Help, ek is nie lus vir seks nie

0
23
seks.jpg

Die probleem kom in wanneer jou seksdrange so laag daal dat jy wonder of jy ooit weer lus gaan wees vir seks.

As jou lus taan

’n Gebrek aan seksuele begeerte kan aan sielkundige of aan fisiese oorsake toegeskryf word. Simptone sluit in: verlies van daardie seksuele vonk, min of geen begeerte om seks te inisieer en ’n weersin in seks. Oorsake sluit die volgende in: moegheid, depressie, die gebruik van antidepressante, psigologiese blokkasies, spanning en algemene ongelukkigheid in die verhouding.

Hier is moontlike oplossings:

Die waarde van nie-seksuele fisieke kontak kan nooit onderskat word nie – doen moeite met sensuele saamwees en vat gereeld aan mekaar. Drukkies en soentjies help om die hormoon oksitosien af te skei wat die sekslus kan aanwakker.

Dis ook belangrik dat jy goed voel oor jouself. Doen moeite met daardie sexy onderklere, bederf jouself af en toe met ’n salonbehandeling en aanvaar jou Godgegewe liggaam en seksualiteit. Kry jou kop reg – jou belangrikste seksorgaan is jou brein – en geniet seks met jou man, want dis die sement vir jou huwelik!

Leer ken jouself

Leer intimiteit aan deur intiem met jouself te wees. Beantwoord die vrae en ontdek jou vlak van selfintimiteit:

1.   Aanvaar ek alles van myself, selfs my stryd met gesindhede en gedragspatrone wat ek wil verander?

2.   As ek depressief voel, ignoreer ek my innerlike gedagtes omdat ek bang is dat wanneer ek myself beter ken, dinge erger sal wees?

3.   Voel ek opgewonde wanneer ek dinge oor myself ontdek waarvan ek nie bewus was nie?

4.   Soek ek hulp by ander om my probleme namens my op te los?

5.   Is ek gretig om aan nuwe aktiwiteite deel te neem wat my sal help om te groei?

6.   Is ek bang dat daar binne my aaklige gedagtes en gevoelens is wat, as ek dit deel, my van ander kan isoleer?

As jy “ja” op die vrae by onewe getalle geantwoord het, is jy goed op pad na selfintimiteit.

Slaan jou man se voete onder hom uit!

Ons het almal die potensiaal om ’n seksuele godin te wees. Ons brein is een van die belangrikste seksuele organe, so begin om reg te dink. As jy een keer per week seks inisieer, sal dit julle sekslewe definitief verbeter omdat jy daaroor begin dink en daarvoor beplan.

  • Skep die regte atmosfeer – As jy jou oë oopmaak in die hitte van die oomblik, moet jou blik nie op ’n vergete speelding val nie.
  • Kamp uit – Bel hom by die werk en sê vir hom jy het ’n liefdesnes (’n tent of kussings) agter in die tuin gemaak en jy wag vir hom daar.
  • Die skootdans – Jy dans baie sexy en vly jouself op sy skoot neer. Hy mag nie aan jou raak nie, maar jy mag aan hom raak. Jy kan skrapse onderklere dra, maar hy moet ten volle geklee wees en onthou jy is in beheer.


Maak tyd!

Waarom het paartjies wat saam bly en saam slaap elke aand nog steeds afsprake en rituele nodig? Juis omdat hulle saam bly en saam slaap! “En hulle het vir altyd gelukkig saam gelewe” is ’n mite. Ons moet hard werk aan ons verhoudinge en genoeg kwaliteit tyd saam deurbring. Jy sal dalk ’n paar praktiese meganismes in plek moet kry om seker te maak dat julle as ’n paartjie saam tyd spandeer.

  • Spandeer elke dag 30 minute alleen saam om seker te maak julle bly in voeling met wat in mekaar se lewens aangaan.
  • Doen elke dag iets spesiaal vir mekaar – iets wat sê: “Jy is spesiaal, ek dink aan jou”.
  • Maak ’n weeklikse afspraak met mekaar en doen iets wat julle al twee geniet.
  • Breek ten minste een keer per jaar weg vir ’n romantiese naweek.