde bring!

Hennie Stander